top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE GOEIE HERDER (5) – INGANG TOT ‘N LEWE VAN OORVLOED OF GEBREK!


Joh. 10:7-10 – “Toe het Jesus verder gesê: ‘Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. ’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”


Vergelyk ook Matt. 23:13 – “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.”


Die Jode “het nie verstaan wat dit was wat Jesus vir hulle wou sê nie” (10:6), daarom verander Hy die verwysing na Homself en met nadruk verklaar Jesus dat Hý die “ingang vir die skape is.” Uit die voorafgaande (10:1-6) is dit duidelik dat die hek die ware van die valse onderskei. Soos daar een hek in die skaapkraal is, is Jesus die enigste pad na die ware redding – “as iemand deur My ingaan, sal hy gered word” – Hy is die legitieme ingang tot die ewige lewe – Hy is die weg tot redding (14:6); daar is nie ‘n ander weg nie!


Hierdie waarheid is ook van toepassing op die herders. Ook hulle moet self deur hierdie ingang gaan en daarmee hulle egtheid as herder bewys. Nou sê Jesus dat “almal wat voor My gekom het” nie aan hierdie vereiste voldoen nie en dus “diewe en rowers” is. Daarmee verwys Hy nie na die profete van die Ou Testament of na Johannes die Doper nie, maar na die skrifgeleerdes en die Fariseërs van Sy tyd, wat as die godsdienstige leiers van die volk bekend gestaan het. Ook in ander verband het Jesus daarop gewys dat hierdie leiers net daarop uit was om die volk saam te belas en hulleself te verryk (Matt. 23:13). Hulle sorg net vir die geestelike vernietiging van die mense.


Gedurende die warmer maande, het die herders snags die skape in die veld bymekaar gehou binne ‘n tipe beskutting waar daar net ‘n opening was waar die skape kon in en uit gaan. Die herder het dan self voor hierdie opening gaan lê om te verseker dat niemand ingaan en die skape net kon uitkom vir weiding. Hy was m.a.w. letterlik hulle enigste behoud om deur die ingang, die veiligheid van die beskutting te bereik en het ook die gevaar, buite gehou. Die dief soek net sy eie belang en dit beteken dat hy die skape “steel en slag en uitroei”. In die hande van ’n dief kan die skaap nie op versorging hoop nie, self nie op die behoud van sy lewe nie. Deur Jesus daarenteen, “die ingang vir die skape”, het ons “almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef. 2:18). Jesus is die enigste opening, die enigste weg na die Vader toe: “Deur die bloed van Jesus het ons dus nou vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei” (Heb. 10:19-20).


Jesus het gekom om “lewe te bring, en dit in oorvloed.” Hierdie uitspraak is nie meer beeldspraak nie, maar werklikheid. Hy het gekom sodat die sondaar “lewe kan hê”, dit wil sê die ewige lewe wat in hierdie lewe reeds begin. Mense wat Jesus vertrou, wat “Hom volg omdat hulle Sy stem ken” (10:4), sal die lewe in al sy volheid hê. Geloof in Jesus bring vir jou vreugde: nie ‘n oppervlakkige jolige lewe met geen diepte nie, maar ‘n diepgewortelde lewe wat die realiteite en “diewe” tegemoetgaan met ‘n kalm vertroue en die wete dat God in die finale beheer is.


Geloof in Jesus maak ‘n mens doelgerig. Dit gee hoop in moeilike omstandighede; dit skep orde wanneer ‘n mens uitmekaar wil val; dit is die verskil om ‘n “lewe in oorvloed” of gebrek te lei. Die antwoord hiervoor is Jesus en die keuse is joune of jy deur die “enigste ingang wil beweeg om gered te word.”


“Die waarde van ons lewe is nie in die lengte van dae nie, maar in die gebruik wat ons daarvan maak” (Michael de Montaigne).


Gebed: Here, ek bid vandag vir hulle wat nie die lewe in al sy volheid ken nie, vir hulle wat net bestaan. Ek bid vir hulle wie se lewe leeg is sonder U. Ek bid dat hulle U stem sal herken, dat hulle ook die volheid, die oorvloed van die lewe sal ervaar wat U na hierdie wêreld gebring het. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page