top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (14) – DIE OU-OU TYDING.


Joh. 9:27-33 – “Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,’ antwoord hy. ‘Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?’ Toe skel hulle hom uit en sê: ‘Jý is ’n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie.’ ‘Dis darem snaaks,’ sê hy daarop vir hulle. ‘Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.’


Vergelyk ook Ps. 146:8 – “Die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief.”


Die blindgeborene begin nou in verset teen die Jode kom. Hulle vraag wek die ergernis by hom en op sarkastiese, tartende toon vra hy of hulle “ook dissipels van hom wil word.” Die “ook” dui daarop dat die siende man hom as gevolg van sy ondervinding nou openlik begin skaar by die volgelinge van Jesus.


Die man se vraag was ’n steek wat die Jode seergemaak het. Dit dryf hulle teen die muur uit en gevolglik reageer hulle met skeldtaal. Die ergste belediging wat hulle in daardie situasie aan die siende man kan toevoeg, is dat hy ’n dissipel is van “hom”, daardie man wat hulle nie eens by sy naam wil noem nie. Daarteenoor is hulle die dissipels van Moses. Hulle bou op die leerstellings van Moses met wie God gepraat het tydens die deurtog deur die woestyn. Die Jode wat op Moses steun, weet dus waar hulle staan, maar “hierdie man”, Jesus, is vir hulle ’n onbekende, want hulle weet nie waar Hy vandaan kom nie. Die Jode was reg, hulle is wel in opposisie teenoor die man en Jesus, maar dit is húlle wat nie in die kant van God staan nie.


Nou praat die man met oortuiging; hy is los van enige vrees vir die Jode. Dat hulle, die godsdienstige leiers, nie weet waar Jesus vandaan kom nie, is vir hom onverstaanbaar. Hulle moet tog weet dat iemand wat ’n blindgeborene kan laat sien, nie ’n onbeduidende persoon kan wees nie. En nou voer hy sy eie argumente aan om te bewys dat Jesus van God kom. Die eerste is dat God gehoor gee aan die gebede van mense wat daarna streef om sy wil te doen. Hy luister nie na iemand wat in die sonde volhard nie, maar wel na iemand wat aan Hom die eer gee wat Hom toekom. Sonder die medewerking van God sou Jesus die blinde nie kon genees het nie. Die feit dat Hy hom wel laat sien het, lewer die bewys dat Jesus nie ’n sondaar is nie maar iemand wat die guns van God geniet.


Sy tweede argument is dat sover as wat ’n mens in die geskiedenis kan teruggaan, geen voorbeeld bekend is van iemand wat die oë van ’n blinde geopen het nie. Dit is ’n wonderwerk wat net God kan doen (Ps. 146:8). Jesus was die eerste wat ‘n blindgeborene genees het. As Jesus dit dus kan doen, bewys dit dat Hy ’n besondere gesant van God is, en trouens oor dieselfde kragte as God beskik. Hy het ‘n nuwe ding van God gedoen – God is die God van die oorspronklike! Die gevolgtrekking is dat as Jesus nie van God afkomstig was nie, Hy niks sou kon doen nie. Nou doen Hy juis die een wonderwerk na die ander. Aan mag en gesag ontbreek dit Hom nie. Deur Sy werke word Sy heerlikheid geopenbaar. Almal kan dit sien en moet daarop ag slaan.


Wie presies is Jesus vir jou? Is jy soos hierdie godsdienstige leiers tydens Jesus se aardse lewe, wat ‘n hardheid ontwikkel sodat jy nie kan reageer nie? Hulle het hardkoppig geweier om na enigiets te luister wat op Hom betrekking gehad het. Of is jy dalk iemand wat Jesus kan erken wat enige oomblik of omstandigheid, inbreek kan maak met nóg ‘n verrassing, nóg ‘n wonderwerk of nóg ‘n nuwe rigtinggewende woord? Mense het die behoefte om die verhaal van Jesus weer en weer te wil hoor, dit laat hulle toeneem in krag, geloof en geestelike groei. Ongelukkkig is daar diégene wat verkies om in “blindheid” in die donker wil bly en nie vir Jesus, die Lig vir die wêreld (9:5), wil kies nie. Die verskil is die keuse “van die duisternis tot die lig en van die mag van die satan tot God” (Hand. 26:18). Vir hulle moet die verhaal van Jesus oor en oor herhaal word sodat hulle oë oopgemaak kan word en hulle daardeur aangeraak word. “Deur in Jesus te glo, sal hulle sondes vergewe word en hulle sal deel word van die volk van God” (Hand. 26:18b).


“Often we have our differences with people, and it is well that it should be so. But the moment insult and abuse and threat enter into an argument, it ceases to be an argument and becomes a contest in bitterness. If we become angry and resort to wild words and hot threats, all we prove is that our case is disturbingly weak” (William Barclay).


Gebed: Jesus Christus, my Here, ek het die behoefte om elke oomblik van U te wil hoor. Al is dit die “ou-ou tyding”, laat dit my toeneem in krag, geloof en geestelike groei. Dit versterk my wanneer dit goed gaan met my maar veral wanneer dit sleg gaan. Dankie Jesus, dat hierdie ou-ou tyding elke keer nuwe waarhede en verrassings uit U bodemlose skatkamer tot my bring. Laat my tog nooit genoeg kry daarvan nie of my dalk koud daarteenoor laat nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page