top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


"JA, JULLE KEN MY!"

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES – JESUS IS DIE CHRISTUS (1)


Joh. 7:25-29 – “Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: ‘Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie? En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie. Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Christus is? Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.’ Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: ‘Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit My eie uit gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.’


Onder die hoorders van Jesus was daar verskillende groepe en elke groep het op sy eie manier gereageer op die prediking van Jesus. Daar was die volksleiers, “die Jode” wat die Joodse Raad, die Sanhedrin, van sewentig priesters, skrifgeleerdes en oudstes, onder voorsitterskap van die hoëpriester, uitmaak. Hulle het oor die geestelike en tydelike belange van die volk gewaak en as geregshof gedien. Dit was dus hulle plig om kennis te neem van die optrede van hierdie nuwe godsdienstige leermeester, Jesus Christus, daarom dan die vyandige gesindheid en planne om Hom uit die weg te ruim.


Dan was daar die skare van feesgangers van elders wat graag na Jesus geluister het maar onseker was (7:12), en verontwaardig was oor die gedagte dat daar mense was wat vir Jesus wou doodmaak (7:20); en ’n derde groep was sekere inwoners van Jerusalem wat iets van die moordplanne gehoor het en wat nou minagtend na Jesus as “hierdie man” verwys wat weet dat Hy van die agterlike Nasaret vandaan kom (1:46).


Hy lyk ook glad nie soos hulle gedink het die komende Messias sal lyk nie. Hulle het gedink die Christus (Christus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord Messias), sal sommer so van nêrens af verskyn en sy herkoms sal tog ietwat misterieus wees. Hy voldoen nie aan die misterieuse vereistes wat húlle vir die Messias stel nie. Daar is niks wat Goddeliks is aan hom nie, hulle ken hom al te lank. Nee wat, Hy kan nie die Messias wees nie.


Intussen het Jesus, ten spyte van die dreigende gevaar, rustig voortgegaan om in die tempel die mense te leer. Op ’n bepaalde oomblik het Hy “uitgeroep” en geredelik toegegee van Sy herkoms. Maar op grond van die kennis van Sy uiterlike omstandighede en die feit dat Hy van Nasaret afkomstig is, kan hulle nie die werklike aard van sy sending beoordeel nie. Hy het buitendien kort tevore gewaarsku dat daar nie op die oog af geoordeel moet word nie (7:24), en hier is dit juis belangrik om die koms van Jesus dieper na te speur as om net vas te stel waar Hy as kind opgegroei het. Wie by laasgenoemde vassteek, begryp nog niks van sy sending nie.


Die hoorders is reeds verdeeld maar toe verdiep die verdeeldheid en die vyandigheid van die vyandiges omdat hulle erg aanstoot neem aan wat die Here Jesus sê: “En tog het Ek nie uit My eie uit gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie.” Wat Hy oor Homself sê kan in ‘n mate nog aanvaar word, maar veral wat Hy oor húlle sê! Hoe kan hy waag om te beweer hulle “ken nie die ware God nie?” Absurd! Húlle is die godsdienstige, mees bevoorregte verbondsmense, deeglik onderrig in die Woord, vroom, ernstig. Húlle is die volk bó alle volke wat die Woorde van die lewende God besit het en dit van Moses ontvang het. En vir húlle sê Jesus: “Julle ken Mý nie omdat julle nie die ware God ken nie.” Vir mense wat absoluut oortuig was dat hulle vir God ken, sê Jesus dat hulle glad nie vir God ken nie!! Eina!! En net daar ontplof die dinamiet.


Tot vandag toe is dít steeds die groot aanstoot. Tot vandag toe sal enigeen van óns ook erg ongewild raak en dalk selfs kwaai teenstand kry, indien ons sê dat iemand wat die Here Jesus verloën, glad nie vir God ken nie en glad nie die ewige lewe het nie. Pascal was nie ‘n teoloog nie, maar ‘n beroemde natuur- en wiskundige van die 17de eeu. Hy het gesê: “ ‘n Mens kan alleen vir God ken, as God na die mens toe kom en in Christus Jesus, die Verlosser, het God na die mens gekom! Om God deur Christus te ken beteken om jou ellende, jou sondigheid, jou behoefte aan verlossing van jou sondes te ken.”


Daar is géén ander manier waardeur enige mens die ewige lewe kan verkry nie. Dis eksklusief slégs deur híérdie Jesus van Nasaret, die Seun van God!


“Sonder Christus Jesus is die mens onvermydelik in sonde en ellende; met Hom is hy vry van sonde en ellende. In Christus lê ons geluk, ons lewe, ons hoop. Goddank, Jesus is die Christus!” (Dr. Andries Odendaal).


Gebed: Jesus Christus, Seun wat naaste aan die Vader is, dit is só tragies dat die Jode van destyds, U verwerp het. Hulle moes eintlik U met ope arms ontvang het want U ken God en het Hom kom bekend stel. U kom van God; U is God uit God, die besondere Gesant van God, en tog het sommiges van hulle geweier om U te aanvaar. Ai Here, en nou moet ek vandag bely, daar is vandag steeds mense wat U nie wíl ken of herken nie en U verwerp. Daarom wil ek saam met Paulus bid dat hulle geloof in U sal groei en hulle met hulle mond sal bely dat U die Here is en met hulle hart sal glo dat God U uit die dood opgewek het, sodat hulle gered kan word. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page