top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE BESLUIT OM LASARUS OOK DOOD TE MAAK – RAAK ONTSLAE VAN DIE GETUIENIS!


Joh. 12:9-11 – “Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak, omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.”


Matt. 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”


Die berig dat Jesus in Betanië was, het gou “baie van die Jode” daarheen gelok. Aangedryf deur nuuskierigheid gaan hulle na Betanië om Lasarus wat uit die dood opgewek is, daar te sien. Hy was immers die lewende getuie dat Jesus Godswonders verrig! Baie kom dan ook tot die oortuiging dat Jesus God se Gestuurde en Gesalfde is. Die owerpriesters, wat Sadduseërs was en nie in die opstanding geglo het nie, het dubbel besorg geraak oor die verloop van sake. Hulle aanhangers het in Lasarus die bewys gesien dat daar wel ’n opstanding uit die dood was, en gevolglik het hierdie mense hulle leiers die rug toegekeer. Lasarus was vir hulle ’n teken van die goddelike mag van Jesus en dit het gelei tot geloof in Jesus.


Die Sadduseërs was van die welgestelde aristokratiese klas, wat in noue samewerking met die Romeinse leiers gewerk het, en daarom hulle gemaklike leefstyl wou handhaaf. Hulle het gevolglik Jesus gesien as ‘n moontlike leier van ‘n rebellie onder die volk wat hulle waardigheid, gerief en gesag sal ondermyn. Hy is dus nie deel van hulle “grondwet” nie en sal moet sterf.


Dan was daar Lasarus wat ‘n lewende getuie was van God se “mag sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (11:4). Lasarus leef nou ‘n nuwe lewe en sy getuienis dat hy leef, gee aan God die eer. Sy oortreding is dus dat hy leef – daarom besluit die priesterhoofde dat hy weer sal moet sterf sodat alle getuienis van die opstanding uit die dood, uit die weg geruim is.


Daar is vandag baie “Lasarusse” wat ‘n besliste keuse gemaak het om as ‘n lewende getuie vir Jesus te leef. Mense wat Jesus se stem gehoor het soos Lasarus en sonder huiwering opgestaan het en net so hulle ou leefwyses agtergelaat het. Maklik is dit egter nie want dit verg baie opofferings van ‘n mens. Dit is ook nie altyd ‘n maklike keuse nie en baie ongewild. So ‘n oorgawe vra ‘n absolute gehoorsaamheid aan Jesus se reëls en jy doen dit uit dankbaarheid, nie sleepvoetend met nog “doodsverbande” om jou bene nie, maar met oorgawe. Alleen, is dit ‘n saak van onmoontlikheid maar met die leiding en krag van die Heilige Gees, is alles moontlik.


Vervolging vererger wanneer daar nie gedeel word in ander se korrupte lewenswyse nie. ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die ongelowige staan dan skielik alleen wanneer “almal” Christene is of word. Die vervolgers se gode is hul sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges.”


Dissipels met hulle getuienisse word verag want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer ongelowiges die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is só diep ingedompel in hulle verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie: “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20).


Hulle haat die lig en wil dit afgesit hê maar wil dit nie self afsit nie. Hulle soek fout by gelowiges en verander die waarheid om ander op te sweep sodat die lig uitgedoof kan word. Hulle val die getuie aan om die getuienis uit te wis! Hulle haat die gelowiges want die gelowiges het hulle aan die lig ontbloot!


“The way to heaven is by way of thorns and blood” (Thomas Watson)


Gebed: Here, wanneer ek rondom my kyk, lyk die wêreld deurmekaar. Die wêreld gaan gebuk onder skrikwekkende misdadigheid en haatdraendheid. Ek besef dat my stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Dankie Here dat ek egter ook weet dat U Gees wat in my woon, magtiger is as die gees van die wêreld. Laat my stil word voor U en my opnuut toewy aan U. Laat my die goeie stryd stry om mense wat in die donker is, na die Ewige Lig kan lei. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page