top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE DOOD VAN LASARUS (5) – GLO JY DIT?


Joh. 11:21; 23-27 – “Marta sê toe vir Jesus: ‘Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie ...’ Jesus sê toe vir haar: ‘Jou broer sal uit die dood opstaan.’ Maar Marta sê vir Hom: ‘Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.’ Toe sê Jesus vir haar: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?’ ‘Ja, Here,’ sê sy vir Hom, ‘ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.’


Vergelyk ook Ps. 16:9-11 – “Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.”


Marta loop Jesus trompop toe sy Hom langs die pad ontmoet: “Here, as U hier was ...” Maar haar stukkie verwyt en trane is nie die finale werklikheid nie, want Jesus spreek hierdie profetiese woorde: “Jou broer sal uit die dood opstaan”. Binne die volgende uur sou hierdie woorde vervul word, maar Marta pas hierdie woorde toe aan die opstanding “op die laaste dag”. Sy aanvaar Jesus se woorde dus as algemene trooswoorde wat op daardie oomblik vir haar eintlik nie veel troos bring nie. Wat gaan dit help as haar broer eendag opstaan as hy nou nog kon gelewe het? Sy moes egter daarop gelet het dat Jesus nie van die algemene opstanding gepraat het nie, maar van “jou broer” wat sou opstaan. Dit het spesifiek oor Lasarus gegaan. Jesus se woorde het ‘n wyer betekenis wanneer Hy aan Marta probeer verduidelik: Opstanding is nie net deel van die eindtyd nie, maar ’n werklikheid wat reeds elke dag ervaar kan word.


Dan kom Jesus met ‘n geweldige aanspraak en seker een van die mees dramatiese uitsprake in Johannes se Evangelie: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Om te sterwe en tog te lewe? Hoe verstaan mens dit? Omdat Jesus self ook God is (10:30), is Hy in eie Persoon die opstanding en die lewe. Hy bring dit en Hy sal sy mag daartoe bewys deur die opwekking van Lasarus, maar Hy is dit ook omdat Hy God is. Die opstanding wat hier bedoel word, is nie maar net dié van ’n enkele persoon soos Lasarus nie, maar die oorwinning van die dood in al sy gestaltes, die liggaamlike dood, die geestelike dood en ook die dood in die ewige verderf.


Uit die dood as sodanig bring Jesus redding deur die opstanding, en op die opstanding volg die lewe, die ware, ewige lewe waaroor die dood nie mag het nie. Maar die opstanding en die lewe is die erfenis alleen van dié wat in Jesus Christus glo. Hierdie geloof is die vaste vertroue op Christus, en tegelyk ook ’n vasklem aan Hom wat die lewe is (1:4). Al kan ons nie die aardse dood vryspring nie behou ons die lewe in Christus wat elke gelowige nou reeds besit. Ons hoef nie te wag vir die opstanding by die voleinding, om die lewe binne te gaan nie. Vir ons is die sterwe die poort tot die lewe in vreugdevolle gemeenskap met Christus. Deur die geloof “sal jy lewe, al sterwe jy ook. Glo jy dit Marta?” Jesus bevestig haar geloof voordat Hy Lasarus uit die dood opwek, voordat sy enigiets kon sien wat vir haar ’n bewys sou kon wees van die krag van haar geloof.


Marta spreek dan een van die beknopste en inhoudrykste belydenisse in die Nuwe Testament uit: “Ja, Here, ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Hy is die “Christus”, die Messias, van wie die Jode geglo het dat Hy sou kom; Hy is “die Seun van God” en staan dus in ’n unieke verhouding tot die Vader; die Messias “wat na die wêreld toe moes kom”, die Een wat deur die profete aangekondig en deur die Vader na die wêreld gestuur is, die Een wat die beloftes sou vervul en as Redder na die wêreld sou kom. Dis nie die intensiteit van Marta se geloof wat so belangrik is nie, die fokus is Jesus self, die Bron, die Anker van die geloof, dit is Hy wat geloof sy krag gee!


Deur al die eeue heen is mense geroep om beproewings en selfs die dood te trotseer. In die moderne tyd waarin ons leef, word die aanslae op ons geloof éérs beproef. Geloof is nie verniet die hoop op die dinge wat ons nie sien nie, dit is ’n bewys van dinge wat nog moet gebeur, of die oortuiging van dinge wat nog geopenbaar moet word, voordat ons dit kan sien (Heb 11:1). Ons moet onthou dit is God wat uit genade aan ons geloof skenk. Dit is net die Heilige Gees wat geloof in ons hart kan werk. Geloof is om vas te hou aan God se beloftes: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red ek jou” (Jes. 41:10). Hy inspireer jou tot ‘n lewe van vertroue en sekerheid van geloof onder alle omstandighede. “Glo jy dit Marta, Piet, Gert, Marie ...?”


“Die lewe is ‘n misterie wat geleef moet word, nie ‘n probleem wat opgelos moet word nie” (Van Kaam).


Gebed: My Leidsman tot die lewe, in U vind ek blywende vreugde. Al kom my lewe hier op aarde tot ‘n einde, het ek vrede daarmee want daar wag die hemelse lewe saam met U vir my. Waar daar nog mense is wat ongelowig is, Here, kom hulle ongeloof te hulp. O Here, as ek ooit iets van U wil vra, maar U het meer vir my in gedagte as waarvoor ek vra, kanselleer asseblief my versoek. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page