top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE JOODSE RAAD BESLUIT OM JESUS DOOD TE MAAK (2) – PROFETIESE WOORDE

(Vergelyk ook Matt. 26:1-5; Mark. 14:1-2; Luk 22:1-2)


Joh. 11:49-53 – “Een van hulle, ‘n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: ‘Julle verstaan niks, en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.’ Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring. Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak.


Vergelyk ook Joh 3:16 – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”


Kajafas dui die koers aan tydens die vergadering. Hy is deur die Romeinse owerheid aangestel as hoëpriester en het die amp van 18 tot 36 n.C. beklee. Sy lang dienstyd bewys dat hy die guns van die Romeine gedeel het. Hy gee die oplossing vir die “Jesus-probleem.” As “hierdie man” uit die weg geruim is, sal die volk nie gevaar loop om deur die Romeine uitgewis te word nie en Jerusalem sal weer na normaal toe kan terugkeer. As die “een man vir die volk sterwe” is dit tot die volk se voordeel en daardeur sou die leiersposisies binne die volk vir die raadslede behoue bly en Kajafas se amp as hoëpriester verseker wees. Ironies is dit nie die ongelowige wêreld nie, nie die leiers van ander godsdienste nie, of selfs satan nie, maar hierdie besluit word geneem deur ‘n spesiale vergadering van die Joodse Raad - die Algemene Sinode van die kerk van daardie tyd – Jesus moet sterf!


Kajafas het nie mooi besef wat hy gesê het nie. Die Heilige Gees het dus deur hierdie onwaardige, vyandige hoëpriester, ’n goddelike waarheid aangekondig. In werklikheid was hy as hoëpriester die belangrikste godsdienstige figuur en inderdaad die aardse middelaar tussen God en die volk. Sy profetiese woorde is, ironies genoeg, deel van God se plan. As Jesus aan die kruis hang, is dit God se wil en nié omdat Kajafas of die Jode so besluit het nie! Dit gaan ook nie net oor die volk nie, “maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is.” Kajafas se woorde was die keerpunt in die houding van die Jode. Dit bring ’n einde aan die onsekerheid omtrent wat hulle met Jesus moet doen.


Kajafas se moorddreigement gee krag aan die waarheid oor Jesus se dood (3:16). Die kruis word die plek waar die paaie van al die mense oor die hele wêreld heen lei, (alle paaie lei nie na Rome nie). Dit is die plek waar mense moet erken dat Jesus werklik die Seun van God is. "Jesus was nie een vir fieterjasies nie. Hy het gelewe en gesterwe as Mens tussen mense. Hy het nie gekies om in ‘n katedraal tussen twee brandende kerse gekruisig te word nie, maar aan ‘n ruwe houtkruis tussen twee moordenaars. Want dít is vir wie Hy kom sterf het – sondaars” (George Macleod). Hy is ons Verlosser wat ons, soos vir Lasarus, uit die dood uit na die ewige lewe toe roep.


“Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, is om jouself prys te gee, soos Christus gedoen het, maar dit genees en herstel die aarde” (Ferdinand Deist).


Gebed: Jesus, U het oor Lasarus en oor Jerusalem gehuil en op Golgota met elke pyn, die sonde van elke mens in U liggaam gevoel. Here, ek dink vandag veral aan hulle wat geliefdes deur die dood verloor het en ek weet dat niemand opgewasse is teen hierdie verskriklike tragedie wat sy donker skadu oor ons werp. Maar ek weet ook dat U reeds hierdie vyand met U dood en opstanding, verslaan het. Dankie dat die donkerte van ons ellende daarom ook nie die laaste woord oor ons is nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page