top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS WAS VOOR ABRAHAM AL DAAR – OM GOD TE VEREER!


Joh. 8:50 – “Ek soek egter nie eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter.”


Vergelyk ook Matt. 7:6 – “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”


Jesus het Homself gegee vir die werk van God se verlossende genade en liefde – genade en liefde wat teenoor die sonde triomfeer om die sondaar te red. Die Jode was egter onder die indruk dat Jesus Sy eie eer soek, wat natuurlik heeltemal misverstaan is. Jesus openbaar die heerlikheid en eer van God, nie in eerste instansie sy eie nie. Tog is sy eie eer daarmee gemoeid omdat God, wat deur die Seun werk, juis die eer en heerlikheid van die Seun nastreef. Dit was daarom nie net in dade van gehoorsaamheid of woorde wat Jesus God verheerlik het nie, Hy het God beklemtoon deur Homself te gee om “ge-offer” te word om elkeen wat van God wegdraai, te verlos. Niks was vir Hom ‘n té groot offer nie.


God het Sy Seun na hierdie sondige wêreld gestuur met die opdrag om die uitverkorenes wat die Vader aan Hom gegee het, te kom verlos deur hulle skuld aan die kruis te betaal en sodoende die beeld van God in hulle te herskep. Hy het kom wys dat God die sonde haat maar die sondaar liefhet. Deel van Jesus se (her)skepping van die mens tydens Sy aardse lewe, sê Hy dat ons “moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie en ons moenie ons pêrels voor die varke gooi nie”. Wat bedoel Jesus met hierdie beeldspraak? Wie is die honde en varke wat nie dít wat heilig is en kosbare pêrels, moet ontvang nie?


Jesus bedoel met hierdie beeldspraak dat daar ‘n nugtere onderskeiding is ter wille van die evangelie van God se koninkryk, wat heilig en kosbaar is soos pêrels. God is die God van liefde maar Sy liefde is nie goedkoop nie en Hy laat nie hierdie duur liefde vertrap nie! God is die “Een wat eer vir Jesus soek.” Die evangelie van liefde moet steeds gebring word, sonder onderskeiding, aan mense wat dit nie wil aanvaar nie. (Skrikwekkend om te dink daar bestaan mense wat nie die evangelie wil aanvaar nie!) Dit is dikwels onmoontlik om met diesulkes te gesels oor die evangelie – oor Jesus Christus, Wie die evangelie is! Hul onsensitiwiteit, morele blindheid, intellektuele trots, siniese bespotting en selfs besmette lagie sonde, maak hulle ontoeganklik, selfs ondeurdringbaar vir die evangelie.


As ons God wil vereer, moet ons met nuwe oë na Jesus kyk. Hy het ons Vader onvoorwaardelik gehoorsaam. Jesus het aangehou om te stap na sondaars, sondaars met stukkende lewens wat na Sy stem wil luister (Op. 3:20). Dit is dáár waar ons as verteenwoordigers van God, Jesus se voorbeeld moet volg, al is dit hóé moeilik. Die Hebreërskrywer sê: “Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13). Daar moet dus ten volle gebruik gemaak word van elke beskikbare geleentheid om mekaar met respek te vermaan sodat die bedrog van die sonde ons harte nie verhard nie. Daar moet “elke dag” of gedurig vermaan word teen die misleiding van die oudste strateeg, satan. Die tyd van so ‘n vermaning kan dalk vir ewig verbygaan. Elke dag kan daardie dag straks die laaste “vandag” van God se genade wees.


Dit is altyd moontlik om deur ons optrede, Christus aan ander te wys en só God vereer. Dit is nie nodig om ‘n bordjie om ons nek te hang wat lees ”vroom,” of “godsdienstig” of “voorbeeldig” nie. Wanneer God se eer op die spel is, is daar nie plek vir selfverheffing nie. Dit is dan die tyd om soos Jesus, na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef nie almal te ken nie – God ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie aan iemand anders af te dwing nie. Laat ons nederig met kinderlike gehoorsaamheid op God wag om ons rigting te gee, om op te tree volgens Sy wil. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie wanneer ons dit met die nodige respek en liefde met hulle wil deel, sal God die nodige rekenskap by hulle eis. “Hy is regter.” Hy sal oordeel. Ons kan ten volle op God vertrou en minder op onsself en ons vermoëns staatmaak.


“Wie Jesus se voorbeeld wil volg, moet besef dat diens aan God en diens aan die nederigste medemens vir Hom een en dieselfde ding is” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, daar is baie keer dinge wat my ontstel en hartseer maak, veral wanneer mense onbetrokke staan teenoor U, skepsels volgens U beeld wat nie die luukse van U liefde wíl ken nie. Laat my dan egter nie moeg word om die lig van U vreugde en vrede met die nodige respek, oor te dra aan hulle wat aan die skadukant van die wêreld wil lewe nie. Mag die lig van die liefde waarmee U my oorlaai, oorloop na ander, sodat hulle ook U warmte sal ervaar en met “Christusharte” wíl leef. Gee dat die stempel van U teenwoordigheid in my lewe, my dade, my voorbeeld, alles bydra tot die eer van U groot en liefdevolle Naam. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page