top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE JODE IS NIE VAN SY SKAPE NIE (4) – STILTE VOOR DIE STORM


Joh. 10:39-42 – “Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: ‘Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.’ Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.”


Blykbaar het Jesus se verduideliking van die aanhaling uit Psalm 28:6, die emosies ietwat laat bedaar sodat die Jode nie meer daaraan dink om Hom te stenig nie. Hulle wil Hom gevange neem, waarskynlik om Hom voor die Joodse Raad van Godslastering aan te kla. Maar Jesus ontwyk hulle. Sy uur is nog nie daar nie. Uit “hulle hande” wat reg staan vir moord, ontglip Hy omdat Hy beskerm word deur “die hand van die Vader” (10:29).


Weens die vyandigheid van die Jode in Jerusalem en Judea gaan Jesus na Perea oorkant die Jordaan na die plek “waar Johannes vroeër gedoop het”. Ironies is dit die plek waar die openbare bediening van Jesus begin het (1:28) en sluit dit ook op daardie plek af. Dat Hy “daar gebly” het, dui daarop dat Hy minstens ’n paar maande in daardie omgewing vertoef het en Sy werk daar voortgesit het. Dit was nie weer vir Jesus nodig om Hom te verdedig teen die Jode nie.


Daar was gedurig pelgrims wat tussen Galilea en Jerusalem gereis het en omdat hulle nie deur Samaria wou reis nie, het hulle die pad aan die oostelike oewer van die Jordaan deur Perea verkies. Hierdie reisigers moes daar met Jesus in aanraking gekom het. Tussen hierdie pelgrims was daar ook aanhangers van Johannes die Doper. Hulle het getuig, nou uit eie ervaring, dat Johannes se getuienis oor Jesus die waarheid was. Dit is tragies dat die ongeloof in Jerusalem, waar ’n mens juis geloof sou verwag het, gekwyn het, terwyl “baie mense daar in Perea tot geloof in Hom gekom het.”


Jesus hardloop nie weg van Sy teenstanders nie, inteendeel, Hy het nie moed opgegee met hulle nie. Hy het tot op die laaste, argumente aangevoer om hulle ook deel van Sy kudde te maak. “Maar hulle glo nie, omdat hulle nie van my skape is nie” (10:26). Wat ‘n Herder om op te vertrou? Niemand sal ons onder Sy sorg kan wegneem nie. Soos die mense wat in Perea tot geloof in Hom gekom het, word ons as Sy skape vir ewig vasgehou en beskerm Hy ons. Alles sal nie altyd maanskyn en rose wees nie en soms sal ons selfs probeer losruk uit Sy hand, om maar net weer te ontdek dat die Here Jesus se hand en die Vader se hand één is en dit laat die skape tot in ewigheid nooit los nie – “Niemand sal ons uit Sy hand ruk nie” (10:28b).


Om ons Herder se stem goed te ken, is om ‘n intiemer verhouding met Hom te ontwikkel. Wanneer dit voel of ons uit Sy hande val, is dit as gevolg van ons eie klein geloof en twyfel. Wanneer daar net een ry spore in die sand is, is dit wanneer Jesus my dra. Hy sit my ook nie sommer weer neer nie want dan gaan ek maar weer net my knieë nerf af val. Gelukkig ken Jesus Sy skape en verkies Hy om ons in Sy hande te hou, “sodat ons in alle ewigheid nooit verlore sal gaan nie en niemand ons uit Sy hand ruk nie.” Daar is nooit weer twee rye spore in die sand nie, net Jesus s’n want Hy dra my altyd. Jesus bly by my en ek is veilig in Sy teenwoordigheid. Jesus ís ... van Bo; die Water; die Brood van die lewe; die Lig van die wêreld; die Deur; die Wingerdstok, die Goeie Herder, die Weg en die Waarheid en die Lewe; Seun van God; Opstanding en die lewe; Alfa en Omega; Eerste en Laaste. Ek kán nie “settle” vir iemand anders nie!


“Godsdiens en geloof verskil radikaal. Godsdiens word gebou op eie ervaring. Geloof vertrou op God, al sê jou ervaring dat daar geen rede is om Hom te vertrou nie”

(Louis Berkhof).


Gebed: Here, Leidsman tot die lewe, ek aanbid U as my Goeie Herder. Laat my veiligheid in U kraal soek. Lei my na die groen weivelde van U genade en na die rustige waters van U liefde. Dankie dat U my uit die sondenood na verlossing geneem het, dat U my elke keer weer kom haal wanneer ek afdwaal en maar weer en weer in U kudde opneem. Dankie dat U die waarborg is tot die ewige lewe en niemand my uit U hande, daardie spykerdeurboorde hande, kan ruk nie! Here, gaan haal asseblief diegene wat afgedwaal het en bring hulle na die enigste Ingang, die regte Deur, Jesus Christus. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page