top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GETUIG!! GETUIG!! GETUIG!!

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


ONGELOOF EN GELOOF ONDER DIE DISSIPELS VAN JESUS (4) – PETRUS SE BELYDENIS


Joh. 6:67-71 – “Toe vra Jesus vir die twaalf: ‘Wil julle nie ook weggaan nie?’ Simon Petrus het Hom geantwoord: ‘Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.’ Jesus het daarop vir hulle gesê: ‘Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ‘n duiwel!’ Hy het Judas, die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.”


Jesus se gesprek het daardie breë kring van volgelinge voor ’n beslissing gestel, en hulle het hulle besluit geneem – hulle het die ewige lewe verlaat!! En nou stel Jesus die twaalf, wat tot dusver aan Hom getrou was, ook voor dieselfde beslissing deur pertinent aan hulle die vraag te stel: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Die versoeking om weg te gaan, het seker ook aan die twaalf se harte getrek. Soveel ander verlaat Jesus, is hulle nie dalk reg nie? Moet ons nie maar ook padgee nie? Buitendien is ‘n lewe saam met Jesus nie maanskyn en rose nie – Hy praat van kruis opneem om Hom te volg en dit is harde werk! Moet ons nie maar veiligheidshalwe ook padgee nie? Jesus wat weet hoe die mens is (2:24), en ook weet wie glo en wie nie (6:64), weet watter antwoord hierdie twaalf sal gee.


Die antwoord kom by monde van Simon Petrus, wat namens die twaalf praat en hulle gesamentlike belydenis uitspreek in sy volle, goddelike betekenis. Uit sy antwoord gee Petrus uiting aan die soeke van die mens na ’n Redder. Hy weet dat hy vir die behoud van sy lewe na iemand moet gaan, maar na wie toe? Die antwoord het hulle twaalf gevind in die woorde van Jesus wat van die Gees kom en lewe gee (6:63). Hulle het klaar hulle besluit geneem, omdat hulle tot die punt gekom het waar die geloofsoortuiging alle twyfel oorwin het, en waar die volle kennis hulle denke verlig. Hulle staan vas in die geloof en weet met sekerheid dat Jesus “die Heilige van God” is.


Jesus laat Hom nie deur die geesdrif van die twaalf wegvoer nie. Hy weet wat in die mens is (2:24), en dat Hy nie op hulle kan reken nie. Jesus se uitspraak, “En een van julle is ‘n duiwel”, stel ons voor ’n verborgenheid wat ons nie kan verklaar nie. Hy het self die twaalf gekies om op ’n intieme voet met Hom te verkeer en Hom in die uitvoering van Sy roeping te vergesel, en tog weet Hy dat een van die twaalf ’n werktuig van die duiwel is. Waarom het Hy dit gedoen? Hoe kon Hy Judas in sy geselskap duld? Waarom het Hy hom nie uitgesluit uit die kring van twaalf nie? Hoe het Hy weens Judas se teenwoordigheid gely? Die vrae vermenigvuldig, maar ons kan alleen die feit van die toedrag erken en Jesus aanbid vir die wonder van sy liefde vir sondaars, ook vir Judas. Die woorde van die Here is immers ’n beroep op Judas om hom te besin, maar Judas volhard op die pad van die duiwel en bly self verantwoordelik vir sy gemene daad.


Is die vraag van Jesus aan die twaalf dissipels, ”wil julle nie ook weggaan nie”, dalk nie nog steeds relevant vandag nie? Dalk is Jesus se vraag vandag nie aan die massas nie, maar die klein groepie lidmate wat altyd getrou is - die ouderling en diaken en elke ander dienaar en dienares in die gemeente wat altyd op hulle pos is; die gelowige wat dag vir dag in sy/haar lewe, die Here se pad bly loop, al is dit baie kere moeilik en al is daar geen erkenning daarvoor nie. Hoekom sal ons die Here bly volg as so baie ander maar laat gaan - kan hulle almal verkeerd wees? Hoekom sal ons streng by die Here se voorskrifte probeer bly, as dit lyk of mense wat dit baie wyer vat, wegkom met die onregverdigheid daarmee?


Hoekom sal ons aan Bybelse standpunte bly vashou, as die meeste mense dit onverteerbaar vind? Is ons werklik só met Christus verenig, dat wanneer die Gees ons vermaan om ‘n paar veranderinge in ons lewenstyl te maak om ‘n Christen te word en te bly, in al ons optredes en denke, ons miskien dalk nie kans sien nie – en omdraai? Want om hierdie dinge te weet, om hierdie dinge met die mond te bely, is een ding, om dit werklik te glo is egter iets totaal anders. Want wie dit werklik glo, in sy/haar lewe sal dit sigbaar wees.


Maar ..... is daar nie ook in jou hart ’n eggo van dit wat die Heilige Gees, Petrus amper 2000 jaar gelede laat sê het nie: ”Here, na wie toe sal ons gaan, U het die woorde wat ewige lewe gee?” - waarheen sal ons gaan as ons Jesus los? Wie anders as Hy kan die verskriklike las van al ons sondes van ons skouers afhaal? Wie anders as Hy kan ons vrede met God gee? Wie anders sê hierdie dinge wat ons lewens, swaarkry ingesluit, tog laat sin maak? Wie anders as Hy kry dit reg om mense lofliedere te laat sing in die donkerste ure van hulle lewens? Wie anders sluit vir ons die hemelpoort oop, sodat ek en jy die ware en die ewige lewe by die Vader kan geniet? Wie anders…? Waarheen anders …? HERE, EK BLY…..!!


“ ‘n Vurk in die pad baan twee weë. Volg die een waarlangs die minste spore gaan en beleef die verskil” (Robert Frost).


Gebed: Here, saam met Petrus bely ek ook: “Here, as ek gaan, na wie toe sal ek dan gaan?” Ek weet net by U is daar verlossing, hoop en lewe, U het die woorde wat die ewige lewe gee. Hierdie keuse is 'n keuse wat ek telkens weer en weer wil maak. Ek besef dit is nie alleen een van die moeilikstes nie, maar ook een van die belangrikstes. Ek weet ook dit is 'n keuse met geweldige implikasies want as ek U uitnodiging aanvaar om te bly, moet my lewe 'n lewe word waar ek myself verloën, ek minder word en U meer, my kruis opneem en U volg. Help my asseblief Here, dat ek standvastig sal bly in my keuse en nie handdoek sal ingooi nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page