top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE DOOD VAN LASARUS (1) – DIE PAD NA GLORIE


Joh. 11:1-5 – “’n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en Sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: ‘Here, hy vir wie U lief is, is siek.’ Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: ‘Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.’ Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad.”


Van die sewe wondertekens wat deur Johannes opgeteken is, is hierdie seker die belangrikste. Dit is daarom verbasend dat die verhaal nie verskyn in die ander drie Evangelies nie? Die verhaal van Lasarus, ’n bekende Joodse naam, wat beteken “God het gehelp”, se dood en opwekking is seker een van die mees bekende Skrifgedeeltes wat oor die dood handel, maar eintlik ook vreemd. Jesus het ‘n groepie vriende gehad in Betanië, ongeveer 3km van Jerusalem af. (Dit is nie dieselfde Betanië van Joh. 1:28 nie). Dit is feitlik in vandag se beskrywing, ‘n voorstad van Jerusalem. Jesus het by geleentheid daar by Sy vriende, vir wie Hy baie lief was, tuis gegaan (Luk. 10:38-42). Maria, Marta en Lasarus was op ‘n besondere manier aan Jesus verbonde.


In hierdie verhaal ontmoet ons ’n familie wat desperaat is van bekommernis. Dit is baie duidelik dat hulle geliefde broer baie siek is – die erns van sy siekte word in die eerste drie verse, drie keer beklemtoon. Jesus het vreemdelinge gesond gemaak, selfs op die sabbat die blindgeborene laat sien. Sy intense vriende, Sy geliefdes, is nou in desperate nood en gelaai met intense emosies. Dis ’n emosie waarmee ons goed kan identifiseer. Marta en Maria laat roep vir Jesus om die dood te kom keer, Hy is immers die Wondergeneser! Hulle vra nie uitdruklik dat Hy moet kom om hulp te verleen nie, maar tog is hulle woorde ’n geroep om hulp. Die verwagting is logies dat Jesus hulle onmiddellik te hulp sal snel. Dis daarom skokkend om Jesus se reaksie te hoor: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”


Dis nie die eerste keer dat Jesus se reaksie vreemd lyk nie (Joh. 2:1-11; 7:1-10). Maar, soos altyd, is dit duidelik dat Jesus nie Sy pad deur ander gaan laat bepaal nie – selfs nie deur Sy geliefde vriende nie. Selfs nie eers wanneer Marta en Maria ‘n sterk appél op Jesus se gevoelens wou maak nie: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” Johannes verwys hier na die “ideale verhouding” wat daar tussen Jesus en hierdie vriende was, daarom is dit menslik om Jesus se optrede te bevraagteken en dit enigsins met liefde te verbind?


Maria en Marta se hulpkreet eggo vandag nog by baie Christene – “Hy vir wie U lief is, het kanker” – “Sy vir wie U lief is, is dood.” Die reaksie van Jesus gaan oor “die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” want Jesus het ons oneindig lief. Geen mens se siekte het die dood as doel nie, maar wel die Lewe. Is dit nie 'n verrassende, bevrydende manier van kyk na aaklige goed soos siekte en dood nie? Wanneer óns daarna kyk, is alles somber en katastrofies, maar die Here Jesus keer dit om! Mens kan nog verstaan dat síékte op 'n manier die Here kan verheerlik, maar die dóód? Indien Jesus dadelik gegaan het, sou Hy heel waarskynlik Lasarus genees het soos wat Hy baie ander genees het en sou niemand juis opgewonde gewees het daaroor nie.


Die meeste mense, en selfs Christene, raak paniekbevange wanneer hulle hoor van ‘n geliefde wat sterwende is. Hulle los alles waarmee hulle besig is en haas hulle om by die persoon te kom en met angs en beklemming gesels almal wat teenwoordig is met ‘n fluister stem. Dit is ook nie verkeerd nie, maar ... Hoeveel mense sou in so ‘n situasie daaraan dink om God te raadpleeg om te hoor wat hulle te doen staan? Hoeveel mense verheerlik God tydens ‘n krisis soos wat dit moet gebeur? Hoeveel val neer op hulle aangesig voor Hom en bepleit hulle afhanklikheid? Hoeveel het nog eerbied vir God? Hoeveel verheerlik Hom vir Sy grootheid, mag en majesteit? Verstaan ons werklik hoe groot God is?


Die fokus van die siekte is nie die dood nie – selfs al sterf jy ook – maar die openbaarmaking van die wonderlike mag van God en sodat mense hulle sal verstom oor wie Jesus is. Dood is die mens se grootste vrees, juis omdat dit so finaal is. Wanneer die gemiddelde mens siek word en die dood in die gesig staar, sal hy al sy besittings gee om sy lewe met ‘n dag of twee te kan verleng. Dood spreek altyd die laaste woord en op die ou end sterf almal en word hul stem nooit weer gehoor nie. Dit is die normale verloop van die lewe. Van twee dinge kan ons absoluut seker wees: dat jy eendag sal doodgaan en dat jy, indien jy in Jesus Christus glo, vir altyd sal lewe!


“Elke mens moet twee dinge vir homself doen: hy moet vir homself glo en hy moet vir homself sterf” (Matin Luther).


Gebed: Here Jesus, die dood is só ontwrigtend en vol hartseer. Geen mens op aarde kon my al ooit vertel hoe dit is om dood te ervaar nie. Niemand beskik oor eerstehandse kennis van die dood nie. Dankie Jesus Christus dat ek die dood nie hoef te vrees nie want U het in my plek reeds deur die dood gegaan. Daarom wéét ek dat U by my sal wees wanneer ek deur die doodsvallei moet gaan. U sal my daardeur lei sodat ek weet waarheen ek moet gaan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page