top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE DOOD VAN LASARUS (3) – DIE WAARHEID!


Joh. 11:11-16 – “Hierna het Hy vir hulle gesê: ‘Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.’ Die dissipels sê toe vir Hom: ‘Here, as hy slaap, sal hy gesond word.’ Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. Toe sê Jesus vir hulle reguit: ‘Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.’ Tomas wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: ‘Kom ons gaan ook sodat ons saam met Hom kan sterwe."


Jesus gee nou ’n meer direkte antwoord op die vraag of Hy werklik weer na Judea wil gaan (11:8), en Hy herinner die dissipels aan Lasarus wat Hy ook aandui as “ons vriend”. Jesus se opmerking dat “Lasarus net slaap,” verbloem nie die verskrikking van die dood deur só ‘n versagtende uitdrukking daaraan te gee nie, dit dien om die waarheid aangaande die dood van die kind van God bekend te maak. Deurdat Jesus die dood oorwin het, het die sterwe sy verskrikking verloor en het die dood ’n slaap geword, wel ’n doodslaap, maar ’n toestand waaruit die gelowiges in Christus Jesus, weer opgewek sal word tot die ewige lewe. Lasarus het daardie slaap ingegaan, maar in sy geval sou dit slegs vier dae duur omdat Jesus gekom het om “hom wakker te maak”.


Jesus het geweet dat Lasarus reeds dood was omdat Hy meer is as ’n mens, Hy is ook God. Daarom weet Hy vooruit dat die siekte en dood van Lasarus “sal uitloop op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God” (11:4) en tot versterking van die geloof van die dissipels. Hulle het reeds tot geloof gekom (2:11), maar die geloof was swak en onbestendig. Die opwekking van Lasarus, waarvan hulle ooggetuies sou wees, sou hulle geloof in Jesus geweldig versterk, en tog sou dit nog nie so sterk wees dat hulle end-uit aan Hom getrou sou wees nie. Hy noem in hierdie stadium nie die opwekking nie, maar verklaar dat Hy bly is dat Hy nie daar in Betanië was nie.


Ons kom agter dat die dissipels nie baie lus was om terug te gaan na Judea nie. Die gevaar wat Judea vir Jesus ingehou het, ís al op die voorgrond gestel: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” (11:8). Hulle is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie en Betanië was net te naby aan Jerusalem vir hulle gevoel. Tomas is oortuig dat die Jode Jesus sal doodmaak as hulle Hom gevange kan neem, tog is hy bereid om Jesus te volg. Sy opmerking, “Kom ons gaan ook sodat ons saam met Hom kan sterwe,” grens aan swartgalligheid maar is tog ironies: Die sterwe van Jesus sou juis die lewe vir Sy volgelinge bring, “nie een van hulle sal uit Sy hand geruk word nie” (10:28-29).


Gelowiges in Jesus Christus, m.a.w. ons Christene, behoort ‘n ander siening oor die dood te hê want ons raak nie verlore nie, ons weet waar ons gaan wees. Daar word vertel van ‘n klein dogtertjie wie se broertjie onlangs gesterf het. Toe sy haar ma vra waarheen boetie gegaan het, was haar hartseer antwoord: “Om by Jesus te wees.” ‘n Paar dae later het die dogtertjie gehoor hoe haar ma vir ‘n vriendin vertel dat sy so verskriklik hartseer is omdat sy haar seuntjie verloor het. Die dogtertjie het onthou wat haar ma vir haar gesê het, en met tipiese kinderonskuld gevra: “Mamma, is iets verlore as jy weet waar dit is?” “Nee, natuurlik nie” het haar ma geantwoord. “Hoe kon mamma dan my boetie verloor het as hy gegaan het om by Jesus te wees?”


“Die dood is net ‘n pad wat jy móét loop as jy by die Almagtige God wil uitkom” (Parnell).


Gebed: Dankie Jesus dat U my die versekering gegee het toe U gesê het: “As ek U woorde ter harte neem, sal ek nooit sterwe nie” (Joh 8:51). “U het my losgekoop uit die mag van die dood, ek behoort aan U” (Ps. 49:16). Niemand sal my uit U hand ruk nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page