top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GOD IS NIE HULLE VADER NIE (4) – WERKLIKE VADERSKAP (2)


Joh. 8:41b-47 – “Hulle sê toe vir Hom: ‘Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.’ Maar Jesus sê vir hulle: ‘As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers nie uit My eie uit gekom nie, maar Hý het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle My boodskap nie kán verstaan nie! Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen. En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie? Wie ‘n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.”


Vergelyk ook 1 Joh. 3:8-10 – “Wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan om te sondig … Iemand wat ’n kind van God is, doen nie meer sonde nie … Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.”


Alhoewel Jesus toegegee het dat die Jode die nageslag van Abraham is, tref Sy woorde: “Ek praat oor wat Ek by My Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het”, hulle tussen die oë. Hulle besef dat Hy die klem verskuif van die vleeslike afstamming na ’n geestelike verhouding. Jesus bedoel naamlik dat hulle nie in die geestelike sin kinders van Abraham is nie maar ’n ander “vader” het. Hulle het seker besef om kinders van Abraham te wees, hulle nie outomaties in kinders van God verander nie. Hulle gryp nou na ‘n laaste argument en verklaar: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.” Hulle herkoms is dus onberispelik: hulle stam van Abraham af, en hulle het die ware God as hulle Vader.


Wat nou volg, is ‘n geweldige proklamasie van Jesus. God kan nie hulle Vader wees nie, want Hy, Jesus kom van God af. God self het Hom gestuur. As hulle werklik kinders van die Vader was, sou hulle Jesus, die Seun van die Vader, liefhê, en hulle optrede bewys juis die teendeel. Jesus kom nou by die kern van die saak. Die Jode verstaan nie wat Jesus sê nie. Vir hulle is dit maar net woorde waarvan hulle die betekenis of boodskap nie kan begryp nie. Hulle gesteldheid van hart is sodanig dat hulle weier om te glo, en wie nie glo nie, kan die uitsprake van Jesus ook nie verstaan nie. In die diepste gaan dit om die vraag: Wie is hulle geestelike vader? Hulle optrede teen Jesus bewys dat hulle kinders van die duiwel is want hulle bedink ongeregtigheid teen Jesus en tree met haat op teen Hom, hulle “broer” (1 Joh. 3:8-10). Die duiwel word voortdurend deur die sondige begeertes aangedryf en hy gebruik die mense wat sy gees geërf het, om aan sy wil uitvoering te gee.


Wat presies doen die duiwel? “Hy was van die begin af ‘n moordenaar.” Van die skepping af, was hy ’n moordenaar. Deurdat hy Adam en Eva tot sonde verlei het, het hy die dood oor hulle gebring (Rom. 5:12) en van Kain ’n moordenaar gemaak (1 Joh. 3:12). Die duiwel “staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie.” Die volkome waarheid is alleen by God te vind en word deur Jesus Christus geopenbaar, maar die duiwel verset hom teen hierdie waarheid en teen Jesus, omdat die duiwel die teenoorgestelde van die waarheid beliggaam. En daaruit vloei die derde kenmerk: “Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.” Dit het hy teenoor die eerste mense in die paradys gedoen en hy gaan daarmee voort sodat alles wat leuenagtig is, sy oorsprong by die duiwel het. Deur hulle optrede openbaar die Jode ál drie hierdie kenmerke: hulle wil Jesus doodmaak, hulle weier om die waarheid te aanvaar en hulle volhard in die leuen teen Jesus.


Die teenstelling tussen Jesus, die Sondelose, en die Jode, die sondaars, word nog skerper gestel deurdat Hy hulle uitdaag om te bewys dat daar by Hom sonde is. Dit gaan nou nie om die algemene vraag na die waarheid nie, maar na die daad van sonde. As hulle nie kan bewys dat Hy onwaarheid praat nie en tog weier om in Hom te glo, is hulle sonde des te groter. Met hierdie uitspraak het Jesus Sy vyande in hulle valsheid aan die kaak gestel.


Daar moet ’n geestelike verwantskap met God bestaan voordat iemand die woorde van God kan aanvaar en gehoorsaam. Waar so ’n geestelike verwantskap nie bestaan nie, is dit onmoontlik om na die woorde van God te luister. Dus, ’n mens moet ’n kind van God wees, om die woorde van God te kan glo. Wie dink jý, is Jesus? Geen mens kan sommer net ‘n antwoord opmaak nie, want die waarheid blyk uit jou dade!


“In Jesus sien ons alles wat ons van God kan weet; In Hom het ons ook alles wat ons ooit van God kan nodig hê” (Athanasius 320 n.C.)


Gebed: Dankie Jesus dat U die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan het met U oorwinning aan die kruis. Hulle kan nou net in kettings agter U aan voortstrompel, terwyl U as die Groot Oorwinnaar vooruitstap. Dankie Vader dat U my saam met Christus lewend gemaak het deur my sondes aan die kruis vas te spyker (Kol. 2:14-15). Help my Here om my oog gevestig te hou op U met my aardse stryd teen die sonde. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page