top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (16) – GEESTELIKE BLINDHEID


Joh. 9:34-38 – “Hulle sê toe vir hom: ‘Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?’ En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: ‘Glo jy in die Seun van die mens?’ Hy het geantwoord: ‘Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?’ Jesus het vir hom gesê: ‘Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.’ Die man sê toe: ‘Ek glo, Here!’ En hy het Hom aanbid.”


Vergelyk ook Jes. 65:1 – “Ek het my wil geopenbaar aan ‘n volk wat nie na My gevra het nie. Ek het My laat vind deur mense wat My nie in die gebed gesoek het nie. Vir ‘n nasie wat My nie aangeroep het nie het Ek gesê: Hier is Ek! Hier is Ek!”


Die Jode weier om op die man se argumente ag te slaan. Teen sy getuienis kan hulle niks inbring nie, maar in hulle woede beledig hulle hom. En die verhaal eindig waar dit begin het: by blaam, by sonde. En die man word wéér as sondaar gebrandmerk en bevind hom wéér aan die buitekant van die godsdienstige samelewing. Wie dink hy is hy, dat hy as só ’n ellendige sondaar dit uiters aanmatigend vind om hulle, die geleerde godsdienstige leiers, te wil leer? Die tragedie van hierdie situasie is dat die Jode (godsdienstige leiers) niks kon sê teen hierdie argument nie, maar hulle het nog steeds die laaste sê gehad. Sonder verdere debatvoering, verban hulle hom uit die sinagoge. Dit is die eerste keer dat amptelik opgetree word teen ’n volgeling van Jesus, maar met die uitwerping van die man wat siende geword het, het die Jode Jesus ook uitgewerp en gevolglik in hulle geestelike blindheid gebly.


Jesus se afwesigheid is uitsonderlik in hierdie verhaal. Alhoewel Hy die fokus van die verhaal bly, lees ons vir 27 verse niks van Hom nie en nou betree Jesus weer die man se lewe om sy lang reis van blindheid na totale sig te verander. “Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: ‘Glo jy in die Seun van die mens?” Jesus neem die inisiatief en gaan soek die geneesde bedelaar! Verruklik!! En dan beweeg Jesus op die geestelike terrein. Die man kan wel nou sien, maar kan hy geestelik ook sien? Hy sien Jesus voor hom staan en dit is die eerste keer wat hy Hom sien, maar is dit al wat hy sien? Jesus staan voor hierdie blindgeborene en vir die eerste keer sien hy nie net die fisiese Jesus nie, hy sien geestelik ook. Die Gestuurde Jesus wat hom gevind het, het sy oë laat oopgaan vir die Lig van die wêreld! Hy sien die Seun van God! Hierdie man het met ander woorde twee keer die lig gesien. Die eerste keer toe hy fisies kon sien, en die tweede keer toe hy kon sien dat Jesus die Here is.


Hierdie man was vir Jesus belangrik. Hy gaan soek hierdie bedelaar. Wat maak Hy toe Hy hom kry? Hy openbaar Hom so aan hierdie man, dat hy Jesus aanbid. Vir die dissipels was hy ‘n onderwerp vir ‘n teologiese debat en nie iemand om liefde voor te gee nie. Vir sy bure was hy maar net ‘n bedelaar wat die wenkbroue laat lig het; vir die kerkleiers ‘n verleentheid en sondaar; vir sy ouers groot genoeg om vir hom self te sorg, die kerk het hulle bang gemaak om te getuig; en hyself stap rustig aan in die lewe nadat hy gesond gemaak is. Hy huppel nie van blydskap en basuin dit uit dat hy kan sien nie. Maar die man het nie vir Jesus gekry nie, Jesus het hom gekry. Vir Jesus was hy ‘n persoon wie “blind was sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word” (9:3b).


Hoe asemrowend is dit nie? Jesus vind jou terwyl jy nie eers na Hom gesoek het nie! (Jes. 65:1). Soos die man ontvang ons, maar stap rustig aan deur die lewe. Jesus se goedheid oorweldig ons, maar ons is blind daarvoor, al kan ons sien. En soos Jesus met hierdie man gemaak het, soek Hy ons tot Hy ons vind. Hy seën ons weer, en weer, en weer. Hoe reageer ons dan? Ons huppel nog steeds nie. Inteendeel, ons beklaag miskien oor die wêreld wat ons skuld, oor die dinge wat ons glo nog nie na ons kant toe gekom het nie, dinge wat ons darem al verdien het.


Jesus soek ons op wanneer ‘n gemeenskap jou verwerp het, of selfs wanneer jou familie niks met jou te doen wil hê nie; jou vriende skepties geraak het teenoor jou; jou ouers te skaam is om te sê jy is hulle kind; die samelewing hul rug op jou gedraai het; jou kerk jou uitgeban het. Jesus gee nie moed op nie. Jesus kom altyd weer voor jou staan, maak nie saak watter punt jy in jou lewe bereik het nie of watter probleme jy met jou geloof in Hom ondervind het nie. Hy wil hê jy moet Hom sién, die “Seun van die mens”, die “Seun van God”. Hy wil hê jy moet in “Hom glo en aanbid”, die gekruisigde en opgestane Here wat na die hemel opgevaar het – ons Verlosser en Leidsman. Maak Hom jou God, jou Koning!


“Dit is die diepste waarheid van die Christelike geloof: die uitstrek van ‘n leë hand en Jesus vind my om God se genade te ontvang. My gemeenskap met Hom is gewortel in Sy barmhartigheid” (William Temple).


Gebed: Ek dank U genadige Verlosser, dat U my gevind het waar ek was. Ek bid dat hulle, wie steeds in ‘n gebroke wêreld vasgevang is, sal weet dat U hulle ook wil vind en na God toe teruglei. Saam met Paulus bid ek Here dat U deur U Gees aan hulle wysheid gee en God so aan hulle openbaar dat hulle Hom werklik kan ken. Verhelder hulle geestesoë sodat hulle kan weet watter hoop U roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir die gelowiges bestem het (Ef. 1:17-19). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page