top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


STROME LEWENDE WATER (2) – FONTEIN VAN DIE LEWE


Joh. 7:37 – “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”


Vergelyk ook Matt. 11:28 – “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”


Jesus nooi dus die Jode uit om hulle geestelike dors te kom les by die Een wat die water het wat werklik lewe kan gee, soos Hy inderdaad dit reeds by die put met die Samaritaanse vrou (Joh. 4) ook gedoen het, en soos Jesaja reeds eeue tevore belowe het: “Kom, almal wat dors het, kom na die water toe …” (Jes. 55:1). Dít juis is die nuwe element in die godsdiens wat Jesus na vore bring: die lewende water wat Hy gee, is daar vir almal – nie net vir die Jode nie, maar vir almal, ook vir die “Samaritane.”


Hierdie aanbod geld vir álle dorstiges – vir mense wat ‘n gemis in hulle lewens ervaar, ‘n gemis aan lewe en oorvloed, aan betekenis en integriteit. Hierdie water word nie maar net ’n gawe wat ons vir onsself kan hou nie – dit word ‘n opborrelende fontein. Dit is veel meer as net die nuwe toestand van gered te wees. En hierdie is só ‘n belangrike boodskap, dat dit geen wonder is dat Johannes op die Griekse eiland Patmos sy Openbaring afsluit met dieselfde boodskap: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op. 22:17).


‘n Sekere Bowden vertel hierdie storie: “Die Kruik sê vir die Fontein toe hy daar kom om gevul te word met suiwer water: ‘Ek hoop nie ek kom te dikwels om gevul te word nie, maar ek word leeggetap en moet herhaaldelik gevul word.’ Die borrelende Fontein antwoord: ‘Moenie sleg voel of bekommerd wees oor jou dikwelse besoek nie, jy is maar een van baie wat met dieselfde behoefte hierheen kom.’ Die Kruik antwoord: ‘Maar jy is uiters vrygewig om aan almal te gee wat kom skep!’ ‘Ek weier niemand ooit nie en stuur ook niemand ooit leeg weg nie en ek verarm ook nie al gee ek baie weg. Ek vloei juis om te voorsien in die behoeftiges van dorstiges, en elkeen wat ‘n behoefte het, kan maar vrylik kom skep, dit is verniet!”


Dit is maar net ‘n storie van die Fontein en ‘n Kruik. Die waarheid egter is: Jesus nooi ons uit om by Hom, die Fontein van die lewe te kom skep. Ons behoort gereelde besoeke af te lê by Jesus vir aanvulling van geestelike voorrade. Die genade wat gister ontvang is sal nie in die behoeftes van vandag voorsien nie. Daarom kan ons die Fontein elke dag, 24/7, besoek, Hy “weier niemand ooit nie en stuur ook niemand ooit leeg weg nie en Hy verarm ook nie al gee Hy baie weg.” Sy genade is gratis vir almal wat daarna hunker. Wie ookal dors het, kan kom skep by die volheid wat daar in Christus Jesus is, selfs al is die “kruik” stukkend.


“Die woorde van Christus weerspreek nie die feit dat gelowiges tot die einde van hulle lewe oorvloediger genade vurig begeer nie. Hy bedoel immers nie dat ons so drink dat ons van die eerste dag af volkome versadig is nie, maar wel dat die Heilige Gees ’n altyd vloeiende fontein is. Daar is dus geen gevaar van ‘droogte’ in die lewe van iemand wat van die geestelike water gedrink het nie” (Johannes Calvyn).


Gebed: Dankie Here vir die uitnodiging om by U te kom drink wanneer ek dors het. Ek kan nie sonder water leef nie en net so kan ek ook nie sonder U leef nie en beslis ook nie wil waag om sonder U te sterf nie. Ek bid vir elkeen wat in die nood van sy of haar verlorenheid na uitredding smag, om op U uitnodiging te reageer en na U toe sal gaan om daar sy of haar geestelike dors te les, want daar is geen ander weg tot redding nie. Alleen by U, die Fontein van die lewe, is ’n bruisende, opborrelende, oorvloediger lewe te vind. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page