top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (7) – JESUS OF SATAN?


Joh. 7:20 – “Jy is van die duiwel besete!” het die mense uitgeroep.”


Vergelyk ook Mark. 3:22 – “Die skrifgeleerdes vanaf Jerusalem het gesê: ‘Hy is van Beëlsebul besete! Dit is met die hulp van die aanvoerder van die duiwels dat hy duiwels uitdrywe.”


Die grootste verwarring denkbaar is wanneer iemand die dag met God self te make het en Hom dan met die duiwel verwar. Dit is verskriklik dat die mag van sonde iemand só kan verblind. Ook hierdie vernedering het Jesus op Hom geneem ten einde sondaars uit die mag van die duiwel te verlos. Sedert die dag in die tuin van Eden waar die duiwel vir Adam en Eva in sonde gelei en tot ‘n val gebring het, het satan en sy bose magte, deur die eeue, nooit weer opgehou om mense fisiek en geestelik te pynig, nie.


Die Gees van die Here het eeue gelede vir Jesaja opdrag gegee om onder andere "die blye boodskap van hoop te bring aan die mense in nood, die moedeloses op te beur, dié wat treur te vertroos, hartseer te vervang met vreugde en blydskap (Jes. 61). Satan daarenteen, hou nie op voordat hy ‘n bloedspoor gelaat het en alles wat goed en mooi is, mismaak het nie!


Satan is nie ‘n maklike “baas” om voor te werk nie. Hy put ekstatiese genot daaruit om die beelddraers en verteenwoordigers van God, smart aan te doen. Hy spaar niemand nie en as hy eers ‘n vastrapplek gekry het, besteel die vader van die leuen die mens van sy identiteit, geluk, gesonde verstand en gesondheid. Die droom wat God oor jou gehad het, Sy doel vir jou lewe, word deur satan beroof! Hy verander mense sodat hulle soos hy word.


Daar was ‘n geleentheid toe baie van Jesus se volgelinge Hom verlaat het omdat dissipelskap blykbaar te veel gevra het (Joh. 6:60-67). Ander het Hom beskuldig dat Hy van die “duiwel besete” is. Die volle implikasie van dissipelskap wat aan Jesus Christus toegewy is, is waarskynlik net té ingrypend. Daar is baie huise waar Hy nie welkom is nie. Sommige sakemanne wil Jesus nie in hulle kantore, fabrieke en winkels hê nie, behalwe miskien kersliggies en versierings oor Kerstyd vir kommersiële gewin. Daar is menigte instansies waar Jesus se teenwoordigheid dalk sal moet plek maak vir die korrupsie, diefstal, kantoorpartytjies, ongeoorloofde bosberade, omkopery, flirtasies, pornografie en .... en .... en ....! Dit kos te veel om die donkerte met die Lig te vervang want om in Jesus te bly vra dat ons ons lewensstyl moet verander – dit is vers 2 van die evangelie.


Maar ..... eeue later, is ons weer in ‘n tuin, die tuin van Getsemane en in hierdie tuin is die Verlosser, Jesus Christus – Hy is die verskil! Hy wat in hegtenis geneem word deur ongeveer 600 soldate, weggevoer word en onskuldig veroordeel, gemartel, gespot word, om nie ter wille van Homself nie, verskriklik te ly en aan die kruis te sterf, maar om vir óns die oorwinning oor satan van die tuin van Eden, en alles wat boos is, te verseker! Die skrikwekkendheid van Jesus se kruisiging op Golgota word die plek van oorwinning en nuwe lewe. Jesus het die sonderekening wat in die tuin van Eden begin het, op Golgota ten volle betaal en die bose magte ten volle ontwapen. Die vol kruis van Goeie Vrydag (Swart Vrydag), dwing ons vorentoe na die kaal kruis van Paas Sondag. Ons kan nié by die kruis vertoef nie, maar wel anderkant die leë graf van die opgestane Verlosser, Jesus Christus, ons Here!


Die triomf van Jesus se oorwinning oor die duiwel verseker dat enige aanklag van satan oor God se kinders, opgehef is (Op. 12:10). Satan se greep op die dood is opgehef, Jesus het die sleutels van die doderyk – “Jesus het mens geword om deur Sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny was, te bevry” (Heb. 2:14-15; 1 Kor 15). Satan se beheer oor die geskiedenis is opgehef en met Jesus se wederkoms word hy finaal vernietig (Op. 12:12; 13:5). Satan se besetting van gelowiges in Christus is finaal opgehef, ons liggame is nou die woning van die Heilige Gees. Ons is nou in Christus en in die Gees – “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop” (1 Kor. 12:13).


Maar ... Jesus dring Homself aan niemand op nie – “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My” (Op. 3:20). Aan Sy kant van die deur is daar nie eers ‘n deurknop of sleutelgat nie. Die keuse is joune, jy moet Sy klop en Sy stem hoor, jy moet die sleutel draai en die deur oopmaak. Moenie wag totdat die skarniere so geroes is dat jy nie die deur kan oopkry nie. Indien jy jouself in ‘n “wêreld” van boosheid bevind waar Jesus nie is nie, luister na Sy stem en hardloop na Hom toe soos die verlore seun, want jy gaan dit nié sonder Hom maak nie. Die implikasie is skrikwekkend! As jy Jesus weier, sê jy néé vir die lewe én néé vir die hemel. Daar is geen ander deur na die Vader in die hemel, as deur Hom nie (Joh.14:6). Deur Jesus Christus te weier, sluit jy die deur na die hemel, vir jouself toe!


“As satan jou in God se geselskap sien, sal hy nooit rus sonder om jou met allerlei verleidelikhede daar te probeer weglok nie” (CS Lewis).


Gebed: Dankie, dankie, dankie Vader. Ek is nou méér as ‘n oorwinnaar deur U wat my só baie lief het dat U Jesus gestuur het om vir my te kom sterf. Dankie Vader dat U ‘n partydige God is wat my kant gekies het daar by Golgota. Jesus, U deurboorde hande is die bewys van ons Vader se liefde en omdat U in my woon en heers, hoef ek nie vir die duiwel bang te wees nie, want U het my vir altyd U kind gemaak. Here, skud die mense wakker wat nog nie tot die besef gekom het dat U die enigste Weg na die Vader toe is. Moenie dat hulle deure se skarniere roes en hulle nie die deur kan oopkry wanneer U klop nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page