top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE TYD VAN SY VERHEERLIKING HET GEKOM (4) – NET EEN SLEUTEL!


Joh. 12:34-36 – “Die mense sê toe vir Hom: ‘Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?’ Toe sê Jesus vir hulle: ‘Nog net ‘n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.’ Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.”


Vergelyk ook Dan. 7:14 – “Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.”


Die mense wat by Jesus was, is verward en onseker. Volgens hulle opvatting van die “wet” skyn hier ’n teenstrydigheid te wees, aangesien Jesus praat van die Seun van die mens wat sal sterwe terwyl die “wet” sê dat die Messias nie sal sterf nie (vgl. Dan 7:14). Gevolglik meen hulle dat as Jesus verklaar dat die “Seun van die mens moet sterf”, en die woord op Hom toepas, kan Hy nie die Messias wees nie. Sy koningskap het gesterf nog voor dit begin het? Die Messias sal immers nie sterf nie. Sou Jesus miskien met “die Seun van die mens” iemand anders as “die Messias” bedoel?


Jesus antwoord nie direk op die vraag van die mense nie maar verwys na die toestand van geestelike duisternis waaruit die vraag voortkom. Hy is die lig van die wêreld (8:12) en het as die ware lig gekom om verligting van verstand en hart te bring (1:4,9), maar nou blyk dit dat die duisternis verhinder dat die mense Hom erken (1:5 en 1:10). Daar is egter vir hulle nog geleentheid om tot die lig te kom, hoewel daardie geleentheid nou baie kort geword het. Jesus sal nog maar enkele dae onder die mense verkeer voordat Hy gevange geneem sal word. Die vermaning kom dus met groot dringendheid dat die mense in die lig moet wandel; hulle moet hulle lewe geheel en voortdurend rig volgens die leer en voorbeeld van Jesus. Iemand wat dit nie doen nie, bly in die duisternis en “hy weet nie waar hy gaan uitkom nie”, omdat daar geen helder doel of verligte lewenskoers vir hom is nie. Jesus se laaste woorde aan die skare is ’n oproep om te glo en daarna het Hy sy openbare prediking afgesluit.


Jesus het Hom bekend gestel as die lig (8:12; 9:5), maar hierdie lig kry betekenis in die lewe alleen deur die geloof. In die verhouding tot Jesus kom dit aan op die voortgaande, volhardende geloof. Hierdie geloof bring ’n eenmalige en finale verandering in die lewe: so iemand word ’n “kind van die lig” omdat sy hele lewe voortaan deur die lig bepaal word. Daarom het ons gelowiges in Christus, ‘n hoë status by God want ons is uit die duisternis van sonde gered tot die lig – “Julle, daarenteen, is die uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9).


Hoekom het Jesus aarde toe gekom? Wanneer hierdie vraag gevra word is die antwoord gewoonlik: Om ons sondaars te kom red. Dit is natuurlik die regte antwoord. Wat ons wel kan byvoeg is dat God gesien het die mens is vasgevang in ‘n greep van sonde – ‘n doodloopstraat in die donker, op pad na die dood as finale adres!!! “Die mens wat sondig, sal sterwe. ‘n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en ‘n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens My wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra” (Eseg. 18:20). Dit is die pad van die donker “terwyl ons die Lig het, daarom moet ons in die Lig glo, sodat ons mense van die Lig kan wees.” Álmal wat dus in die ewige Lig glo, is Christus se getuies. Ons het die opdrag ontvang om hulle wat nog in die donker rond ploeter, te vertel van die Lig (Matt. 28:19), te vertel dat “dit nie God se wil is dat die mens moet sterf nie, maar dat hy hom moet bekeer en bly lewe” (Eseg. 18:32).


Martin Luther het een aand by sy venster uitgekyk na die sterrehemel wat God in die hemelkoepel gespan het. Hy kon geen sigbare pilare sien wat die uitspansel ondersteun nie, en tog het die hemel nie ingetuimel nie. Hy het in stilte God se Almagtigheid bewonder en gedink dat daar tog mense is wat hierdie pilare soek. En wanneer hulle misluk in hul soektog na die pilare, beweeg hulle in vrees asof die hemel enige oomblik gaan intuimel. Hulle probleem is dat hulle nie kan begryp dat geloof die ondersteunende fondament is nie. Dit het hom by sy definisie van geloof uitgebring: “Daar is twee soorte geloof – geloof omtrent God; ek glo alles wat oor God gesê word wat eerder ‘n vorm van kennis, as geloof is. ‘n Geloof in God beteken om my volle vertroue in God te plaas, my daartoe verbind om met Hom te praat en sonder twyfel gló, dat Hy sal wees en doen volgens al die dinge wat oor Hom gesê word. Hierdie soort geloof werp homself op God, in lewe en in dood, en dít is die geloof van ‘n Christen!”


Daar is net één sleutel wat die slotte by die hemelpoort oopsluit – Geloof in Jesus Christus – dit is die ondersteunende fondament! Geloof is dié emosie wat ons Christene se hele lewe omvou. Ons is Jesus se getuies en Hy het hierdie sleutel aan ons as Sy verteenwoordigers, toevertrou, en deur God se genade, as ‘n gawe ontvang. Ons moet die sleutel dus gebruik om die deure, in Christus se Naam, by hulle wat nog in die donker is, oop te sluit sodat hulle ook die ewige Lig kan ervaar en by die regte adres in die hemel uit kan kom.


“Geloof is om vandag te leef vanuit die ervaringe van gister en met die hoop op die beloftes wat môre nog in vervulling moet tree” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Here Jesus, skenk my die genade en krag om in gehoorsaamheid aan U opdrag, met vrymoedigheid, U liefde vir hulle wat nog in die donker rond ploeter, van die Lig te vertel. Dankie dat ek wéét dit nie onmoontlik is om te doen nie – Paulus het eeue gelede al vir my gewys dat hy blind geword het terwyl die donkerte nog in hom was en onmiddellik van U kon begin getuig toe die Lig vir hom aangegaan het. Help my om my geloof in U uit te leef in alles wat ek doen en sê. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page