top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VROU WAT OP OWERSPEL BETRAP IS (4) – NOG ‘N KANS!


Joh. 8:9-11 – “Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: ‘Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?’ ’Niemand nie, Here,’ sê sy. Toe sê Jesus: ‘Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”


Jesus buk en skryf weer op die grond. Daardeur gee Hy aan die teenstanders geleentheid om na te dink oor Sy woorde. Mettertyd begin die oudstes wegloop. Hulle was die ervare leiers van die jongeres, en as die vrou wederregtelik gestenig word, sou hulle die verantwoordelikheid daarvoor dra. Buitendien brand die woorde van Jesus in hulle gewete en weet hulle dat hulle daarteen geen verweer het nie. Hulle eie sonde het nou vir hulle meer aktueel geword as die oortreding van die vrou. Wanneer almal weg is, bly net die vrou daar in die middel van die kring mense staan.


Toe die laaste voete behalwe dié van die aangeklaagde vrou verdwyn het, het Jesus weer opgestaan en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” Jesus spreek die vrou beleef aan en bewys daardeur dat Hy haar nie verag of verwerp nie. Sy het onder die indruk gekom van Sy gesag en majesteit, en antwoord: “Niemand nie, Here.” En op daardie oomblik, maak Jesus die genadedeur vir haar oop, die genadedeur tot ‘n rein lewe – en Hy sê: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Dink net die verbasing en die trane van verligting wat gevloei het oor die wange van hierdie vrou wat ʼn paar oomblikke tevore nog die doodstraf in die oë gestaar en nou in die liefdevolle oë van die Here Jesus gekyk het?


Wat het Jesus eintlik gedoen? Hoe het Hy hierdie netelige saak bereg? Jesus verklaar dat Hy ook nie die oordeel oor haar gaan voltrek nie. Hy het haar nie van haar skuld vrygespreek nie maar eerder bevestig dat sy volgens die wet van Moses ’n sonde begaan het waarop die doodstraf rus. Maar ten spyte van haar owerspel, gaan Hy nie die verdiende straf toepas nie. Hy het wel vir haar ’n boodskap. Daar moet by haar ’n radikale lewensvernuwing intree. Hy verklaar nie dat sy in vrede kan gaan omdat haar sonde vergewe is nie, sy het immers nie berou oor haar sonde getoon nie. Maar Hy gee haar ‘n tweede kans. Hy bewys genade en Hy wys haar die weg tot ’n nuwe lewe van reinheid en geregtigheid.


Tweedens het Hy die genadige hart van God geopenbaar. Ware berouvolle sondaars moet die geleentheid gebied word om hulle tot God te bekeer, eerder as om hulle summier hier en nou tot die dood te veroordeel. Eendag, wanneer almal voor die "groot Wit Troon" moet verskyn, sal die finale oordeel uitgespreek word (Op. 20:11-15). Dan sal die wette van God toegepas en regverdige, ewige vonnisse opgelê word vir alle ongeregtigheid wat deur die mensdom gepleeg was. Huidiglik moet die genadetyd aangewend word om die mens tereg te wys, om vir hom te wys dat daar ‘n meer vervullende manier van lewe is, 'n manier wat God behaag en tot seën is vir almal om hom. Jesus het gekom om te soek en te red dié wat verlore is en nie om hulle nou al te veroordeel nie.


Die vrou het omgedraai en in naamloosheid weggeloop. Ons lees nêrens weer van haar in die Bybel nie. Maar een ding is seker: sy het daardie oggend vir Jesus gesien, en Hy vir haar. As sy ná daardie dag op Golgota na die kruis kon gaan, sou sy gesê het: “Dit is Hy!” Sy sou Jesus se hande erken, die enigste wat nie klippe vasgehou het nie. Sy sou Sy stem herken het, die stem wat gesê het: “Vader, vergewe hulle .....” En sy sou Sy oë herken het, oë wat haar nie gesien het soos sy was nie, maar soos sy bedoel was om te wees. Sy sou haar en ons Verlosser gesien en herken het!!


Net soos hierdie vrou, net soos die skare, net soos die godsdienstige leiers van daardie tyd, staan ons voor God, Jesus Christus, ons Verlosser wie se hart vol liefde is en oë wat sien – oë wat nie sien wie en wat ons is nie, maar wat ons kan wees. Anders as die mense daardie oggend by die tempel, kan ons met God praat. Ons kan diep met Hom in gesprek tree, ons kan wéér sê dat ons werklik glo. Ons kan beloftes maak dat ons gaan poog om elke dag wéér en wéér tot Hom bekeer. Ons kan belowe dat ons gaan meehelp om Sy koninkryk, waar ons beweeg in die kerk en wêreld, meer en meer sigbaar maak. En ons kan vra dat Hy ons deur Sy Gees daarin moet help.


"How I wish that there was some wonderful place called the ‘Land of Beginning Again’, where all our mistakes and all out heartaches and all our poor selfish grief, could be dropped like a shabby old coat at the door, and never put on again" (Unknown).


Gebed: Onse Vader, week na week kom ons ook na U tempel en kom luister ons na U Woord, sing ons tot eer van U Naam en aanbid ons in afhanklikheid tot U. Maar ... wat gebeur as dit alles verby is? Wat gebeur as U deur U dienaar klaar gepraat het? Sommige van ons raak weg, een vir een, en niemand sien hulle weer nie? Here, laat ons wees soos hierdie vrou wat gebly het ... en bly. Laat ons weer kom ... en weer, om te hoor: “Jy is vergewe. Ek maak jou nuut. Gaan, gaan probeer weer, en moenie meer sondig nie. Ek gee jou nog ‘n kans!” Laat my reageer op U vrae: “Waarvoor gaan jy jou oë gebruik? En jou hande? Wat gaan jy maak met die feit dat God jou uniek gemaak het, elkeen met sy besondere gawes, vermoëns en talente? Moenie toelaat dat ons wegstap nie, wegstap van U Vaderhart, ‘n hart van allesdeurdringende en allesomvattende liefde. Laat ons met “Christusharte” leef eerder as om “klippe te wil gooi”. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page