top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (15) – GOD LUISTER NA JOU.


Joh. 9:31 – “Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.


Vergelyk ook Jes. 55:7 – Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.”


Die geneesde blindgeborene se toenemende insig omtrent Jesus, gee hom die selfvertroue om met die Jode te argumenteer. Sedert sy geboorte was hy feitlik ‘n nikswerd bedelaar wat op ander moes staatmaak om oor die weg te kom en aan die lewe te bly. Jesus ontferm Hom oor die man en genees hom en nou wil niemand hom glo nie. Die man eien finaal sy eie stem nou dat hy kan sien, terwyl die godsdienstige leiers uiteindelik hul ware kleure wys, hulle volhard in hulle blindheid. Die godsdienstige leiers dring aanmekaar selfversekerd aan op wat hulle “weet”, teenoor die blinde man wat nie weet nie, maar ook nie sy eie ervaring gaan ontken nie. En in die proses neem sy “teologiese” insig en vaardigheid toe.


Sy argument is op die Joodse veronderstelling gebaseer dat niemand enige iets goeds uit hulle eie kan doen nie – “Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.” Die goeie kom van God af want God doen net die goeie. As Jesus dan iets goeds doen wat buitengewoon is, soos om iemand te laat sien, dan kan dit net een ding beteken en dit is dat God na Hom geluister het. In essensie beteken dit dat die Jode in geestelike gevaar verkeer want hulle “weet” nie regtig nie en staan dus nie aan God se kant nie.


‘n Storie word vertel van ‘n ou Israeliese man wat sy lewe lank elke dag na die Klaagmuur in Jerusalem gegaan het om te gaan bid. Vir ure het hy met sy hand daar teen die muur gestaan en aanhoudend sy kop op en af geskud terwyl hy sy gebed prewel. Soms het hy ‘n opgevoude briefie in die klipskeure ingedruk en sy hande na bo gerig. Iemand het dit opgemerk en hom gevra hoe dit voel om daar te bid. Sy antwoord: “Dit voel of ek met die muur praat. Dit voel asof “God nie na sondaars luister nie.”


Jesus het die teendeel vir ons bewys. God luister wel na sondaars! God luister slegs na sondaars want alle mense is sondaars! Hy luister na almal wat in afhanklikheid en nederigheid voor Hom hulle skuld bely. Die Jode het drie keer per dag sekere tye afgesonder om te bid. Maak nie saak waar hulle hul bevind het nie, op daardie spesifieke tye het hulle gestop, met uitgestrekte arms na bo gerig, hoof geboë en gebid dat almal om hulle kon sien en hoor. God was beperk tot hulle tye. Jesus kom stel die orde reg. Christen-wees is ‘n liefdesverhouding. Wanneer ‘n sondaar gered word, kom hy in ‘n liefdesverhouding met God te staan. Hy is die Bruidegom en ons, Sy kerk, is Sy bruid (Op. 19).


‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en na te kom. Waaraan meet God ons liefde? Onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees. As Hy dus vergeefs op my wag omdat ek nie my afspraak met Hom nakom nie, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê en gaan ons liefdesverhouding kwyn. Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen ons en God. God is nie beperk tot ‘n sekere tyd of net op Sondae (Hand. 3:1) asof die God van HEMEL EN AARDE net dáár is en ook net op dáárdie tyd? Ons bid want God geniet ons lof – “Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer” (Ps. 50:14).


“Gebed is die sleutel wat die skatkamers van God se oneindige genade en krag ontsluit. Alles wat God is en alles wat God het, is tot beskikking van die sondaar se gebed”

(R.A. Torrey).


Gebed: Ons Vader in die hemel, en ook hier op die aarde. U wag om van my te hoor en ek het soms so baie om te sê, veral wanneer dit by vraetyd kom. Dit is só ongelooflik dat U intens in my as U skepsel belangstel. U gee hierdie wonderlike vrede vir my want U deur staan altyd oop vir my. Ek kan met vrymoedigheid énige tyd na U toe gaan sonder om te wonder in watter bui U is. U is nooit wispelturig, haastig of te besig om my te ontmoet nie. Dankie dat U “kantoorure” van so aard is dat U enige tyd ontvanklik is vir my hartseer, my nood, my behoeftes. Dankie vir U geduld met my. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page