top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (4) – VERBASING OOR SY ONDERRIG (2)


Joh. 7:14-18 – “Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. Die Jode was verbaas en het gesê: ‘Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!”


Die “Jode wat verbaas was oor Jesus se geleerdheid” was die leiers van die volk, die Sanhedrin. Die skrifgeleerdes was op grond van hul noukeurige studie van die Skrif, veral van die wet van Moses en van die oorgelewerde godsdienstige gebruike van die voorgeslagte, as invloedryke godsdienstige leiers van die Joodse volk beskou. Hulle was beskou as saghebbende uitleggers van die Skrif wat die voorskrifte vir die godsdienstige lewe van die volk moes bepaal. Een derde van die lede in die Joodse Raad (Sanhedrin) het uit skrifgeleerdes bestaan, m.a.w., mense van aansien.


Hulle was egter nie baie geïnteresseerd om die inhoud van die wet soos wat Moses dit van God ontvang het, toe te pas nie. Hulle leringe was eerder bepaal op die verskillende tradisies en gebruike van hul voorgeslagte rondom die wet. ‘n Skrifgeleerde het aanhalings van vorige skrifgeleerdes gebruik, sy eie interpretasie daarby gevoeg en aan die volk voorgelê. Daar kon dus geen vergelyking wees tussen leringe van Jesus en die leringe van mensgemaakte wette nie. Jesus het uit die hart met die outoriteit van God gepraat: “Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê ek vir die wêreld” (Joh. 8:26b).


Die skrifgeleerdes het oneindige debatte gevoer oor onbelangrike en niksbeduidende gewoontes en oorgelewerde tradisies. Jesus se leringe aan die skare was gefokus op ewigheidswaardes in die koninkryk van God. Vir baie jare moes hulle in die sinagoges luister na die moets en moenies van mensgemaakte wette, terwyl hulle nou hier in die voorhof van die tempel, geluister het na ‘n beskeie, nederige, “ongeletterde” Man van Nasaret, wat met die outoriteit van God oor God se koninkryk praat. Daarom was hulle “verbaas oor Sy geleerdheid!”


Jesus het reeds vroeg in Sy aardse optrede nog ‘n feit van Sy outoriteit bekend gemaak: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet en profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om dit ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt. 5:17). Jesus het GEKOM, nie as iemand wat gou-gou vir ‘n besoek by Judea of Galilea kom aandoen het nie. Hy het God in die hemel se boesem verlaat, stoksielalleen aarde toe gekom, sonder enige engele wat Hom vergesel het om Hom te beskerm, sonder enige hooggeplaastes wat Hom ontvang het. Daar was slegs ‘n paar beteuterde skaapwagters by die feestelike koms van die Seun van God. Die Prins van die hemel het die Kind van die krip kom word. Hy is die vervulling van al die beloftes in die Ou Testament – “Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (Mark. 1:15). Alle nasies sal voor Hom buig en Hom dien (Ps. 86:9). Hy kón dus met gesag sê dat Hy gekom het om die wet te vervul.


“Slegs wie in geloof verlang om God se stem te hoor, sal dit in Jesus se roepstem herken en daarop reageer” (Dirkie Smit).


Gebed: Jesus, U woorde is dinamiet! Ek besef daagliks dat dit baie moeiliker is om God se wet te onderhou as wat ek gedink het. Dankie dat U aarde toe gekom het om my die waarheid te kom leer. Al wat ek nou kan doen is om te bely: “Here, wees my sondaar genadig. Ek is gestroop voor U aangesig. Dankie dat U my nader trek na U Lig toe en dankie vir die passie wat U my skenk om te honger en dors na U geregtigheid”. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page