top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (18) – SIEN JY OF BLY JY GEESTELIK BLIND?


Joh. 9:1-3 – “Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: ‘Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?’ En Jesus antwoord: ‘Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word.”


‘n Maand gelede het ons met die verhaal van hierdie blindgebore man begin en vir sewentien dagstukkies sy lewe gevolg. Ek glo u sal met met my saamstem dat sy lewe onherroeplik verander het nadat Jesus nie van hóm af weggestap het nie. Ten slotte wil ons graag u vriendelik versoek om hoofstuk 9 weer deeglik deur te lees en saam met hierdie blindgeborene, Jesus te “ontdek” soos wat met hom gebeur het. In 8:12 het Jesus Hom aangekondig as die Lig vir die wêreld; nou bring Hy lig in die oë en lewe van ’n blindgeborene.


Volgens die Ou Testament is dit alleen God (Eks. 4:11; Ps. 146:8) en die verwagte Messias (Jes. 29:18; 35:5; 42:7) wat die oë van blindes kan open. Hierdie wonderteken van Jesus dien dus as bewys dat Hy die Messias is, en self ook God. Daarom kom Jesus ook in botsing met die duisternis waarin die Fariseërs verkeer. Hulle wil dit ten alle koste vermy om te glo dat Jesus wél die Messias is, of dat ander mense dit glo, en loods derhalwe verskeie ondervragings om die teendeel te bewys. Dit is interessant om te weet dat hierdie die enigste verhaal is waar Jesus Homself nie teen die Joodse leiers hoef te verdedig nie, maar waar iemand anders dit doen. Sonder Jesus verdedig die geneesde vir Jesus, al ken hy Hom nie en het hy Jesus nog nooit “gesien” nie, tot op die punt waar die vyandigheid van die Joodse leiers hom uit die sinagoge ban, ook ‘n eerste!


Die rol wat die voorheen blinde man se eie ervaring speel, is insiggewend. Ander probeer dit vir hom interpreteer maar sy eie ervaring, sy ontmoeting met Jesus, word die lens waardeur hy vir Jesus verstaan. Hoe het hy Jesus verstaan en “gesien” vir wie hy eintlik nog nie gesien het nie? Eers praat hy van die “man met die naam Jesus” (9:11) – dit is ‘n neutrale begrip. Later verander hy, tydens sy gesprek met die Fariseërs, en noem hy Jesus ‘n “profeet” (9:17). Deur die loop van die gesprek en na ’n lang proses van konfrontasie met die Fariseërs, groei sy insig deur stryd en worsteling en kan hy uiteindelik sy geloof verwoord: hy bely dat Jesus “van God af kom” (9:33). En wanneer Jesus hom weer ontmoet, dan help Jesus hom om in die “Seun van die Mens” te glo en aanbid hy “Jesus as die Here” (9:38).


Jesus doen ‘n tweede wonder! Die eerste was dat hierdie blindgebore man kon sien. Die tweede wonder is dat hy Jesus sien – twee keer die Lig sien. Hy sien dat Jesus God is, en dat God goed is, dat God sondaarmense help, en weer help, sondaarmense soek en weer soek, tot hulle raaksien hoe goed en hoe groot God is. Net so is dit moontlik dat moeilike omstandighede ook ons insig en geloof kan verdiep, Dat Jesus nie ‘n “neutrale begrip” is nie, dat die worsteling juis ons oë verhelder. Ons kan onsself in enige van hierdie rolspelers se perspektief en toepassing maak – die man self, dissipels, bure, sy ouers, die Fariseërs of ons kan die Lig sien en dit ons sending maak om vir Jesus te getuig, al beteken dit konfrontasie en verwerping.


Moontlik het jy vir jare al reeds van Jesus gelees, baie van Hom gehoor en miskien bespreek. Iemand wat nie weet hy moet kies nie (in die duisternis verkeer), kan nie kwalik geneem word as hy nie kies nie. Mense wat egter kan “sien”, wat bewus is van die keuse wat hulle moet maak, moet hulle skuld dra indien hulle ‘n verkeerde keuse maak! “Jesus het gesê: ‘Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word” (9:39).


Jesus staan nou voor jou terwyl jy hierdie laaste dagstukkie van Johannes 9 lees en Hy sê vir jou: “Jy sien My. Dit is Ek wat met jou praat (9:37). Ek is die Lig vir jou wêreld, die Krag wat jy nodig het vir al jou take en die Gids vir jou pelgrimstog deur hierdie donker lewe. Maak oop jou oë en sien My in ‘n nuwe lig en jy sal alles anders sien en ervaar.” Hy konfronteer jou om ‘n keuse, ‘n “beslissing” te maak: om Hom geestelik te sien en die lewe te ontvang of vir ewig in ‘n geestelike duisternis te lewe. Is jy bysiende, versiende of sien jy ‘n paar blinde kolle? Wil jy sien of wil jy blind bly?


“Ons kennis van God moet noodwendig lei tot ‘n intiemer verhouding met Hom, anders loop ons gevaar om Fariseërs te word” (Douglas Rumford).


Gebed: Hemelse Here, ek kyk in die spieël en ek glo dit wat ek kan sien, voel en hoor. Ek sien my liggaam en besittings wat ek deur die jare versamel het en ek dink dat dit nie te sleg lyk en is nie, dat dit die enigste werklikheid is. Dankie Here dat U my egter herinner het dat dit alles maar net ‘n uiterlike vorm is vir ‘n kern wat die eintlike werklikheid is – ‘n Kern wie “die Lig vir my wêreld is, die Krag wat ek nodig het vir al my take en die Gids vir my pelgrimstog deur hierdie donker lewe. Hou my oë oop sodat ek U elke dag in ‘n nuwe lig sal sien en ek alles anders sal sien en ervaar.” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page