top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (1) – SY WONDERDADE! (1)


Joh. 9:1-3 – “Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: ‘Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?’ En Jesus antwoord: ‘Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word.”


Vergelyk ook Rom. 8:37-39 – “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”


“Terwyl Jesus wegstap”, moontlik van die dreigende steniging af (8:59), sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was.” In die druk van die teenstand sien hy steeds iemand in nood raak en ontferm Hy Hom om na die man uit te reik en genade aan hom te betoon. Dat hy van geboorte af blind was, was oënskynlik algemeen bekend, ook aan die dissipels. Hulle vra beleefd vir Jesus: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”


Volgens die opvatting van daardie tyd was siekte die straf vir die sonde, en kon die oortredings van die ouers, straf oor die kinders en kindskinders bring (Eks. 20:5). Daarom aanvaar die dissipels dat die man se blindheid die straf moet wees vir sonde, maar was dit sy eie, (Jer. 31:29-30; Eseg. 18), of dié van sy ouers? Jesus verwerp die moontlikhede wat deur die dissipels gestel word om op ’n veel meer verhewe motief te wys. Dit gaan om die werke van God wat sigbaar moet word, soos dit ook was in die geval van Job. Die lyding van die mens dien daartoe dat die heerlikheid van God en van Christus geopenbaar word wanneer die goddelike ontferming en almag uitkoms bring. Jesus wys dus daarop dat die lyding bedoel is om tot ’n ontmoeting met God te lei sodat die werke van God aan die sieke sigbaar kan word deurdat die Here genesing skenk of oorwinning ten spyte van lyding (Rom. 8:37). In hierdie geval is die “werke van God” die wegneem van die liggaamlike en geestelike blindheid waarin hierdie ongelukkige man gebore was.


Jesus se antwoord is glashelder en ‘n belangrike beginsel vir Sy dissipels wat vandag steeds geld: Siekte is nie ‘n straf op sonde nie! Dit is nie soos sogenaamde “geloofsgenesers” verklaar dat siekte se oorsprong van die duiwel af is of God se straf op sonde nie. God sit nie heeldag en nag en kyk waar die mens verkeerd doen sodat Hy hom met ‘n rottang (siekte) kan bykom nie. Dit is nie hoe my God “operate” nie. Ek kan nie en gaan nie siekte en dood teen die rekening van my God van liefde debiteer nie. ‘n Mens kan enige rolspeler se perspektief op jouself van toepassing maak. Ons kan ook miskien soos die dissipels in teologiese debatte vasval of soos die Fariseërs dink aan die implikasies vir jou eie godsdienstige posisie. Die beste is egter om Jesus toe te laat om jou visie algaande te verdiep dat jy Hom as God en Here raaksien, in Hom glo en aanbid. Kyk eerder hoe God Sy grootsheid en almag deur die man se probleem kan bewys as om die skuld op iemand te wil plaas.


Helaas is siekte, hartseerdinge en dood deel van ons aardse bestaan. Ons het egter die versekering dat wanneer dit ons tref, God ons nie alleen los in ons lyding nie (Jes. 41:10; 13). Baie mense sal kan getuig hoe hulle God se omgee ervaar het tydens een of ander krisis, hartseer of swaarkry. Daar was weer verskeie wat byvoorbeeld na verlede naweek se Comrades marathon vertel het dat hulle tydens die wedloop, nou vir ‘n paar maande vooruit gebid het, en as dit nie vir die Here se genade en hulp was nie, sou hulle nie die wedloop kon voltooi het nie. Dit is asof swaarkry maak dat ons God nader voel en helder sien en Sy hulp ervaar. Lyding en swaarkry kan ‘n beproewing wees, dit lei mens na die eina’s en amen’s van die lewe, maar dit eindig gewoonlik tot ‘n ontmoeting met God sodat God se werke sigbaar word.


Daar is mense wat vra: “Maar wat doen sonde dan aan ‘n mens, maak dit dan nie saak nie?” Sonde maak ons miskien nie siek nie en bring dalk nie vir ons teëspoed nie, maar sonde sluit ons oë vir Jesus Christus, ons Verlosser. Dit kan ons blind maak sodat ons nie vir God kan raaksien in die wêreld en veral in ons eie lewens nie. Jesus verander die manier waarop mense na die wêreld kyk deur vir hulle God te wys. Wanneer ons sien hoe groot God is as ons Sy krag ervaar in ons lewens, Sy teenwoordigheid en genade tydens swaarkry en siekte, en begin verstaan hoe lief Hy vir ons is en hoe Hy werk, verander die manier waarop ons na die wêreld kyk. God is besig met ons, is betrokke in ons lewens, beskerm en seën ons – ons moet net ons oë oopmaak sodat ons Hom kan síén.


“Die wonderwerke van Jesus was die alledaagse werke van Sy Vader, op ‘n geringe skaal en spoedig verrig sodat ons dit vandag kan inneem” (George MacDonald).


Gebed: Dankie Here, dat ek U kan vertrou wanneer ek krisisse beleef, dat ek Jesus deur U Gees in my kan beleef! Wanneer ek op my swakste is, is die kanse groter dat U wonderwerke sal verrig as wanneer ek op die kruin van die suksesgolf ry. Dankie dat ek my teleurstellings, probleme, siekte, lyding en swaarkry na U toe kan bring en U juis dan daar is om U Goddelikheid deur U werke bewys. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page