July 10, 2020

July 9, 2020

July 8, 2020

July 7, 2020

July 6, 2020

July 3, 2020

July 2, 2020

July 1, 2020

June 30, 2020

June 29, 2020

Please reload

Recent Posts

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

September 13, 2017

 Volgens oorlewering die "Bovertrek" in Jerusalem waar die paasmaaltyd genuttig was. 

 

JESUS WAS DIE VOETE VAN SY DISSIPELS (1) – KONINKLIKE DIENSBAARHEID!

 

Joh. 13:1-5 – “Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe lief gehad. Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader alles in Sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.”

 

Die paasfees is op hande en Jesus het Sy sending na die wêreld, afgesluit. Die Vader het die Seun na die wêreld gestuur om die liefde van die Vader te openbaar (Joh. 3:16), en nou nader daardie taak sy voltooiing en het die tyd gekom dat Jesus na die Vader “oorgaan”. Die “oorgaan” beteken dat Hy sy werk ten opsigte van die wêreld voortsit, maar voortaan vanuit die hemel, aan die regterkant van die Vader. Die tyd, die uur wat voorheen nog nie daar was nie, het gekom, en Hy weet dit vooruit. In volkome gehoorsaamheid bring Jesus die heilsplan van die Vader tot uitvoering, al weet Hy van die verskrikking van die kruis wat op Hom wag.

 

Dit is uit liefde dat Jesus na die aarde gekom het, maar “Sy eie mense”, die Jode, het Hom nie aangeneem nie. Hy is klaar met hulle en wend Hom nou tot die klein kring van “Sy eie mense”, die nuwe volk van God, die kerk, wat in daardie stadium deur die dissipels verteenwoordig word. Hulle is “in die wêreld”, in die aardse bestaan maar ook omring deur die “wêreld” waartoe die onbekeerlike Jode behoort. Aan hierdie “eie mense” bewys Jesus sy liefde “tot die uiterste toe”, letterlik “tot die einde”, toe.

 

Johannes meld niks in hierdie gedeelte van die geleentheid of aard van die maaltyd nie, net dat “Jesus en sy dissipels aan tafel was.” Dit word egter aangeneem dat dit dieselfde geleentheid is wat die ander drie Evangelies beskryf as die paasmaaltyd, waar die instelling van die nagmaal plaasgevind het. Alles is gereed in die bovertrek en die paasmaaltyd is voorberei (Mark. 14:15-16; Luk. 22:12-13). Selfs die gewone waskom, kruik met water en doek is by die deur geplaas, spesiaal om die gebruiklike stof van hulle voete af te was voor hulle aanlê by die tafel. Die gebruiklike slaaf wat dit moet doen is egter nie daar nie, een van die dissipels sal dit maar moet doen. Almal neem hulle plekke in by die tafel. Niemand is bereid om die taak van ‘n slaaf te vervul nie, inteendeel, hulle het begin redekawel oor wie die belangrikste dissipel is (Luk. 22:24).

 

Jesus het miskien oor die tafel gekyk na Sy dissipels, die binnekring van Sy volgelinge, en gewag vir een van hulle om aan te bied om hulle voete te was, die werk van ‘n heidense slaaf aan te neem. (‘n Joodse slaaf kon weier om dit te doen). Op hierdie draaipunt in Sy lewe, die doel van Sy menswording, wys Jesus sy liefde tot die uiterste toe vir Sy eie mense: “Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe lief gehad.” Hy wag ‘n rukkie. Niemand het al aangebied om die werk van ‘n slaaf oor te neem nie. Jesus het reg op die ereposisie: “Hy het geweet dat die Vader alles in Sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan”, maar in teenstelling daarmee, neem Hy die allerlaagste posisie, dié van ‘n slaaf, trek Sy bokleed uit, maak ‘n handdoek om Hom vas en begin Sy dissipels se voete te was.

 

Jesus Christus was nederig en gewillig om Sy regte prys te gee om ons Vader te gehoorsaam en mense te dien. Omdat ons daardie unieke deel van Christus is, kan Sy gedagtes ons gedagtes word en Sy gesindheid, ons gesindheid. Christus moet nie net aanbid word vir alles wat Hy is nie, ons moet soos Christus word! As ons met ‘n “Christushart leef”, behoort ons Sy nederigheid, sagmoedigheid, ootmoed, beskeidenheid, bedagsaamheid, minsaamheid, teerheid en lieftalligheid uit te straal. Dit was alles kenmerke van Jesus, wat geweet het Sy dissipels gaan Hom verlaat, verloën en selfs verraai. Hy het aangehou om vir hulle lief te wees, ten spyte van hulle swakhede en onbetroubaarheid. Die beginsel wat deur Jesus geskep is lank gelede, bly vandag nog waar en effektief. Niemand is te belangrik om iemand anders se voete te was nie!

 

      “Liefde haal die maskers af wat ons vrees ons nie sonder kan lewe nie, en dan ontdek ons dat        ons nie binne hulle kan lewe nie” (James Baldwin).

 

Gebed: Here, U ken my soos ek is want niks is vir U verborge nie. Dankie dat U my steeds liefhet, ten spyte van al my swakhede. Dankie dat U my in besit neem, my as’t ware “gevange” neem om nuut gemaak te word, sodat ek aan U behoort. Verander my uitkyk, hoogmoed, onbedagsaamheid, ekkigheid, hardekwas-geit, my alles, want ek wil deur die genade van ons Vader, dieselfde gesindheid van U toepas. Amen.

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.