top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS SÊ DAT HY WEGGAAN – SOEK HOM BETYDS


Joh. 7:32-36 – “Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem. Jesus sê toe: ‘Nog net ‘n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.’ Toe sê die Jode vir mekaar: ‘Waarheen sou Hy van plan wees om te gaan dat ons Hom nie sal kry nie? Hy is tog nie van plan om na die Griekssprekende Jode in die buiteland te gaan en die Grieke daar te leer nie? Wat bedoel Hy met die woorde: Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie?”


Vergelyk ook Amos 8:12 – “Die mense sal ronddwaal van see tot see, rondslinger van noord tot oos om die woord van die Here te soek, maar hulle sal dit nie kry nie.”


Die Fariseërs het nie die mag om op te tree nie en besluit saam met die priesterhoofde om die tempelpolisie te stuur “om Jesus gevange te neem.” Laasgenoemdes was die hoofde van die priesterfamilies en lede van die Joodse Raad, ook genoem Sadduseërs, wat ’n hooghartige houding van afsydigheid teenoor die volk aangeneem het. Die Fariseërs het onder die volk beweeg en was ook die voorgangers in die sinagoges. Hulle het dus gou te wete gekom wat die volk oor sake dink, en in hierdie geval oor die optrede van Jesus wat ongehinderd in die tempel voortgegaan het om die volk te leer (7:26).


Die besluit om Jesus met geweld te verwyder verander wanneer Hy ‘n uitspraak lewer wat vir hulle heeltemal onverstaanbaar is. Jesus verklaar dat Hy “nog net ‘n kort tydjie by hulle is, en dan gaan Hy terug na Hom toe wat Hom gestuur het.” Jesus weet dat Hy weggaan maar die inisiatief is nie in die hande van die Jode nie. Dit is die raadsplan van God wat uitgevoer sal word, en daardie plan sal volgens die tydsbepalinge van God verloop. Jesus se werk sal dus nie deur ’n ingryping van die Jode beëindig word nie, maar dit sal voltooi word op die tyd wat die Vader bepaal het. Hy gaan weg, dit wil sê Hy sal die Jode verlaat en nie meer met hulle praat nie. Omdat hulle nie die Vader deur wie Jesus gestuur is, ken nie (7:28), begryp hulle nie Sy woorde nie. In die uitvoering van Sy sending bly Jesus aan die Sender getrou en gehoorsaam. Die poging van die Jode om Hom ontydig gevange te neem, kan nie slaag nie.


In die woorde van Christus is daar ’n bedekte toespeling op sy dood. Hulle sal “Hom soek en Hom nie kry nie”, het nie betrekking op die poging om Hom gevange te neem nie, maar ’n soeke wat gebore is uit die besef dat Hy werklik die Verlosser is. Daar sal ’n tyd kom waarin daardie soeke vergeefs sal wees omdat die gunstige tyd verby is. Iets van die berou wat te laat kom, tree aan die lig wanneer “al die mense wat saamgedrom het om die skouspel te aanskou en Jesus se sterwe aanskou het, verslae huis toe gaan” (Luk. 23:48). Vir hulle was die tyd om Jesus te soek en te kry nou verby; die tyd vir die oordeel van God het gekom, “dan sal mense na Hom roep en Hy sal nie antwoord nie, na Hom soek en Hom nie kry nie” (Spr. 1:28).


Die skeiding tussen die Jode wat Hom verwerp het, en Jesus het ingetree, en waar Hy heen gaan, “kan hulle nie kom nie.” Hy gaan na die Vader in die hemel, en daar kan die vyandige Jode nie kom nie, omdat hulle deur Jesus en ook deur God verwerp is. Die Jode se onbegrip lei weer tot ’n misverstand. As ongelowiges soek hulle ’n eie verklaring. Hulle dink dat Jesus die gevaar van gevangeneming wil ontvlug deur na die buiteland uit te wyk en daar kontak te soek met die Griekssprekende Jode. Op hierdie wyse ontstaan ’n misverstand omtrent Sy heengaan, net soos daar voorheen ’n misverstand was omtrent Sy herkoms (7:26–27).


Hulle herhaal die woorde van Jesus letterlik soos Hy dit uitgespreek het. Hulle het die gevoel dat daar ’n verborge betekenis in die uitspraak is en dat hulle die betekenis nie kan snap nie. Hulle maal oor die raaiselagtige van Jesus se uitspraak en besef nie dat Hy besig is om hulle tot bekering te roep nie. Dit bring ons van aangesig tot aangesig tot die beloftes en dreigemente van Jesus. Tydens Jesus se Bergpreek sê Hy vir die skare: “Soek, en julle sal kry” (Matt. 7:7) en nou by die tempel tydens die huttefees verander Hy Sy belofte na ‘n dreigement: “Julle sal My soek en My nie kry nie.” Hoe nou?


Eeue vantevore het die profeet Jesaja hierdie twee begrippe baie goed opgesom: “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is” (Jes.55:6). Mense raak só maklik verstrik in hul sonde van ongeloof veral met die afsterwe van ‘n geliefde, ‘n tragedie die familie tref of wanneer dit finansieel onmoontlik lyk om ‘n bestaan, en ... en ... en ...! Calvyn voeg daarby dat die mens deels ongelowig is “want ongeloof is so diep gewortel in ons harte, en ons is so geneig daartoe, dat elkeen ‘n moeilike stryd voer om homself te oortuig van dit wat ons met die mond moet bely: ‘God is getrou!”


Dit is ‘n feit dat die lewe kort is. Fisiese en verstandelike krag neem af namate ons ouer word. Om te wag vir “eendag” om Jesus te soek, mag dalk te laat wees want die fisiese en verstandelike krag mag dalk nie meer daar wees nie. Op God se kalender is daar ongelukkig ook nie ‘n “Eendag” nie, maar wel ‘n Maandag tot Sondag, ‘n “Vandag”“Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” (Heb. 3:14-15). Moenie uitstel nie! Soek Hom “vandag” terwyl Hy nog te vinde is.


“Christianity does not look on this world as one which God very occasionally invades; it looks on it as a world from which he is never absent. If there is no sense of need, we cannot seek, and if we cannot seek, we will never find” (William Barclay).


Gebed: Christus Jesus, terwyl daar nog ‘n “vandag” is wil ek bid vir almal wat U nie soek nie. Dat hulle sal ophou om met U te stry; sal ophou om die kennis wat hulle van U in hulle harte het, te onderdruk; om met hulle oë te sien en ore te hoor van dit wat U met die skepping doen en reeds vir sondaars gedoen het; sal ophou om met hul denke van U af weg te hardloop; sal ophou met argumente teen U en sal ophou om te leef asof U nie bestaan nie. Here ek bid dat hulle op hulle knieë sal neerval en U erken en U sal loof as die Seun wat opgestaan het, die Een “wat die sleutels van die dood en doderyk het” (Op. 1:18b). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page