top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (8) – KEN HOM, EN LEEF!


Joh. 9:10-12 – “Hulle vra toe vir hom: ‘Maar hoe het jou oë dan reg gekom?’ En hy antwoord: ‘Die man met die naam Jesus het ‘n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ ‘Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!’


Vergelyk ook Spr. 3:5-6 – “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”


Wanneer iemand of iets skielik verander, neem die mens se nuuskierigheid oor. Dat ’n blindgeborene siende sou word, was iets heeltemal ongehoord. Daarom maak die gebeurtenis die belangstelling van die mense gaande en wil hulle weet hoe dit gebeur het. Die blindgeborene het nie juis veel verstaan presies hoe Jesus te werk gegaan het sodat hy weer kon sien nie, maar hy het darem geweet dat “die man met die naam Jesus” dit gedoen het en verder weet hy van Jesus niks meer nie.


Hy het niks geweet van Jesus se titels as “Seun van God”, “Seun van die mens” of die “Man van Nasaret” wat besig was om die Jode te probeer oorreed het dat Hy wel die Messias is nie. Hy beskou Hom as “die man”, dus maar ’n iemand. Die feit dat hierdie man se naam Jesus is, is vir hom genoeg. Hy het Jesus trouens nog nie “met ’n oog gesien nie.” Hy verduidelik kortliks wat gebeur het: “Die man met die naam Jesus het ‘n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ ‘Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!” Hy was gehoorsaam aan Jesus se opdrag en op Sy woord vertrou. In sy blindheid het hy “die regte pad” na Siloambad geloop en siende teruggekom!


Soos hierdie blindgeborene siende man, hoef ons ook nie al die teorieë of argumente oor die godsdiens en oor Jesus Christus te verstaan nie. Dit is ook nie nodig om die Bybel van Genesis tot Openbaring te probeer memoriseer nie, maar dit is nodig om die Man van Nasaret, Jesus Christus, te ken! Wanneer jy jou lewe aan Hom oorgegee het en in Hom glo, sal die mense altyd wil weet wat gebeur het. Dit is uiters noodsaaklik dat jy sal weet hoe God in jou lewe werk, hoe jy Jesus ontmoet het en Hy jou lewe onherroeplik verander het. Dit is oor Hom wat alles gaan! Dit is Sy liefde, genade, barmhartigheid en reddende almag wat bepaal of jy sal kan “sien” of “blind” bly. Ken Hom en bly standvastig met vertroue, by Hom.


“Ek het ‘n groot behoefte aan Christus, en ek het ‘n groot Christus om in my behoefte te voorsien” (Charles Spurgeon).


Gebed: Here, Jesaja het gesê dat U die Een is op wie ek my lewe lank kan vertrou (Jes. 33:6), daarom maak ek my vas aan U want ek wéét U is altyd daar vir my. By U kan ek my vrese los en weet U sal sorg. Dankie dat ek op U kan vertrou. Help my om U vertroue waardig te wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page