top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE TYD VAN SY VERHEERLIKING HET GEKOM (2) – VERHARDING OF ONTKIEMING?


Joh. 12:23-26 – “Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dit verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.”


Vergelyk ook 1 Pet. 1:3 – “In Sy groot ontferming, het God ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.”


Jesus antwoord nie Filippus en Andreas oor die versoek van die Grieke wat Hom wou sien nie. Jesus rig Sy uitspraak aan “hulle”, die dissipels, asook aan elke persoon wat Hom in die geloof aanvaar, insluitende die Grieke. By wyse van ‘n voorbeeld verduidelik Jesus wat met Sy sterwe en opstanding gaan gebeur. Soos ‘n koringkorrel in die grond eers moet sterf om dan geboorte te gee aan ‘n plant wat dan baie koringkorrels voortbring, moet Jesus eers sterf sodat baie kan voortleef, en dit sluit die Grieke wat Hom wil sien en elkeen wat in Hom glo, in.


Een Graankorrel word in die grond geplant en water gegee sodat dit kan ontkiem, een koringstingel kom dan op en het ‘n gemiddelde van twee koringare. Elke koringaar het weer gemiddeld 452 koringkorrels aan. Uit een koringkorrel wat geplant is word dus gemiddeld 904 koringkorrels geproduseer! Jesus vergelyk Homself met so ‘n koringkorrel. Soos 'n koringkorrel in die aarde moet gaan en sterf voordat dit in nuwe lewe uit die grond kon opskiet, so moes Jesus eers verneder word tot in die graf om as Verheerlikte weer te kon lewe en dié wat “Hom wil dien en Hom wil volg”, insluit. Uit Sy dood kom die lewe; na die nag kom die dag; na die winter kom die lente; na die sterwe kom die opstanding!


Ons het dus ‘n keuse om die koringkorrel te plant, nat te gooi en te laat ontkiem. As Christene glo en bely ons ook dat ons eendag sal opstaan want Jesus se opstanding is vir almal wat in Jesus Christus glo, ‘n waarborg dat ons ook eendag uit die graf sal opstaan om vir ewig te lewe. Jesus se opstanding en ons opstanding is egter nie iets, iewers vorentoe wat ééndag gaan gebeur nie. As ons só redeneer dan leef ons eintlik om dood te gaan, om dan eendag, weer te kan opstaan. Wat gebeur nóú, terwyl ons leef, wat is die nut wat Jesus se opstanding het vir die nóú en die híér? Paulus gee vir ons die antwoord: “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God” (Kol. 3:9-10). Soos ons eendag sal sterf en opstaan, so moet ons elke dag sterf en opstaan – ons moet dus elke dag die ou mens met sy slegte gewoontes en sondes begrawe, en as ‘n nuwe mens soggens opstaan.


‘n Ander keuse is natuurlik om die koringkorrel nie te plant nie. Dit bly dan soos hy is – ‘n harde buitekant met ‘n sagte binnekant waar sy ontkiemingskrag lé maar ‘n ontkieming wat nie gaan plaasvind nie. ‘n Saadjie wat maar so deur die lewe sluimer en geen vrug dra nie. Om te kan groei het die saad son, water en voedingstof nodig – alles verkrygbaar by die “hemel se Koöporasie.” Wat het ek nodig om my sluimerende geloofslewe te laat groei – wat sou moes sterf in my sodat ek in hierdie lewe, ‘n voller lewe kan lei? Die mens is geneig om te verhard en later word dit ál moeiliker om op God se stem te reageer en die “liefde vir Sy huis verteer” ons nie meer nie. Ons kom wel gedurig onder die geklank van die lewende Woord maar dit is asof dit ons onbeïndruk laat – die saadjie ontkiem nie, dit bring nie transformasie mee nie! Wanneer ons die “ontkieming” van ons eie lewe in oënskou neem, gaan dit nie soms oor jóú geloof in plaas van jou gelóóf nie?


Geniet God nog voorrang in ons erediens of het dit ‘n ritueel geword? Na ‘n “treffende boodskap dominee”, of “jou boodskap het vandag weer diep gesny, dankie dominee, ons het dit weer nodig gehad”, draai ons weg huis toe, trek ons “kerkbaadjie” uit, drink ‘n koppie tee, braai ’n vleisie, vee monde af, en ... leef maar weer voort soos altyd. Ons gewete is immers gesus tot volgende Sondag se diens. ‘n Kors van verharding het nog ‘n lagie bygekry op die “saadjie”. Gaan dit nie soms oor ons eie voordeel nie? Stap ons nie maklik uit die erediens uit in ‘n wêreld waar ons maar net weer met ons alledaagse sondige lewe voortgaan nie? Jesus wil dat die saadjie ontkiem, sodat God beleef en geleef kan word, ons vrywillig Jesus volg en Hom as volgeling dien, na die Woord luister en gaan doen wat die Gees vra sodat “n groot oes ingebring” kan word.


“Baie mense gebruik Jesus en die kerk soos baie met ‘n bus maak, hulle gebruik dit net wanneer dit in hulle rigting gaan” (Dale Campbell).


Gebed: Heilige Jesus, help my om deur U Gees ontslae te raak van ‘n sluimerende geloofslewe. Maak my bereid om U te volg en U te dien met alles wat ek is en het. Laat my ontkiem sodat ek kan vrug dra wat U behaag. Soos die natuur nou oral nuwe lewe sigbaar maak, bely ek my geloof in die wonder van die opstanding. Dankie Heer dat U my verseker dat die lewe oor die dood triomfeer, dat ek nóú moet leef want die dood is eintlik net nog ‘n fase van die lewe. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page