top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE JODE IS NIE VAN SY SKAPE NIE (2) – JESUS HOU MY VAS!


Joh. 10:26-30 – “Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.’


Vergelyk ook Jes. 43:1-2 – “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne.”


Terwyl die Jode om Jesus “saamdrom”, herinner Hy hulle aan wat Hy gesê het in die beeld van die herder en die skape. Die Pilaargang van Salomo was altyd vol mense wat bid en mediteer en rabbi’s wat hulle studente leer. Jesus se ondervragers het heel waarskynlik daardie gesprek gehoor en dus geweet dat dit alleen Jesus se “skape” is wat na sy stem luister (10:3-4). Trouens, hier word hulle eie skuld vooropgestel: “Julle glo nie.” Daarteenoor reageer die “skape van Christus” positief op die stem, die woord, van die Herder: hulle luister en hulle volg Hom. Hulle is in ‘n verhouding met Hom.


Jesus bevestig verder: “Ek ken hulle.” Hy weet van elke behoefte van Sy “skape” en neem hul sorge weg; dit lê ’n innige geestelike band waardeur die “skape” die wil van die Herder leer ken en dit gewillig doen. Wie so deur Christus geken word, kom tot geloof in Hom en stel hulle onder Sy leiding en beskerming in geloofsgehoorsaamheid en troue navolging.


Jesus verklaar dat Hy vir Sy “skape” die ewige lewe gee: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” En dan bevestig Hy sy woorde met nadruk: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” VERRUKLIK!! Lees dit weer! Is dit nie elke gelowige in Jesus Christus, se lewenspolis nie? Die “ewige lewe” is ’n lewe waaraan die dood nooit ’n einde kan maak nie, en wat deur blywende geluksaligheid gekenmerk word. Dit is nie net in die toekoms weggelê nie, maar Jesus gee dit nóú reeds in hierdie lewe. Met hierdie toesegging bevestig Jesus dat Hy veel meer vir sy skape kan doen as ’n aardse herder. Hy beskik oor die mag om lewe te skenk wat oor die dood heen strek, en so iets kan alleen God doen, en “Hy en die Vader is een!” Jesus bevestig sy goddelikheid deur weer van Sy eenheid met Sy Vader te verwys.


Die skape wat so begenadig is, sal “nooit verlore gaan” nie. Hulle kan nie “van die herder afgedwaal raak” en buite sy bereik en bewaring beland nie. So iets sal nooit gebeur nie. As iemand eenmaal in wáárheid die “skaap” van hierdie goeie Herder geword het, sal die Herder sy eiendom bewaar. Hiervolgens wys Jesus weer op die verkiesende genade van God. Met nadruk word hierdie versekering herhaal: “Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” Geen dief of rower kan so slu en sterk wees dat hy ’n kind van God uit die mag van Jesus Christus kan ruk nie. Al is die gelowige in Jesus Christus geneig tot twyfel of selfs tot ’n val, kan hy daarvan verseker wees: Jesus sal hom nooit loslaat nie (Jes. 43:1-2).


Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – dat Jesus my vashou. Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom of haar vashou sal ooit wil los nie! Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom vashou sal ooit sê: “Ag nou hoef ek nie meer om te gee nie, Hý hou my mos ...” Nee!! Daarom sê die Here uitdruklik: “Dit is húlle wat My VOLG” (10:27). Dit gaan nie oor hoe sterk ek Sy hand vashou nie, maar hoe sterk Hy my hand vashou. Dit is Sý vashou, wat my vashou tot gevolg het en aan die gang hou. My vashou is gebou op Sy vashou! Juis die feit en die wete dat Jesus my nie los wanneer ek Hom los nie, maak dat ek Hom nie wil los nie! Die feit dat Hy as Plaasvervanger vir my sondes vasgespyker is aan ‘n kruis, veroorsaak dat ek aan Hom wíl vashou!


“Ons kan op geen manier God se guns wen of Sy vryspraak verdien nie, en ons hoef ook nie. Van begin tot einde is dit ‘n saak van gratis genade” (William Barclay).


Gebed: Here Jesus, in U Naam lê my ewige behoud en is my toekoms gewaarborg! As gesalfde Profeet dui U vir my die pad van verlossing aan. As gesalfde Priester van God bewerkstellig U hierdie verlossing deur U offer. Dankie dat U heers as Gesalfde Koning van God oor my sodat ek nooit uit God se gratis genade kan wegraak nie, “niemand my uit U en God se hand kan ruk nie.” Dankie dat U terselfdertyd ook oor die duiwel heers sodat hy my nie kan vernietig of van U af weglei nie! Ek bid vir elkeen wat nog nie U as Herder se stem gehoor het nie, of gehoor het en nie glo nie, dat hulle die regte en enigste Ingang na die hemel sal vind, die Ingang Jesus Christus! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page