top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (3) – DIE NAG IS OP HANDE!


Joh. 9:1 en 4 – “Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was .... Solank dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.”


Vergelyk ook Ef. 5:15-17 – “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”


Jesus gaan voort met Sy antwoord aan Sy dissipels oor die oorsaak van die man se blindheid, deur klem te lê op tyd en hoe dit benut moet word. Jesus sluit hier “ons” in en dit is almal wat inderdaad volgelinge van die Here is, Sy dissipels maar ook die gelowiges van alle tye. Ons almal is nie hier op aarde om ’n lewe van ledigheid deur te bring nie, maar om te werk. Wat Jesus betref, bly Hy daarvan bewus dat Hy die Gestuurde is en daarom gehoorsaam bly aan die uitvoering van die werk van sy Vader, maar dit beteken ook dat die volgeling van Jesus ’n opdrag het om as ’n gestuurde van die hemelse Sender uit te voer. Vir die uitvoering van sy opdrag het elkeen ’n beperkte tyd, want die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.


Die vraag oor wie se sonde die blindheid veroorsaak, bly onbeantwoord. Jesus sien eerder ’n geleentheid om die werke van God te doen en daar is trouens ‘n dringendheid by Jesus: “Solank dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het…”. Wat beteken dit? Jesus weet dat sy eie dood op hande is, daar is nie meer baie tyd nie. Binnekort sal Sy genesingsbediening vervang word deur 'n sterwensbediening en dan sal Hy ingesuig word in die sonde en lyding van die wêreld. Binnekort kom die nag, Sy lyding en sterwe, daarom moet Hy nóú werk en hierdie genesing verrig, terwyl dit dag is. Hy doen dit nou, op grond van dit wat gaan gebeur wanneer die nag van Sy lyding en sterwe kom.


Jesus het in Sy ongeveer drie en dertig aardse lewensjare, slegs ongeveer drie jaar gehad vir Sy bediening. Hy het geweet dat Sy tyd beperk was want die kruis het voorgelê en daarom moes Hy alle beskikbare tyd gebruik om “die werk te doen van Hom wat Jesus gestuur het.” Alhoewel Hy uit die ewigheid gekom het en Sy tyd eintlik ewigheidstyd is, was Jesus se aardse tyd amper getel. Hy het egter in hierdie drie jaar die wêreld kom verander, want Hy het die aardse tyd wat vir Hom tot beskikking was, ten volle benut.


Dit maak nie saak wie en watter belangrike persoon ‘n mens is op die aarde nie, president of skoonmaker, daar is net 24 uur in ‘n dag. Hoe ons dit benut, is van allergrootste belang. Anders as Jesus, moet ons eendag verantwoording doen vir die gebruik wat ons gemaak het van ons tyd op aarde. Niemand weet wanneer daardie dag sal aanbreek nie, miskien is dit spoediger as wat mens gedink of verwag het. Môre is daar dalk nie genoeg tyd sodat “óns die werk kan doen van Hom wat (Hy van ons verwag nie); (want) die nag kom, wanneer niemand kan werk nie”. Ons moet dus nooit tyd verkwis nie. Tyd is een van die kosbaarste dinge wat God aan ons skenk. Wanneer God ons ‘n opdrag gee of ‘n beroep op ons doen om iets vir Hom te doen, moet ons dit doen voordat die nag kom en dit vir ewig te laat is. Dit is nodig om elke sekonde met die regte inhoud te vul.


Ons moet tyd gebruik, want elke oomblik is ‘n wonderwerk wat nie weer gaan gebeur nie. As jy iets wil doen, doen dit vandag. Sê jy is jammer, wys nou jou liefde vir iemand, moenie uitstel nie. Môre is dalk te laat. Verlore tyd word nooit weer teruggevind nie! Will Rogers het gesê: “Moenie dat gister te veel van vandag inneem nie." Ons eie C.J. Langenhoven het hierdie pragtige gedig vir ons gegee:


“Met die water wat verby is, sal jou meule nooit weer maal;

Uit die assies op jou vuurherd sal jy nooit geen gloed meer haal;

Van jou jare wat verstryk is, sal jy nooit ‘n uur weer kry;

Van jou afgelegde togte nooit een enkele skof weer ry.”


“Resiger, maak gou, want jy het net een son en wanneer dit ondergaan, sal jy nooit jou bestemming bereik nie. Mag God jou help om jou te haas en nie uit te stel nie”

(Charles Spurgeon).


Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir die vier en twintig uur van elke dag wat U vir my gee, verniet. Ek hoef dit nie eers te koop nie! Help my om te besef hoe kosbaar dit is, dat ek dit ten beste sal benut. Help my dat ek nie suinig met hierdie tyd omgaan nie, maar dat ek dit sal benut om met U te praat en ook sal luister wat U deur U Woord my wil leer. Help my om tyd te maak vir U, my gesin, my familie en vriende. Help my om U lof as diens te soek ná die erediens; U lof te lewe in die gebed ná die kerkgebede; U lof in die lied ná die lied in die kerk. Help my om U te soek in my alledaagse bestaan en U vind, voor die nag arriveer. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page