top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE GOEIE HERDER (1) – DIE HERDER EN SY SKAPE


Joh. 10:1-6 – “Dit verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ‘n anderkant af inklim, is ‘n dief en ‘n rower. Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal nooit ‘n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.’ Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.”


Vergelyk ook Ps. 23:1-2 – “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my in groen weivelde rus. Hy bring my by waters waar daar vrede is.”


Jesus het gekom “om die mense voor ’n beslissing te stel” (9:39), en nou gaan Hy voort om aan te dui hoe die skeiding plaasvind deur Hom nou tot sy volgelinge te rig en vir hulle ‘n “storie” te vertel oor die skape wat na die stem van die herder luister en dié, wat dit nie doen nie. Die onsimpatieke optrede van die leiers onder die Jode teenoor ’n blinde man wat siende gemaak is, bewys verder dat hulle slegte herders van hulle skape is.


Jesus wil hulle laat verstaan dat hulle die skape is wat in Sy kraal, beskut en versorg word. Die skape binne die kraal is blootgestel aan gevaar van buite en die regte ingang was ‘n behoorlike hek waar ’n hekwagter diens doen. Die beeld herinner aan die volk van God wat deur Hom versamel en beskut word, maar wat altyd aan aanvalle deur valse “herders” blootgestel is. Hierdie “valse herders” is soos diewe en rowers wat net eie gewin soek. Hulle oneerlike motiewe blyk uit die feit dat hulle nie by die hek ingaan nie, maar oor die muur inklim, terwyl die ware herder deursigtig is in sy dade en deur die hekwagter deur die hek, binnegelaat word.


Daar bestaan dus ‘n onsigbare eenheid, ’n persoonlike en intieme band tussen die herder en sy kudde. Hy ken sy skape by name en volgens die gebruik van daardie tyd, loop hy vooruit wanneer hy hulle uitlei en die skape volg hom want hulle is gehoorsaam aan sy stem. Die gehoorsaamheid aan die stem van hulle herder bevestig dus dat hy hulle ware herder is en hy bring eers “al sy skape” uit; hy sorg dat nie een agterbly nie en dan lei hy hulle na “waters waar daar vrede is en laat hy hulle in groen weivelde rus.”


In die tye waarin ons leef en met die hoë misdaadsyfer in die wêreld, moet ‘n mens feitlik ‘n sekuriteitsdeskundige wees om te kan oorleef. ‘n Mens moet gedurig kodes en wagwoorde verander, hoë heinings met elektroniese apparate ten duurste oprig en spesiale sleutels besit om ‘n poging aan te wend om jou lewe seker te wees.


In die vroeë Israel is die skape in ‘n ommuurde kamp aangehou wat by die ingang van die huis geleë is. Daar was net een hek en die hekwagter het die herder geken. Enigiemand onbekend moes oor die muur klim om hulle bose dade te verrig. Die hek was dus die plek waar daar besluit word of iemand eg is of nie. Die skape sal saam met die herder ingaan en dit sou die bewys wees wie die regte herder is en hy kon vertrou word.


Ons kan Jesus ook vertrou want Hy kom uit liefde uit na ons toe. Hy bewaar ons van die bose bedoelings van hulle wat nie by die “hek” wil ingaan nie. Hy gee aan diegene wat Sy stem herken, die waarheid. Dit is egter elkeen se eie verantwoordelikheid om te sorg dat hy die ware herder volg en veilig binne Sy kudde is in die regte “kraal.” “Hy laat my in groen weivelde rus. Hy bring my by waters waar daar vrede is.”


“Die wêreld is nog nooit oorwin deur intrige nie; dit is oorwin deur geloof”

(Benjamin Disraeli).


Gebed: Here, ek is soms soos ‘n skaap, al dink ek partykeer ek is eintlik oulik en slim. Ek raak maklik rigtingloos deur die lewe wat met sy onheilspellende magte, my meesleur. Ek word so maklik verlei deur ‘n verkeerde aanbod, of ‘n verkeerde vriend kruis my pad en dan herken ek nie meer die stem van die egte Herder nie. Dankie dat U die perfekte en volmaakte Herder is wat my na die regte “kraal” teruglei nadat die pad na “Verkeerdevlei” misluk het. Ek bid vir hulle wat hulle steeds doof hou vir U stem en steeds die verkeerde herders volg. Here, raak hulle harde harte aan dat hulle U stem sal herken. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page