top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE JODE IS NIE VAN SY SKAPE NIE (3) – DIE SOUTSUUR TOETS


Joh. 10:31-38 – “Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig, maar Jesus sê vir hulle: ‘Op gesag van die Vader het ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle my stenig?’ ‘Dis nie oor ‘n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,’ antwoord die Jode Hom, ‘maar oor godslastering, omdat jy, wat ‘n gewone mens is, jou as God voordoen.’ Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? God noem hulle tot wie sy woorde gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste in die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”


Vergelyk ook Lev. 24:16 – “Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry. Die hele gemeente moet hom met klippe doodgooi.”


“Ek en die Vader is een” (10:30). Jesus verklaar dat Hy net soos die Vader ook God is. Die Jode het die gesprek begin deur te eis dat Jesus reguit moet sê of Hy die Christus is (10:24). In Sy antwoord het Hy dit bevestig dat Hy wel die Christus is, nie om ’n nuwe koninkryk van Israel op te rig nie, maar om as goeie Herder aan sy skape die ewige lewe te skenk en aan hulle veilige bewaring toe te sê. Hy sê reguit veel meer as wat die Jode verwag het: Hy verklaar dat Hy en die Vader een is, en dat Hy dus self God is. Die eenheid tussen Vader en Seun is ‘n eenheid van wil en dade want “niemand sal Sy skape uit Sy hand of die Vader se hand ruk nie!”


Die tipiese reaksie van die Jode is om weer na geweld te gryp. Jesus kom betree verbode terrein deur Homself te verbind met God. Hoe kán Jesus wat ‘n mens is, Homself op so ‘n wyse verbind met die Goddelike? Dit kan nie en mag nie! Dit is Godslasterlik en strafbaar met die dood! (Lev. 24:16). Omdat hulle die stryd teen Jesus nie met woorde kan voer nie, verloor hulle hul humeur, neem die wet in eie hande en wil Hom stenig. Deur hierdie dringende houding laat Jesus Hom nie afskrik nie. Volkome meester van die situasie, stel Hy aan hulle ’n vraag om hulle tot verantwoording vir hulle optrede te roep.


Dit is duidelik dat hulle weier om sy woorde aan te neem, daarom vra Hy oor sy dade. Hy het hulle “talle goeie dade laat sien”, veel meer as wat in hierdie Evangelie opgeteken is, en daardeur Sy heerlikheid geopenbaar. Hierdie werke van die Here is gedoen “op gesag van die Vader”. Hulle is van so ’n aard dat elkeen wat dit sien, verplig word om te erken dat God die gesag agter die optrede van Jesus is. Oor die woorde wat uitgespreek is, kan daar verskil van mening wees, maar dade is feite wat nie ontken kan word nie, soos die genesing van die blindgeborene (10:21). Soos die goeie Herder wat Hy is, het Jesus alleen goeie dade gedoen. Nou vra Hy die teenstanders: “Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”


Jesus doen ’n laaste keer ’n beroep op die redelikheid van die Jode. Hulle het Hom verwyt dat Hy Hom “as God voordoen”. Hy sluit daarby aan en verwys na ’n aanhaling uit Psalm 82:6 waarvolgens God die leiers van die volk “gode” noem: “Ek het wel gesê: julle is almal gode, almal met mag beklee.” Die argument is dat gewone mense wat in die lewe van die volk ’n leidende rol vervul, deur ’n uitspraak van God “gode” genoem word. Op grond van die psalmwoord sou Hy dus óók as “God” aangedui kon word. In Jesus se geval sou dit die waarheid wees en allermins Godslastering.


Nou stel Jesus die teenstanders voor die beslissing: As hulle oortuig is dat die werke wat Hy doen, nie die werke van God is nie, is hulle volkome geregtig om nie in Hom te glo nie. Maar daar is ook die ander moontlikheid, naamlik dat hulle verplig word om te erken dat die werke van Jesus wel die werke van God is, maar dat hulle nietemin weier om in Jesus te glo. Die Jode is in ‘n hoek en hulle belange is totaal vervleg. Hulle het die soutsuur toets gefaal – hulle het gesien maar nie geglo nie!


Dit is ongelukkig vandag nog so dat mense se belange totaal vervleg is. Ons het Jesus nog nooit gesien of ontmoet nie. Al wat ons het is Sy brief, die Bybel. Op grond van dié brief moet ons glo in die Woord. Ons is reisigers in ‘n woestyn van sonde maar daar is ‘n Fontein met Lewende Water en dit is die Enigste plek waar ons ewigdurende dors geles kan word. Ons is skape wat soms doelloos ronddwaal en nie die Enigste Ingang na die kraal en veiligheid kry nie. Die boodskap van die kruis was vir die meerderheid Jode onaanvaarbaar. Gaan ons egter maak soos hulle of luister wat Paulus sê en met wysheid Sy kraal vind: “Ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir ander is dit onsin. Maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke (of Suid-Afrikaners), is Christus die krag en die wysheid van God ” (1 Kor. 1: 23-24). Aan God is dit te danke dat ons in Christus verenig is – in Hom glo sonder dat ons Hom gesien het en sodoende die soutsuur toets slaag!


“Geloof kan nie geërf word of verkry word deur in ‘n kerk gedoop te word nie. Geloof is ‘n kwessie tussen die individu en God” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Jesus dat ek weet dat U elke gelowige altyd vashou met U stewige hande. Ek steek my bewende hande na U toe uit sodat U my ook kan gryp, die enigste Naam wat aan mense gegee is om ons geloof te versterk: Jesus alleen! Ek weet dat geloof alleen my nie kan red nie, maar my geloof in U, Jesus Christus, kan my red. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12). Dankie Jesus dat U seker gemaak het dat ek ook ‘n kind van God kan wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page