top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE JODE KEN JESUS NIE – WIE IS JY?


Joh. 8:25-30 – “Hulle vra Hom toe: ‘Wie is jy?’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Waarom praat Ek nog met julle? Ek kan baie dinge oor julle sê en ‘n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.’ Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Daarna sê Jesus vir hulle: ‘ Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie maar net verkondig wat die Vader my geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.’ Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.”


Die Jode wou maar net nie verstaan wat Jesus vir hulle probeer leer het nie. Hulle was gedurig met Hom in ‘n woordestryd gewikkel, of, hulle het nie mooi verstaan wat Hy bedoel het nie. Wanneer hulle wel verstaan het, weier hulle om te aanvaar dat Hy meer is as ’n mens. Hulle hou Hom vir ’n valse aanspraakmaker en vra: “Wie is jy?” Hulle bedoel eintlik: “Wie verbeel jy jou dat jy is?” Teenoor so ’n verhardheid van hart is Jesus se prediking nutteloos en daarom gee Hy uiting van sy teleurstelling, miskien moedeloosheid – “Waarom praat Ek nog met julle?” Waar Hy voortaan met die Jode te doen kry, is Sy gesprekke eerder óór hulle as mét hulle.


Die optrede van die Jode teenoor Jesus is van so ’n aard dat Hy genoeg rede het om ‘n oordeel oor hulle uit te spreek maar Hy weerhou Hom daarvan, omdat die tyd daarvoor nog nie gekom het nie. Vir die Jode is dit nog die genadetyd. Daarom hou Jesus Hom by Sy opdrag om net te sê wat Hy van die Vader gehoor het. Die Vader het die Seun gestuur, nie om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (3:17). En die Vader is opreg in sy bedoelinge, betroubaar en geloofwaardig. Die boodskap van redding gaan trouens nie net na die Jode toe uit nie, maar is bedoel vir die hele wêreld.


Daar sal egter wel ’n tyd kom dat die Jode tot ware insig sal kom. Dit sal wees “eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het”. Met hierdie woorde het Jesus op Sy kruisiging gesinspeel. Jesus verklaar dat die dag sal kom wanneer hulle sal begryp dat Hy die Naam dra van “Ek is wat Ek is” en aan God gelyk is. Mense sal dan besef dat hulle met die almagtige God van hemel en aarde self te make het wanneer hulle voor Jesus se kruis kom staan – dít is waar Sy ware identiteit, naamlik dat Hy God is, blootgelê is. Wie in sy eie leeftyd nie die insig verkry nie, sal daartoe gedwing word op die groot dag wanneer “elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is” (Fil. 2:10).


Daar is ongelukkig vandag steeds mense wat vir Jesus vra: “ Wie is jy?”. Mense wat hopelik “eendag” sal besef dat Hy Jesus Christus, ons Verlosser is. Solank hierdie ongelowiges net weet dat in God se kalender nie ‘n “eendag” is nie, net Maandag tot Sondag en Hy is ook nie ‘n standbeeld of mooi skildery êrens in die wêreld nie. Hy is die lewende, opgestane Jesus. Op die Corcovado-berg in Rio de Janeiro, Brasilië, is ‘n massiewe “Christus standbeeld verhoog” sodat al die inwoners in Rio dit gelyktydig kan sien. Daar is egter twee dinge wat vreemd is aan hierdie standbeeld – die oë het nie pupille nie, daar is net twee niksseggende gaatjies. Die tweede vreemde ding is die beeld se hart. Op die buitekant van die beeld se mantel is daar ‘n duidelike hart uitgekerf, ‘n hart van klip. Hierdie twee vreemde verskynsels laat mens onwillekeurig vra: “Watter soort Verlosser is dit dié?” Blind en met ‘n hart van klip, sonder liefde, ‘n stuk beton. ‘n Blinde en hartelose verlosser. Niemand kan tog so ‘n verlosser wil hê nie!


Daar is egter mense wat juis só ‘n Verlosser het, ‘n Jesus wat gerieflik byderhand is wanneer jy Hom nodig het. Maak nie saak of jy Hom regtig ken nie en jy hoef ook nie ‘n verhouding met Hom te hê nie. Al wat nodig is, is dalk om ‘n transaksie met Hom aan te gaan. Vir 52 Sondae ‘n jaar sal jy na iemand luister wat oor Hom preek en in ruil daarvoor soek jy genoeg genade vir ingang tot die hemel. ‘n Jesus met wie jy kan onderhandel, die Gewer van alles wat jy vra, iemand wat iets vir jou kan doen en verkieslik ook net wanneer jy dit so wil hê. ‘n Verlosser wat nie ‘n hart hoef te hê nie en ook nie kan sien nie, want jy sal vir Hom sê wat jy nodig het en vra om nie alles te sien wat jy doen nie. Jy stel nie belang in Sy liefdevolle hart nie en ook nie in oë wat jou lewe kan rig in die regte weë nie.


“Christus het Sy eie hart gegee: gebroke, verwond, bloeiend; die offerande van Sy liefde, en dit na ons toe gebring as ‘n geskenk. Uit Sy eie lyding, vernedering, smart en worsteling het Hy ons verhef tot ewigdurende oorvloed en voordeel” (Henry Ward Beecher).


Gebed: Dankie tog Here, U as ons Verlosser is anders as die verlosser-beeld in Rio. My Verlosser het op Golgota, die plek van verskrikking, met uitgestrekte arms die bordjies vir altyd verhang. U is deur God verhoog om my te red. U deurboorde hande is die bewys van God se liefde en genade vir my as sondaarmens; U oë, gesig en liggaam was pap geslaan vir my; U was verlaat deur U vriende vir my; U hart ken elke worsteling en hartseer van my; U uitgestrekte arms is gerig na my en U nooi my uit met ‘n belofte: “Kom na My toe – Ek is by jou al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Hierdie eensame bebloede Jesus van die kruis, het die swaard van die Waarheid, daarom kan ek leef! By die kruis van Verskrikking, het U my bevry en my oë geopen vir God se genade. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page