top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES.


DIE ONGELOOF VAN JESUS SE BROERS (2) – ONGELOOF VAN DIE WÊRELD


Joh. 7:7 – “Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.”


Vergelyk ook Matt. 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”


Die teenstelling tussen Jesus en sy broers word nog skerper gestel. Hulle het gesê dat Jesus Hom aan die wêreld moes bekend maak (7:4). Deur dié opmerking het hulle laat blyk dat hulle self aan die kant van die wêreld staan. En die wêreld kan hulle wat aan die wêreld behoort, nie haat nie want dis sy eiendom. Dus, as Jerusalem die plek is waar die wêreld die seggenskap het, sal die broers daar volkome veilig wees. Hulle hoef niks te vrees nie en kan dus na die fees gaan waar “die wêreld”, die Jode, die toon aangee. Maar met Jesus is dit anders. Hy het juis gekom om die wêreld te red (3:16), maar Hy is nie van hierdie wêreld nie (17:14, :16) en word daarom deur die wêreld gehaat. Die rede hiervoor is dat Jesus voortdurend besig is om teen die wêreld te getuig omdat die wêreld in sonde verkeer en “sy dade sleg is.”


Gedurende Jesus se Bergpredikasie (Matt 5-7), het Hy Sy Saligsprekinge geëindig met ‘n seëning vir Sy volgelinge wat ook vervolging in die lig staar as hulle nie deel wil wees van hierdie “wêreld” nie – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.” Jesus bak nie mooi broodjies nie. Hy was eerlik dat dit nie maklik sal wees om Hom te volg nie en om dissipels in die koninkryk van God diensbaar te wees nie. Christene van baie dele van die wêreld het deur die eeue, en vandag steeds, nie maklik nie. Menigte se lewenswandel is omvergewerp omdat hulle volgelinge van Jesus geword het. Hulle Christenskap het hul sosiale lewe uiteengeskeur. Selfs families is uiteen omdat sommiges van hulle lojaal aan Jesus is en ander nie. Die enigste “misdaad” wat hulle gepleeg het was om Jesus te kies bo die “wêreld.” Om toegewy te wees aan Jesus het beteken om pyn, skande, vervolging en vals beskuldigings deur die wêreld, te beleef. Dit het selfs al duisende mense se lewe gekos.


Hoekom is dit so maklik vir ongelowiges om Christene te vervolg en te beledig? Wat is dit dat Christen regverdigheid, ongelowiges aanstoot gee en selfs te verag? Omdat Christene anders is as die wêreld! “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle (1 Pet. 4:3-4). Hulle is kwaad omdat hul pelle nie meer saam kuier nie en beskou die pelle selfs as dwase wat die “lewe” verruil het vir ‘n onsienlike God. Christene word dan uitgeskel as vervelende snobs.


Vervolging vererger wanneer daar nie gedeel word in ander se korrupte lewenswyse nie. ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die ongelowige staan dan skielik alleen wanneer van hierdie “almal”, Christene is of word. Die vervolgers se gode is hul sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges.”


Dissipels van Jesus met hul getuienisse word verag want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer ongelowiges die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20).


Hulle haat die lig en wil dit afgesit hê maar wil dit nie self afsit nie. Hulle soek fout by gelowiges en blaas dan alles op om ander op te sweep om ook die lig af te kry. Hulle val die getuie aan om die getuienis uit te wis! Hulle haat die gelowiges want die gelowiges het hulle aan die lig ontbloot!


Jesus stel ware dissipelskap op die voorgrond. Om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie (Rom. 5:8). Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal om ons te red!! Dan raak vervolging geseënd want ons “doen wat reg is!” Dan kan ons saam met Paulus bly wees (Kol. 1:24). Die Christus wat ons volg word verwerp, gehaat deur die wêreld wat in konflik is met die verkondiging van die evangelie. Om vervolg te word vir regverdigheid, is om vervolg te word vir Christus!


“The way to heaven is by way of thorns and blood” (Thomas Watson).


Gebed: Here, die wêreld lyk en is só deurmekaar. Dit gaan gebuk onder sóveel skrikwekkende misdadigheid en haatdraendheid. Ek besef dat my stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Dankie Here dat ek egter ook weet dat U Gees wat in my woon, magtiger is as die gees van die “wêreld.” My dierbare Vader, wanneer ek swaarkry hoor ek U stem soveel duideliker. Dit is dan wanneer ek dink aan my opregtheid van my persoonlike toewyding aan U. Help my om myself te verloën en my kruis op te neem, positief op my swaarkry te reageer, nie om moedeloos te raak nie en te besef dat U my nooit alleen sal laat nie. Laat my stil word voor U en my opnuut toewy aan U. Laat my die goeie stryd stry om mense wat in die donker is, na die Ewige Lig kan bring. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page