top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE GOEIE HERDER (8) – ‘N WYER HORISON.


Joh. 10:16-18 – "Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van My Vader ontvang het.”


Vergelyk ook Jes. 56:8 – “Die Here my God wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê: Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.”


Jesus rig nou die oog op “ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie”. Met “hierdie kraal” bedoel Hy onder andere die gemeente van gelowiges uit Israel, waar klein groepies heidene hulle ook as bekeerlinge by die sinagoges begin aansluit het. Jesus het gekom na “die wêreld” en nie nét na Israel nie. Die goeie Herder het nie slegs gefokus op die klein kuddetjie rondom Hom nie, Hy het ‘n wêreldwye horison gesien wat die Vader se liefde vir die wêreld bevestig. Die weg na Hom toe staan oop vir élkeen wat glo, vir elkeen wat in Jesus Christus glo. Ook onder die volke buite Israel het Hy sy skape, maak nie saak van ras of nasie nie.


Oral in die wêreld is daar mense wat deur God bestem is om ingebring te word in Sy kraal, en ten opsigte van die bereiking van hierdie skape bestaan daar ’n dringendheid: “Ek moet hulle ook lei,” sê Jesus. Hierdie “moet” spreek nie maar net van ’n wesenlikheid nie, maar van ’n verpligting wat deur God opgelê is en wat die Herder aan ’n onontwykbare opdrag bind. Ook onder die ander volke moet die stem van die Herder gehoor word (10:3-4), en deur die werking van die Gees sal daar mense, “my ander skape”, wees wat gehoor gee en deur die prediking tot geloof kom. Dan word dit “een kudde met een herder”.


Om hierdie kudde te vergader en in een kraal saam te bring, is dit noodsaaklik dat die goeie Herder sy lewe vir hulle aflê. Die vraag ontstaan onverwyld: “Wat gaan dit die skape baat as die herder dood is?” Maar die aflegging van die lewe is vir die Seun van God nie die einde nie. Sy sterwe is op ’n doel gerig, naamlik die opstanding. Nou verwys Jesus die eerste keer na die oorwinning van die dood deur die opstanding. Hy moet sy lewe aflê juis om dit weer te kan opneem en daardeur sy oorwinning, sy heerskappy en die egtheid van sy Herderskap te bewys.


In lewe en in sterwe bly Jesus in volstrekte beheer. Niemand kan “Sy lewe neem” nie. Daarom kon die Jode dit ook nie doen nie, ten spyte van hulle pogings. Jesus handel volkome uit eie wil. Die uitvoering van die vrywillige offer is tog ’n opdrag van die Vader, waaraan Jesus gehoorsaam bly. Hy gebruik Sy bevoegdheid om die wil van die Vader te doen. Daarom kan Sy volgelinge ook verseker wees dat die sterwe van Jesus aan die kruis, hoe onverklaarbaar dit vir hulle ook al voorkom, tog die uitvoering van die wil van die Vader is.


Vandag se Christene het hulle in baie groepe en denominasies afgesonder, wat verskillende vorms van dissipelskap, leerstellings en selfs sisteme, aangeneem het. Ongelukkig het die ekkigheid van die mens veroorsaak dat hierdie verskillende groepe soms erg van mekaar verskil. Ten spyte van hulle verskille, word Jesus Christus wêreldwyd deur sommiges aanbid as Here God, die verenigde Herder. Ons moet nooit toelaat dat ons geloof ‘n eng persoonlike saak tussen ons en Jesus Christus word nie. Om in Jesus te glo verbind dit ons aan ander Christus-gelowiges. Hy is ook hulle hoop, vreugde en Leidsman (Herder) tot die lewe.


Jesus het gesê dat al die “skape” wat na Sy stem luister, “een kudde sal wees met een herder”. Hy het die toekomstige tyd gebruik wat aangedui het na ‘n toekomstige koninkryk wat anderkant ons leeftyd lê. In die hemel sal verdeeldhede en verskille wegval en Christus sal Álles in almal en vir almal wees. Die lewe wat Jesus terug ontvang het na Sy opstanding, was ‘n groter dimensie van die lewe wat Hy prysgegee het met Sy kruisiging. Sy dood en opstanding het vir ons ‘n nuwe lewe en verlossing gebring. Die Goeie Herder het Sy lewe gegee en weer ontvang – om dit ook aan die “skape van een kudde” te gee. Neem hierdie lewe wat Jesus aanbied en ontvang dit in al sy volheid, liefde en luister na Sy stem. Deel dit met ander in liefde, bemoediging en hoop en jy sal verbaas wees oor hoeveel jy terug ontvang.


“As ons fokus op ons verskille, is ons fokus op mekaar. As ons fokus op ons eenheid, is ons fokus op Christus” (Onbekend).


Gebed: Jesus my Herder, dankie dat U my ook kom haal het en in U kraal ingebring het. Ek bid vir U kudde oor die wêreld heen dat hulle, hulle ook sal verbly in U verenigde liefde. Ek bid ook vir die kudde wat hulle nog buite U kraal bevind, maak hulle bymekaar en bind ons, in U, tesame. Ek bid ook vir U kudde wat vervolg word en hulle in uiters moeilike omstandighede bevind. Bewaar hulle en gee dat hulle vervolgers, die “diewe en rowers”, U stem duidelik sal hoor en ook U leiding gewillig sal volg na die groen weivelde van God se genade. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page