top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE DOOD VAN LASARUS (6) – JESUS IS DIE OPSTANDING EN DIE LEWE!!!


Joh. 11:28-32 – “Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: ‘Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.’ Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie maar was nog op ‘n plek waar Marta Hom ontmoet het. Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by Sy voete gekniel en vir Hom gesê: ‘Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.”


Vergelyk ook Rom. 12: 15 – “Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.”


Nadat Marta haar belydenisuitspraak gedoen het, gaan roep sy Maria terwyl Jesus nog op dieselfde plek buite Betanië vertoef het. Omdat daar baie Jode in die huis by Maria was, het Marta “saggies” Maria meegedeel dat hul “Leermeester hier is”. Sy wou moontlik nie dat die Jode hoor wat sy sê nie sodat Maria in haar privaatheid haar hartseer met Jesus kon deel. Deur Jesus hul Leermeester te noem, betuig Marta dat sy en Maria ook leerlinge van hierdie Leermeester is, alhoewel ’n Joodse rabbi nooit vroue as leerlinge gehad het nie, maar daarin was Jesus anders. By Hom was daar geen onderskeid nie. Hy aanvaar die vroue net soos die mans as sy leerlinge.


Maria het onmiddellik uitgegaan na die plek buite die dorp waar Jesus nog was. Die Jode het nie gehoor wat Marta aan Maria gesê het nie, en meen dus dat sy na die graf gaan om daar te treur, soos dit gebruiklik was by die Jode. Hulle wil haar ook dáár gaan troos. Hulle het gedink sy is op pad na die dooie, maar in werklikheid was sy op pad na die LEWE! Op hierdie manier sou hulle getuies word dat sy nie gegaan het om te gaan huil nie, maar om die vreugde van die lewe te ontdek! Wanneer Maria by Jesus kom, kniel sy eerbiedig voor Hom, spreek Hom aan as “Here” waardeur sy Hom erken as die Christus, die goddelike Heerser, wat oor alle mag beskik. Met feitlik dieselfde woorde as Marta gee sy uiting aan haar gevoel: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie”. Jesus se antwoord aan Maria word nie opgeteken nie, maar Hy het wel met ‘n harde snuifgeluid, Sy diepe bewoënheid en sy innige meelewing betoon. Hy het verstaan wat dit beteken om te treur saam met dié wat treur (Rom. 12:15).


Nêrens in Johannes 11 kry ons die idee dat Jesus verwag Marta en Maria moet passief en gehoorsame mense wees nie. Hulle hoef nie alles maar net gelate te aanvaar as die wil van God nie. Hulle sê vir Hom dat hulle kwaad is en hoekom hulle kwaad is. Dis belangrik, want soms, veral in tye van seerkry, is woede ook deel van ons geloof. En Jesus verdra hulle nie sommer net nie – hy ag hulle. Hy luister na hulle as geliefde vriende. Hulle klag – en ons s’n, wanneer ons met God verkeer in gebed, is ons eerlik oor ons pyn. Hulle verwyt is verweef met hulle geloof in Jesus se mag, want hulle glo heeltemal dat Jesus iets aan die situasie kón doen, as Hy net nie so gedraai het nie en nog steeds draai. Jesus stop eers langs die pad om gesprekke te voer met Marta en Maria, terwyl hulle in nood op Sy koms wag.


Maar ... hulle sou nie so hartseer gewees het indien hulle uit die staanspoor Jesus se waarborg ter harte geneem het nie: “Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: ‘Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (11:4). Hulle het Jesus nie gehoor nie, al wat hulle gehoor en gesien het, was hulle sterwende broer! Daar is mense, en hulle bedoel baie goed daarmee, wat geneig is om aan mense wat ernstig siek is of selfs iemand aan die dood afgestaan het te sê: “Moenie bekommerd wees nie, God word in jou situasie verheerlik” of “Alles is reg – God toets net jou geloof, God wil hê dat jy sterker anderkant uitkom.” Jesus het dit gesê, maar ek dink nie ons moet dit doen nie. Jesus het dit gesê, want Hy het geweet wat gaan gebeur, hoe God gaan optree – Hy was op pad om Lasarus op te wek.


“Geloof in God bring nie kitsoplossings vir alle probleme en lewensraaisels nie, maar dit skenk ons verlossing om die lewensraaisels te hanteer” (Willie Jonker).


Gebed: Here, dankie dat ek weet U gee nie kitsoplossings vir my probleme nie, maar U het wel ‘n plan met my lewe. Ek moet ook erken ek dink soms met angs en beklemming aan die dood en ja, ek is ook hartseer wanneer dierbares deur die dood weggeneem word, maar ek weet dat wanneer ek oorstap na die eintlike lewe toe, U daar sal wees om my in U sterk arms te neem en my sal dra na my eie kamer in die hemel. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page