top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEDAGTE VIR VANDAG – SATERDAG, 22 APRIL 2017


Liewe E-Kerk Lesers,


Vergun ons om vandag af te wyk van die gewone E-Kerk Dagstukkies en te verander soos wat ons land se mense vandag voel, om tot God te bid vir ons land Suid-Afrika en sy mense. Om saam te staan in gebed en ons tot ons hemelse Vader te rig in diepe afhanklikheid. Baie van ons kan vandag nie in Bloemfontein saam met Angus Buchan en meer as 1,7 miljoen Suid-Afrikaners van alle bevolkingsgroepe wees nie, daarom die plasing van die gebed. Dankie aan almal in die buiteland en verskeie plekke reg oor die wêreld wat hierdie dagstukkies ontvang, wat saam met ons bid. Mag die keur van die Here se seëninge op elkeen van julle rus.


Spreuke 21:1 – “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.”


Psalm 72 – “Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens U wil .... om die reg te handhaaf soos U dit wil.”


Gebed:


Hemel Vader, God van liefde en genade, ons bring ons land en sy mense vandag voor U. U ken elke behoefte, elke gekreun, elke smeking, elke roep van elkeen wat tot U nader. Saam met Angus Buchan en miljoene Suid-Afrikaners slaan ons ons oë op na U en ons wéét, dít is waar ons hulp vandaan kom. Met skaamte moet ons bely dat ons ‘n hopelose volk geword het, arrogant, korrup, oppervlakkig, dikwels immoreel. Ons is geneig om mense wat anders as ons is, eerder te verag as te aanvaar. Ons waardes is besig om teen ‘n ontstellende tempo te vervlak, menselewens, goedheid, skoonheid en die waarheid tel eintlik nie meer nie. Ons is op die rand van ‘n geestelike en fisiese afgrond, Here.


Here, vergewe ons en wees ons tog genadig. Vergewe ons ons individuele sondes en skep vir ons nuwe harte. Versag ons harde harte en laat ons met “Christus harte” leef. Gee ons weer ‘n sin vir goedheid, respek vir mekaar, en waarheid. Gee ons weer ‘n Goddelike sin om na U terug te draai, ‘n u-draai te maak in ons eie-gerigtheid terug na ‘n God-gerigtheid.


Here, ons is so oorbewus van die gebreke en tekortkominge van ons aardse heersers, hulle wat elke dag in parlementsale en luuksekantore besluite neem wat ons lewe ingrypend raak. Here, U weet dat baie van hierdie besluite die inhoud van ons beursies raak en dit blyk dat hulle wat die besluite maak, nie omgee dat ons mooi land verder verval in armoede, chaos en haat nie. Die armes word nog armer en mense kom daagliks in opstand. Ons land brand Here.


Daarom is dit nodig om vir ons land se regeerders te bid, op nasionale en plaaslike vlak. Mag ons leiers leer om volgens U wil te regeer, al ken baie van hulle nie U as Verlosser nie. Lei hulle om die reg te handhaaf, om beleidsake en wette op te stel tot voordeel van almal; om met wysheid aan verdruktes reg te laat geskied; om aan die werkloses te help werk verskaf; om ons land se baie armes en dié wat onder die verskriklike vigs-pandemie ly, te ondersteun, prakties te help.


Here, ons bid vir die mense van ons land, vir die duisende wat onder plaasmoorde ly; vir hulle wat nie omgee vir lewe nie, wat ‘n moord kan pleeg sonder om ‘n oog te knip. Ons bid vir hulle wie selde buite hul kamertjie êrens in ‘n aftreeoord kom; hulle wat bang is om saans ná donker dit buite te waag; hulle wie se bed ‘n stuk karton op straat is; hulle wat vasgevang is in alkohol- of dwelm-afhanklikheid.


Here, inspireer en bemagtig almal wat hulle probeer help, dié in regeringskringe wat menslikheidswette en hulpskemas bedink; vrywilligers wat geld insamel vir behoorlike behuising en voeding; hulle wat uitreik om selfs net ‘n broodjie aan iemand kan verskaf; dokters, geestelikes, maatskaplike werkers, bure, gewone mense op straat wat bereid is om te luister en op klein skaal te help; vir hulle wat na die geestelike behoeftes van mense omsien deur die bring van die Evangelie.


Vader, sny ons af van elke gees van misdaad en geweld; elke gees van roof en korrupsie; elke gees van armoede en ellende; elke vorm van haat en verwerping; elke vorm van rassisme en diskrimminasie, hoogmoed en selfregverdiging. Herstel U Gees van versoening, gebed, verootmoediging, U bonatuurlike vrede en orde in ons land. Ons bely elke negatiewe gesprek en opmerking, waar daar dood gespreek is oor S.A. Ons bely alle vrees, selfsug, kritiek, en verdeeldheid. Ons bid U genesing af oor al ons mense, veranderde gesindhede en harte. Smeer U salf aan die wonde van ons verlede.


Hemel Vader, wys vir ons as kerk van Jesus Christus, wat ons daadwerklik kan doen om die morele en fisieke armoede in ons land te help bestry. Vader, maak ons elkeen die oplossing waarvoor ons bid. Net U kan vir ons ‘n nuwe hart en gees gee. Here, mag U Naam geheilig word dwarsdeur ons land en in die wêreld. Mag U koninkryk kom by die leiers van staatsinstellings; leiers in kerke; gemeenskapsleiers, gesinne, huwelike, kinders, bejaardes – almal wat U verteenwoordigers en beelddraers is. Dankie vir elke ligdraer wat vandag hierdie belydenis aflê en lewe spreek oor Suid-Afrika. Hoor ons gebed, Here Jesus Christus, saam met die Vader en die Gees behoort aan U alle eer en majesteit hier op aarde soos in die hemel. Ons bid al hierdie dinge in diepe afhanklikheid tot U eer. Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page