top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


"Here, na wie toe sal ons gaan?"

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


ONGELOOF EN GELOOF ONDER DIE DISSIPELS VAN JESUS (5) – DIE SEUN VAN GOD


Joh. 6:68-69 – “Simon Petrus het Hom geantwoord: ‘Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”


Vergelyk ook Joh. 6:69 – “En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God” (1953 Vertaling).


Die twaalf het tot die punt gekom waar hulle geloofsoortuiging alle twyfel oorwin het, en waar die volle kennis hulle denke verlig het en nou staan hulle vas in die geloof en weet hulle met sekerheid dat Jesus “die Heilige van God” is. Die belydenis van Petrus is aangrypend. Wat maak die verskil tussen mense wat by Jesus bly en dié wat nie by Hom wil bly nie? Die verskil is Jesus! Wie Jesus vir jóú is en wat Hy vir jóú doen en rééds gedoen het, maak die hele verskil. Hy is “die Heilige, die unieke Seun van God” by wie alleen die ewige lewe gevind kan word. Terwyl dit nou Lydenstyd is, is dit nodig dat ons nie net geestelik groei nie, maar ook die Vader en Seun verheerlik aan die hand van die volgende.


Dit is nie net Petrus en die ander elf dissipels wat “geglo en erken het dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God” is nie. Dit is merkwaardig dat God die eerste was wat Jesus só noem. Die engel Gabriël, boodskapper van God, kondig aan, aan Maria die volgende: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk 1:35). Hierdie woorde open ‘n venster waardeur God se verlossingsplan geopenbaar word. Christus, die Seun van God kom word vir ongeveer 30 jaar, deur Sy geboorte uit ‘n mens, Seun van die mens. Hy bly God wat Hy is, maar word mens wat Hy nooit was nie. So alleen kon Hy God by die mense en die mense by God verteenwoordig en hulle met mekaar versoen. God het by nog twee geleenthede hoorbaar verklaar dat Jesus “die Seun van God is” – tydens Jesus se doop (Mark. 1:11) en Jesus se verheerliking op die berg (Matt.17:5).


Jesus self het ook by verskeie geleenthede nadruklik verklaar dat Hy die “Seun van God” is. Ons verwys slegs na enkeles. Jesus het normaalweg na Homself verwys as “Seun van die mens” maar tydens Lasarus se opwekking uit die dood, was die opwekking iets wat bokant die menslike vermoë is en daarom kon slegs die “Seun van God”, wat self God is, met absolute Goddelike gesag ‘n dooie Lasarus opwek. Hierdie wonderteken kry dieper betekenis wanneer Johannes beskryf: “sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die “Seun van God,” ...” (Joh. 20:30). In Joh. 17 noem Jesus Homself “Seun van God” en spreek Hy God ses keer as “Vader” aan.


Die derde persoon in die Drie-eenheid, die Heilige Gees, bevestig ook dat Jesus die “Seun van God” is. Wat met Jesus gebeur het kan met niemand anders gebeur nie. Hy is gebore en het gesterwe soos alle ander mense, maar het soos niemand anders nie, opgestaan uit die dood. Niemand vóór Hom en tot op die dag van Sy wederkoms, sal niemand anders dit kan doen nie. Paulus skryf op grond van Jesus se opstanding: “Hy is deur die Heilige Gees aangewys as “die Seun van God” wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here” (Rom.1:4).


Etlike persone wat Jesus tydens Sy aardse lewe ontmoet het, getuig ook van Jesus, die “Seun van God.” Johannes die Doper was die eerste om tydens Jesus se doop te getuig: “Hy is die Seun van God” (Joh. 1:34). Een van die twaalf, Natanael het aanvanklik gesê dat niks goed uit Nasaret kan kom nie maar sy verstandelike besware val weg in die teenwoordigheid van Jesus en hy uitroep: “Rabbi, U is die Seun van God” (Joh 1:49). Die res van die dissipels het gevolg toe Jesus die storm op die see stilgemaak het en hulle bely: “U is waarlik die Seun van God” (Matt. 14:32). Marta, suster van Lasarus, gee ‘n kort maar kragtige samevatting van die Christelike geloof wanneer sy bely: “Ja Here ... ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom” (Joh. 11:27).


Selfs demone het uit vrees en nie aanbidding nie, uitgeskreeu dat “Jesus die Seun van God“ is (Matt.8:29; Mark. 1:24; Luk 4:41). Ironies dat die demone Jesus erken as die “Seun van God” maar dat die leiers van God se volk Hom kruisig omdat Jesus durf beweer het dat Hy die “Seun van God” is. Markus open die skrywe van sy Evangelie met dié woorde: “Die evangelie van Jesus Christus, die “Seun van God”, begin so....” Hierdie evangelie, die goeie boodskap dat Jesus die “Seun van God” is gryp ‘n bekeerde Paulus, toe nog Saulus, só aan dat hy dadelik in die sinagoges begin verkondig het dat Jesus die “Seun van God” is (Hand. 9:20). Dit het dwarsdeur sy bediening die kern van sy prediking gebly. Hy dien God deur die evangelie van Sy Seun te verkondig (Rom. 1:9). Die skrywer van Hebreërs beklemtoon: “Jesus, die “Seun van God” is ons groot Hoëpriester (Heb 4:14) en deurgaans word die voortreflikhede van die Seun deur die skrywer besing, selfs deur aanhalings uit die Ou Testament.


Johannes kon in sy evangelie nie ophou om klem te lê op verskillende seëninge wat geloof in die “Seun van God” vir ons bring nie, sodat hy selfs in sy briewe, voortgaan daarmee. God se allesomvattende en allesdeurdringende liefde word geopenbaar in die sending van Sy Seun na hierdie wêreld. Sy Seun moes nie net versoening tussen God en sondaars bring nie, Hy moes self die versoening vir ons sondes word! Die Ou Testamentiese soenoffer het ‘n priester en offerdier benodig, Christus Jesus was altwee! Die resultaat hiervan is ongekend en ongelooflik: INDIEN JY GLO WAT DIE “SEUN VAN GOD” VIR JOU GEDOEN HET EN STEEDS DOEN, ONTVANG JY DIE EWIGE LEWE!!!! Nie net ‘n nuwe wêreld gaan vir jou oop nie, maar ook die hemel – DÍT IS WERKLIKE EN OPREGTE LIEFDE! WOW!


“Die genade, barmhartigheid en vrede wat van God die Vader kom en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, sal by ons wees wat in die waarheid en die liefde is” (2 Joh. 3).


Gebed: Dankie Hemelse Vader, dat ek in geloof kan aanvaar dat Jesus U Seun is. Dit het geweldige implikasies want die ewige lewe kan niemand besit of verwerf nie, U skenk dit vir my deur U Seun, Jesus Christus. Dit is ‘n gawe wat ek nie kan verdien nie , kan koop nie of daarvoor werk nie, U gee dit uit genade. Die wêreld met al sy verleiding kan my só maklik opsuig, maar dankie Jesus dat U die oorwinning gee. In diepe afhanklikheid buig ek voor U en bely saam met Johannes: “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die “Seun van God” het nie, het ook nie die lewe nie (1 Joh. 5:12). Ek bid vandag vir hulle wat nog nie hierdie waarheid ontdek het nie, sodat hulle óók die Lewe kan hê. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page