April 10, 2020

April 8, 2020

April 8, 2020

April 7, 2020

April 6, 2020

April 3, 2020

April 2, 2020

April 1, 2020

March 30, 2020

March 30, 2020

Please reload

Recent Posts

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

May 8, 2017

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES

 

JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (8) – ‘n WYSE ARGUMENT (1)

 

Joh. 7:19; 21-23 – “Het Moses nie die wet vir julle gegee nie? En tog hou nie een van julle die wet nie. Waarom wil julle My dan doodmaak?’ Jesus het toe verder vir hulle gesê: ‘Julle is almal ontsteld oor een ding wat Ek gedoen het. Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het – en eintlik kom dit nie eers van Moses af nie maar van die aartsvaders – besny julle ook op ‘n sabbatdag. As iemand op ‘n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op ‘n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het?”

 

Vergelyk ook Mark. 3:4 – “Jesus vra vir die Fariseërs: ‘Mag ‘n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”

 

Jesus span Hom in om alleenlik maar die wil van God te doen en Hom te verheerlik – “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om Sy werk te voltooi” (4:34). Jesus se optrede is in ooreenstemming met Sy aansprake. Hy is wat Hy voorgee om te wees en het nie gekom om Sy eie eer te soek nie. Daar is geen oneerlikheid of onopregtheid in Jesus nie. Die oneerlikheid moet dus nie by Jesus gesoek word nie, maar by die Jode. Hulle roem daarop dat Moses aan hulle die wet gegee het, maar daar is nie een van hulle wat werklik die wet onderhou nie. Die wet wys heen op die Messias wat sou kom, maar noudat die Messias daar is, wil die Jode Hom doodmaak. Daardeur bevestig hulle dat die oneerlikheid, die leuen, in hulle lewe die hoogste woord voer. Die implikasie is hul bereidheid om te moor en dit is ook teenstrydig met die wet.

 

Van die ander omstanders was hoofsaaklik feespelgrims wat uit ander plekke na Jerusalem toe gekom het vir die huttefees en het waarskynlik nie geweet van al die planne wat die Sanhedrin in Jerusalem gemaak het om Jesus dood te maak nie. Vir die tradisionele Jood van daardie tyd het dit werklik na duiwelbesetenheid geklink om die agbare geestelike leiers van moordplanne te beskuldig. Hulle reaksie is in sterk taal: “Jy is van die duiwel besete!” en verontwaardig vra hulle Jesus: “Wie wil jou doodmaak?” Daarop gee Jesus nie ’n direkte antwoord nie, maar Hy wys daarop dat die leiers van die Jode, (Sanhedrin), teen Hom in verset gekom het oor “een ding”, dit is een daad of werk wat Hy gedoen het wat volgens die Joodse opvatting nie op die sabbat toelaatbaar is nie, om die sieke by die Betesdabad op die sabbatdag, gesond te maak (5:1-17).

 

Omdat die Jode hierdie houding aanneem oor ’n daad op die sabbat, doen Jesus ’n beginseluitspraak oor die werklike betekenis van die sabbatsonderhouding. Om dit toe te lig, verwys Hy na twee sake van sentrale betekenis in die godsdienstige lewe van die Jode: die besnydenis en die sabbat. Ten opsigte van albei het Moses voorskrifte gegee, hoewel die besnydenis se instelling reeds in die tyd van Abraham ingestel is om as verbondsteken tussen God en mens, te dien (Gen. 17:10). ’n Seun is op die agtste dag ná geboorte besny. Hierdie voorskrif is deur die Jode só bindend beskou dat hulle ook op die sabbatdag die besnydenis toegedien het wanneer die agtste dag op die sabbat geval het. Die voorskrifte vir die sabbat was dus minder bindend as dié vir die besnydenis.

 

Wanneer daar ’n botsing tussen die sabbatswet en die voorskrifte vir die besnydenis kom, het die Jode self die voorrang gegee aan die uitvoering van die besnydenis. Dit was ’n rituele handeling maar het verreikende godsdienstige betekenis gehad omdat dit ’n inlywing van die suigeling in die verbond van God was en voortaan die kind se hele lewe sou bepaal. Die daad was die bewys van die genade van God. Tog was dit wesenlik net die “regmaak”, wat eintlik ook die “skending”, van een klein deeltjie van die liggaam, is. Daarteenoor het Jesus op die sabbat die hele liggaam, die hele mens, “reggemaak” deur aan hom ’n daad van genade en liefde te doen. Jesus het dus ’n daad van groter betekenis as die rituele besnydenis verrig deurdat Hy ’n mens liggaamlik volkome gesond gemaak het en hom ook geestelik in die regte verhouding tot God gebring het.

 

In die vierde gebod openbaar God Hom as die God wat aanspraak maak op ons lewenstyd, wat ingryp in die reëlmatige ritme van ons arbeid en rus. God reël ons arbeid en verwag dat ons ‘n dag sal hê wat aan Hom gewy sal word. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel deur ‘n gewoonte te maak om op die sabbat na die sinagoge te gaan (Luk. 4:16). Die geloof in die versoeningswerk van Christus is die vervulling van hierdie gebod. Die saligheid het ons reeds in Christus en uit beginsel behoort ons ons dankbaarheidslewe daarvolgens te reël en die bedoeling daarvan te eerbiedig – eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers; – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir jouself sodat verkeerde begeertes nie beheer van jou neem nie. Hierdie eerbied en respek het Jesus kom vervul. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie, maar liefde – liefde vir God en ons naaste.

 

     “Die werklike probleem van die Christelike lewe is nie dat ons nie weet wat God se wil is nie,         maar dat ons dit nie wil doen nie” (Ray Stedman).

 

Gebed: Hemel Vader, U het ons geskape om hier op aarde as U verteenwoordigers op te tree. As gelowiges is ons geroep om ons gedragskodes op al die terreine van die samelewing toe te pas volgens die eise van U Woord. U staan in die middelpunt van ons lewe. U wil en wet bepaal ons sedes. Ons behoort anders te wees, maar Here, ons staan skuldig voor U en sou ons eintlik op pad wees verderf toe want ons wil nie U wil doen nie. Dankie Jesus vir U versoeningswerk aan die kruis. Dankie Vader vir U genadegawe van die ewige lewe, wat U aan ons gee in Christus  Jesus, ons Here. Dankie Gees dat U ons lei in die Waarheid. Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.