top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE TYD VAN SY VERHEERLIKING HET GEKOM (3) – SEKERHEID VERVANG SPANNING!


Joh. 12:27-33 – “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!’ Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: ‘Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.’ Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê: ‘’n Engel het met hom gepraat.’ Toe sê Jesus: ‘Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld, die Satan, nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê en ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.”


Johannes beskryf nie Jesus se gebedsworsteling in Getsemane nie, maar in die plek daarvan stel hy hierdie uiting van sielesmart, die diepe ontroering wat Hy op daardie oomblik beleef. Jesus praat met Homself wanneer Hy verwys na “hierdie uur”, die tyd wat nou vir Hom gekom het waarin Hy die uiterste lyding moet tegemoet gaan. Niemand wil sterf op 33 jarige ouderdom nie en veral nie aan ‘n kruis nie. Jesus bevind Hom nou spreekwoordelik “in die skadu van die kruis” en erken dat Hy, as mens, nie verby die ontsteltenis daarvan kan kyk nie. Die vrae wat Jesus stel, beteken egter nie dat Hy in twyfel verkeer of aan ontvlugting dink nie, want Hy antwoord onmiddellik Homself en onderwerp Hom aan die Vader, deur Sy bereidwilligheid om die wil van Sy Vader te doen, te verklaar.


Daar is vir Jesus geen ander pad om te loop nie, daarom vra Hy dat die Vader Sy plan moet laat verloop soos dit moet. Jesus se spanning maak plek vir sekerheid, Sy lot laat Hom nie terugdeins nie. Die “stem uit die hemel” bevestig soos voorheen, God se teenwoordigheid: “Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My” (Mark. 1:11); “Dit is My geliefde Seun. Luister na Hom” (Mark. 9:7b). En nou bemoedig Sy Vader Hom vir die soveelste keer: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Jesus is séker dat Sy kruisdood en opstanding, ‘n neerlaag beteken vir satan, “die owerste van hierdie wêreld word uitgegooi buitentoe”. Jesus se vernedering aan die kruis beteken gevolglik, ‘n triomftog vir al Sy volgelinge. Satan kan maar net magteloos toekyk hoe Jesus die gelowiges “na Hom toe trek.”


Wat Jesus gedoen het, het Hy vir elke gelowige gedoen. Hy stuur ons nêrens sonder die nodige aanwysings nie. Wanneer Hy ‘n taak aan ons opdra, los Hy ons nie maar net aan ons lot van menslike swakheid oor nie, hy gee ons die nodige insig en krag om dit te voltooi. Hy bemagtig ons gewone mense wat daagliks met hulle eie selfsugtigheid stry, om op Sy triomftog te loop terwyl satan maar net magteloos kan toekyk. Ons moet egter bereid wees om aan onsself te sterf soos die koringkorrel. Satan se besetting van die mens word dan opgehef en ons “ontkiem” in ‘n nuwe mens wat die blyplek word van die Heilige Gees – “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en die dat die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 6:19). Ons is nou in Christus – “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor. 5:17) en in die Gees – “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13).


Die storie word vertel van ‘n jongman wat vir die bekende evangelis, Dwight Moody, gevra het wat dit beteken om aan jouself te sterf. Moody het hom na ‘n begraafplaas geneem, by een van die grafte gaan staan en vir hom gesê: “Sê hierdie persoon wat in hierdie graf is sleg.” Die verbouereerde jongman wou aanvanklik nie maar het later ‘n paar negatiewe aanmerkings stotterend ge-uiter. “Goed, prys hom nou en vertel hom hoe goed hy is.” Die jongman was nou éérs verbouereerd maar het uiteindelik dit reggekry om die dooie ‘n paar veë met die heuningkwas te gee. “Wat het hy gedoen toe jy hom sleggesê het, en wat het hy gedoen toe jy hom geprys het?” “Niks nie meneer Moody, hy is dan dood!” Moody het tevrede geantwoord: “Dit is wat dit beteken om aan jouself te sterf, om dood te wees vir die self!”


Die verleiding van die wêreld en satan se aanslae bly ongelukkig steeds realiteite in elke gelowige se lewe. Die sterf aan jouself soos die koringkorrel, ontkiem en groei in oorwinning oor die sonde want Jesus “het almal na Hom toe getrek.” Wanneer Jesus ons “na Hom toe trek”, doen Hy ‘n beroep op ons om ons kruis op te neem en Hom te volg. Dit beteken om self “gekruisig” te word sodat die ou lewe, die ou self wat altyd soek na populariteit, gerief, eie wil, vervang word met God se wil en toe te laat dat Jesus Christus se opstandingslewe in, en deur die ekkigheid kan werk. Dit is nie genoeg om ‘n goue kruisie om die nek te hang en te dink alles is nou wel nie. ‘n Nekkruisie lyk miskien mooi maar dit bring nie die nodige skeiding tussen die ou en nuwe menslike natuur nie. Jesus se kruis beteken ‘n dieper verhouding met God! Jesus het “juis hiervoor gekom, vir hierdie uur, sodat ons Vader se Naam verheerlik kan word!” Laat God jou vreugde wees. Saai jou lewe in die hemelse landerye en wees verseker van ‘n oes van ewige vreugde!


“God's will meant the Cross and Jesus had to nerve himself to accept it” (Johann Bengel).


Gebed: O Gees van God, laat die kruis elke dag ‘n muur tussen my en sonde bring. Dankie Jesus dat U aan die kruis my sondesmet afgewas het met U bloed. Die grootste wonder van U was die redding van my siel. Ek glo dit met my hele krag en verstand! Laat U kruis dieper in my gaan, vorm my totale menswees: hoe ek kyk na dinge om my, hoe en wat ek praat, verander my gedrag en denke sodat dit tot gevolg het dat ander U, in en deur my optrede sien. Laat my as ‘n Jesus-mens, met liefde in my hart en op my lippe leef. Vervang my wil met God se wil en laat Jesus Christus se opstandingslewe in, en deur die ekkigheid werk. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page