top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


NASARET VANDAG - DIE "KERK VAN AANKONDIGING" IN DIE VOORGROND

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES – JESUS IS DIE CHRISTUS (3)


Joh. 7:27-28 – “Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.’ Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: ‘Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit My eie uit gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie.”


Vergelyk ook Mark. 15:39 – “Hierdie man was werklik die Seun van God”.


Hy is in ‘n obskure dorpie gebore, die buite-egtelike seun van ‘n vrou uit die arbeidersklas, eintlik nog ‘n jong dogter. Sy eerste rusplek was ‘n voerbak vir diere. Hy het in dieselfde onbelangrike dorpie grootgeword waar hy sy pa, wat in die geheim wou vlug toe hy hoor sy verloofde ‘n baba verwag, in ‘n skrynwerkerswinkel gehelp het totdat hy dertig jaar oud was. Hy het daarna vir hom vriende gekies wat eintlik maar van die armstes was – die meeste van hulle vissermanne. Hy het gemeng met die grootste sondaars van die dag onder andere tollenaars, prostitute en mees gehate bure, die Samaritane.


Sy aardse lewe was maar van weinig belang. Hy het nooit ‘n boek geskryf nie of enige amp beklee nie. Hy het nooit ’n eie huis gehad nie en die veld was sy slaapplek met ‘n klip as kussing. Hy het nooit enige universiteit bygewoon nie. Hy het nooit enige groot stad besoek nie want hy het nooit verder gereis as ‘n paar honderd kilometer van die plek waar hy gebore is, en dit moes hy te voet doen want hy het nie eers ‘n donkie of ander ryding besit nie. Hy het trouens niks gedoen wat gewoonlik met beroemdheid geassosieer word nie. Hy het geen getuigskrifte gehad behalwe vir dit wat hy self was.


Hy was net 33 toe die openbare mening teen Hom gedraai het en selfs sy beste vriende hom in die steek gelaat het. Een van hulle het hom selfs aan Sy vyande verraai, waarna Hy deur ‘n skynverhoor gegaan, ter dood veroordeel, en tereggestel is volgens een van die grusaamste metodes van Sy tyd. Terwyl Hy sterwend was, het Sy laksmanne vir besit van Sy kleed gedobbel – Sy enigste besitting op aarde. Ná Sy dood is Sy liggaam in ‘n geleende graf geplaas deur die toedoen van ‘n geheime vriend.


Sedertdien het twintig eeue gekom en gegaan, en vandag is Hy die sentrale figuur van die menslike ras; die Een wie se geboortejaar die jaartelling van die Westerse wêreld bepaal word en selfs deur ateïste, aanvaar word. Al die leërs wat nog ooit opgetrek het, die vlote wat ooit geseil het, al die parlemente wat ooit gesit en al die leiers wat ooit geregeer het, kon die lewe op aarde nie in dieselfde mate beïnvloed as hierdie EEN LEWE nie! Níks was ooit weer dieselfde sedert daardie dag wat ‘n Romeinse offisier, tydens hierdie Man wat Sy grootste oorwinning behaal het aan ‘n vloekhout, erken het: “Hierdie man was werklik die Seun van God” (Mark. 15:39). Van tóé af het die wêreld besef .......


Alhoewel Hy in ‘n stal gebore is, het Hy tog die son, maan en hemelruim uitgestrooi; diere was Sy “gaste” terwyl Hy na Sy geboorte, in ‘n eenvoudige krip gelê het, tog behoort “die wild op duisend berge” aan Hom; Hy het in ‘n skrynwerkerswinkel gewerk en tussen gewone mense gewoon, tog het Hy die mag besit om duisende te voed, siekes gesond te maak, blindes laat sien en mense se lewe na die Lig gedraai; Hy het as ‘n gewone kind tussen mense groot geword, tog het Hy die wêreld ‘n nuwe konsep van wat “koninkryk” beteken, geleer. Hy was in drie jaar gebonde aan tyd om alles op aarde gedoen te kry waarvoor Hy getaak is, tog het Hy die ewige tyd daargestel van vóór Christus (v.C.) en ná Christus (n.C.); Hy het nooit ‘n gebou self gebou nie, tog is Hy die fondament van die kerk wat Sy Naam dra; Hy was ‘n “Man van lyding wat pyn geken het “ en selfs bloed gesweet het in Getsemane, tog kan Hy miljoene se hartseer en pyn omkeer in dawerende vreugde; Hy is met ‘n verskeurde liggaam gekruisig, tog het Hy gekies om daar te bly hang om vir ons skuld te betaal; Hy is deur mense verneder tot in die dood, tog het Hy opgestaan uit die dood as Verheerlikte en Oorwinnaar oor die dood, om vir dieselfde mense wat Hom verneder het, te pleit by God – Sy Naam is die Naam van alle name – Christus Jesus, ons Here!!! Waarlik, Jesus is anders – Hy ís CHRISTUS!!!


“Die sterwende Christus is die bewys van die woede van God teenoor die sonde; maar die lewende Christus is die bewys van God se oneindige liefde en vergifnis” (Lorenz Eifert).


Gebed: Ons Vader in die hemel, U ingryping in die menslike geskiedenis bly vir my ‘n misterie. Die maagdelike geboorte van ons Here Jesus Christus, bly ‘n raaisel vir my gewone menslike verstand. Drie van die vier vroue in Sy geslagsregister was met skandale oortrek, heidense afkoms, vroue wat berug was in hul gemeenskap, vroue met ‘n skandaal wat Jesus se aardse “papiere” nie goed maak nie. Maar dankie Jesus, dat U juis aarde toe gekom het om vir mense soos ek, met ook die verkeerde “papiere”, ‘n nuwe kans by God te gee. Omdat die handtekening van U kruisbloed oor my lewe geskryf is, is ek iemand wat iewers saak maak. Dankie dat U my van hoek tot kant skoon gewas het met U bloed. Dankie Gees van God dat U my elke dag waarborg, dat ek, sondaarmens, saak maak in die hemel. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page