top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE JOODSE RAAD BESLUIT OM JESUS DOOD TE MAAK (3) – JESUS WORD VOËLVRY VERKLAAR

(Vergelyk ook Matt. 26:1-5; Mark. 14:1-2; Luk 22:1-2)


Joh. 11:53-57 – “Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na ‘n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels ‘n rukkie gebly. Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig. Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: ‘Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?’ Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kon neem.”


Vergelyk ook Mark. 14:1-2 – “Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ‘n plan om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: ‘Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”


Kajafas se raad het die finale deurslag gegee wat eintlik die Here Jesus se dood verseël het. Niemand bevraagteken die politieke beleid wat deur die hooggeplaasde kerkmense geneem is nie. Selfs die priesterhoofde, ook kerkmense, plaas die volk onder druk om Jesus uit te lewer. Almal soek vandat daardie Sanhedrin-vergadering gehou is, na weë om hulle besluit ten uitvoer te bring sodat Jesus moet sterf.


Die gevolg van die besluit om Jesus dood te maak, was dat Hy in Jerusalem en in Judea nie meer openlik kon beweeg nie. Hy kon nie Homself maar net te eniger tyd laat uitlewer nie, want Sy Vader het 'n spesifieke tyd vir Sy offerdood bepaal. Daarom gaan Hy in die rigting van die woestyn “na ‘n dorp met die naam Efraim”, waar Hy en Sy dissipels in stilte en in tydelike veiligheid, in afsondering verkeer.


Die tyd vir die paasfees het meegebring dat baie pelgrims vroegtydig na Jerusalem gegaan het om volgens hulle ritueel, te reinig sodat hulle aan die fees kon deelneem (vgl. Num. 9:11). Hierdie mense het in die voorhof van die heidene in die tempel saamgedrom of rondgestaan en gesels. Daar word die vraag herhaaldelik gestel of Jesus na die fees toe sou kom – Sy Naam was op almal se lippe, veral ná Lasarus se opstanding uit die dood – dalk doen Hy weer wondertekens. In die verlede het Hy getrou gekom, maar die Joodse leiers het nou só vyandig geword en wil Hom gevange neem, daarom is daar onsekerheid of Jesus dit sou waag om die fees by te woon.


Dit klink asof hierdie verse maar net 'n historiese verslaggie is van wat gebeur het voor Jesus se kruisdood en miskien wonder sommige mense wat beteken dit nou eintlik? Sommige sal selfs reken dat ons gelukkig nie soos die Joodse Raad optree nie en hierdie verhaal nie regtig van toepassing is op ons nie. Johannes hou hier ‘n spieël voor ons en herinner ons daaraan dat dit vroom en godsdienstige mense is wat Jesus gevange geneem en gekruisig het. Mense met ‘n vaste sisteem van reg of verkeerd, kerkmense, net soos ons. Is daar nie dalk iets van die Joodse Raad wat in sommige van vandag se mense, deurskemer nie?


Nooit, ons wil nie vir Jesus doodmaak nie! Maar, maak ons nie dalk soms Sy werk ongedaan nie? Oordeel ons nie dalk ander op grond van stories wat aangedra word nie? Is ons betrokke by die nood en ellende van ons naaste? Drentel ons nie maar net lui-lui agter Jesus aan nie, of leef ons die boodskap van Christus met ywer uit? Sondae hoor ons wat Jesus gedoen het en nog steeds doen, ons lees wat Hy vra, ons loof en prys Hom, maar wanneer ons rondom ons kyk, sien ons bitter min hiervan. Elke dag wanneer ek my eie belange voorop stel en Hom nie volg nie, soek ek vir Jesus om Hom te kruisig!


Ons loop nog steeds dag vir dag met die sonde in ons rond. Ja, daar was ‘n paar keer wat die ander wang gedraai is, die ekstra kilometer geloop is (Matt. 6:36-41), maar ons kon nie elke dag daarmee volhou nie – “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh. 1:8). Dag vir dag klou ons vas aan ons sondige begeertes, en dit is in stryd met wat die Gees wil – “Laat julle lewe deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van jul sondige natuur nie” (Gal. 5:16). Verwoord ons nog ons afhanklikheid van verlossing? – “As ek met my mond bely dat Jesus die Here is en met my hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal ek gered word” (Rom. 10:9). Is ek nie dalk besig om Jesus te kruisig deur Sy werk ongedaan te maak nie?


Onthou, om Jesus te volg en vir Hom te werk, hou geen onmiddellike byvoordele in nie. Die aansluitingspakket het nie ‘n mooi kar, pragtige huis, baie geld, gewaarborgde veiligheid of enige salaris nie. Jou dertiende tjek bestaan uit “die massas wat jou gaan beledig en vervolg en valslik beskuldig van al wat sleg is, ter wille van Hom” (Matt. 5:11). Maar ... moed hou – ‘n Christen hou koers met die oog op Jesus gerig!


“Die essensie van liefde is vir alle eeue saamgebundel in daardie eensame, bloeiende Figuur aan die kruis” (Philip Yancey).


Gebed: Ons Vader, ek is ‘n sondaar! Help my! Ek het werklik niks om in te ruil vir U genade nie. Plaas asseblief my naam ook op U gastelys vir die hemelse fees. Dankie Jesus en Gees dat daar nie wegkomkans is vir my wanneer my naam eers op die gastelys verskyn het nie, want U haal my uit elke donker hoekie uit. Hier is ek, soos Jesaja roep ek uit: Stuur my! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page