top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Christusbeeld in Rio

JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (5) – KYK OM TE KAN SIEN!


Joh. 9:1-3 en 5 – “Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: ‘Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?’ En Jesus antwoord: ‘Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word ... Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”


Vergelyk ook Ps. 33:13 – “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.”


Hierdie man is van geboorte af blind. Hy het nog nooit sy ouers of selfs homself “gesien” nie. Hy kon nog nooit enigiets sien nie! Plaas jouself in hierdie man se skoene. Gaan in ‘n pikdonker vertrek in en sluit jou oë dig toe. Wat sien jy? Niks! Dit is wat hy gesien het – NIKS, NOG NOOIT – hy het in ‘n wêreld van niks en donkerte geleef. Elke dag staan hy daar by die tempel en bedel, in die waan dat hy blind is omdat hy gesondig het, want dit is wat die kerkleiers hom geleer het. Hy dink seker nie eers daaraan dat hy gesond kan word nie. Maar hý word gesien: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense.” En “terwyl Jesus wegstap, sien Hy” hom ook. Dit is nie ‘n massiewe Christus standbeeld op die Corcovado-berg in Rio de Janeiro, Brasilië, nie. ‘n Standbeeld wat vreemd is waarvan die oë nie pupille het nie, maar net twee nikssiende gaatjies nie, dit is die lewende Jesus wat hom sien en reageer!


Die afgelope paar maande het Johannes ons deur sy evangelie help sien wat ons anders miskien heeltemal sou mis. Hy het ons egter ook daarop gewys dat diegene wat kan sien, nie sien nie, want hulle kan Jesus nie herken as die Messias nie. Daar is verskeie faktore wat hulle totaal blind maak. Hierdie blinde bedelaar word genees en kan sien. En wanneer hy kan sien, leer hy algaande om ook geestelik te kan sien. Op hierdie manier leer hy Jesus herken as die Seun van die Mens, die Een wat waarlik van God kom wat “uit die hemel kyk en al die mense sien.”


Wat sien die dissipels wat saam met Jesus wegstap? Hulle sien nie die blinde méns raak nie. Hulle sien ’n sonde- en skuld probleem en die gevolge van sonde raak. Hulle wil debat voer oor wie se sonde die blindheid veroorsaak het. Die egte respek vir ‘n medemens gaan verlore want hulle kan die blinde man nie as hul naaste eien nie. Hy word ‘n kerk saak aan wie nie genade kan betoon word nie. Iewers het iemand iets verkeerd gedoen – hy of sy ouers – en daarom is dit net reg dat hierdie arme drommel in hierdie toestand is.


Wat sien Jesus? Jesus sien ’n mens in nood raak, ‘n blinde bedelaar aan wie Hy genade wil betoon. Sy blindheid is niemand se skuld nie en iemand se sonde is nie die gevolg van sy blindheid nie. Hy is blind “sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” Mense kom oor ons pad, en geleenthede doen hulle voor. As ons soos Jesus kan sien, kan ons mense en hulle nood eien, en soos Jesus ‘n dringendheid hê om daarop te reageer – reageer “solank dit nog dag is.” “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd” (Ef. 5:16).


Wat “sien” die blinde man? Hy sien niks. Hy hoor stemme van mense wat debatteer oor wie se sonde hom van geboorte af blind gelaat het. Hy ontvang eers later fisiese sig nadat Jesus hom opdrag gegee het om die klei van sy oë in die Siloambad te gaan afwas (9:7). Soos die verhaal ontplooi, leer hy om Jesus raak te sien as Gestuurde van die Vader. Hy leer om in Jesus as Seun van die Mens te herken en te bely (9:38). Hy kon nooit sien nie en skielik word nie net sy oë fisies geopen nie, sy geloofsoë open ook en hy herken die Lig vir die wêreld.


Wat sien ons? Vorm ons soos die dissipels sonde- en skuld vrae wanneer ons oë op ander mense se ellende val? Kyk ons met Jesus-oë en sien ons mense in nood raak? Sien ons wanneer ander struikel en probeer ons hulle weer ophelp? Sien ons die uitgeworpenes raak en reik ons uit na hulle toe? Sien ons die verwerptes en trek hulle nader? Wanneer Jesus ons blindheid wegneem, leer ons om almal op Sy roetekaart, soos Hy raak te sien. Hy was die skille van ons oë af. Hy reinig ons harte van verblindende sonde, Hy laat ons uitreik na mekaar. In Jesus het ons iets om vir ander te gee. Die Lig vir die wêreld leer ons sien en doen sodat Sy lig deur ons skyn.


“In die armes sien ons Jesus raak, in sy mees hartverskeurende gestaltes” (Moeder Teresa).


Gebed: Here, soos hierdie blinde in Johannes se verhaal, soek U my ook op in genade. Dankie dat U my verlossing bewerk het, my oë van selfgesentreerde blindheid genees het. Dankie dat U U lig in ruil vir my duisternis aangebied het. Deur U lig kry ek hoop in vertwyfeling, moed in ruil vir angs, blydskap in ruil vir hartseer en teerheid in ruil vir hierdie egoïstiese mens binne my. Dankie dat U daar is in ruil vir myself. Help my om die donkerte van my onvermoë te verander en te doen wat reg en goed is, ook aan ander. Help my dat ek nie die lig so vol sal staan sodat ander U nie daar kan raaksien nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page