top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


ONGELOOF EN GELOOF ONDER DIE DISSIPELS VAN JESUS (1) – ONVERSTAANBARE GELOOF


Joh. 6:60; 63-65 – “Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: ‘Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee? Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.’ Verder het Hy gesê: ‘Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”


Vergelyk ook 2 Kor. 5:7 – “Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.”


Van die begin van Jesus se openbare optrede af het groot skares na Hom gekom en as volgelinge by Hom aangesluit. Dan kom daar ’n tyd waarin daar ‘n skeuring ontstaan tussen hulle en baie van hierdie mense Hom verlaat of selfs, net soos die leiers van die Jode, teen Hom draai. Die rede is dat Hy nie aan hulle Messiasverwagting voldoen nie. Hulle het uitgesien na ’n volksleier wat die juk van Rome sou afgooi en die koninkryk van Israel weer oprig, maar toe hulle hoor wat 'n appél Hy op hulle lewens maak, toe vlug hulle en bedank uit die “gemeente”!


Die aansprake wat Jesus oor Homself gemaak het, dat Hy die Seun van God is en sy eis dat sy vlees en bloed geëet moet word om die lewe te verkry, was vir baie van sy “dissipels”, dit is die breë kring van volgelinge, ’n “harde woord”. Hulle vind die woorde onaanvaarbaar en onuitvoerbaar. Vir hulle is die eis van Jesus eenmaal te erg. Daaraan kan hulle nie gehoor gee nie. Die eintlike grond vir hulle bedenkinge is egter nie die eis wat Jesus gestel het nie, maar die ongeloof in hulle eie hart. Die woorde van Jesus het die ongeloof aan die lig laat kom want hulle het dit nie geestelik verstaan nie.


Johannes 6 is ’n baie goeie voorbeeld van hoe mense sukkel om te verstaan. Jesus is besig om mense te leer dat Hy die Seun van God is, maar dit kan mos nie wees nie! Hulle ken Hom as die seun van Josef, die timmerman van Nasaret. Hy het groot geword tussen hulle kinders en dan op ‘n dag sê Hy, Hy is die verwagte Messias, die Een wat die wêreld gaan red! Hoe verstaan mens dit? Hoe bewys mens dit? Om dit nog so ’n bietjie meer ingewikkeld te maak, het jy as deel van die hordes wat Hom van die begin af al volg, gesien hoe Hy wonderwerke kon doen, siekes gesond maak, lammes laat loop en blindes laat sien. Meer nog, Hy kon vir hulle kos gee, al was dit net brood en vis. Dit was met ander woorde, voordelig om in Sy teenwoordigheid te wees. Maar ”Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” Hy wil ons nou vertel dat Hy die brood van die lewe is en dat dié wat in Hom glo, Hom moet eet en sy bloed moet drink om die ewige lewe te kry. En as jy dit doen sal jy nooit weer honger en dors wees nie! Kom aan, dis “gross”!


Daar is baie dinge in die lewe wat ons nie verstaan nie en die tyd waarin ons leef speel hierin ’n groot rol. Binne ’n kwessie van ‘n 100 jaar het ons ontwikkel van ’n ossewa na vliegtuie. Iemand het eendag gesê die Voortrekkers moes net ‘n bietjie geduldig gewees het, dan was dit nie nodig om met ossewaens oor die Drakensberge te sukkel nie, maar sommer ‘n vliegtuig geneem het. Die nuutste ontdekkings sluit in “I-phones, I-pad’s, I-pod’s, I-mac’s en I-don’t know wat nog!” Vir die 21ste eeuse mens het alles in die lewe ’n logiese verduideliking. En as ons nie nou iets verstaan nie, is dit net ’n kwessie van tyd voordat dit nog ’n nuwe ontdekking word op “Discovery Channel.”


Maar ongelukkig is geloof iets heeltemal anders. Geloof is nie maklik nie, veral in die tyd waarin ons lewe – die sogenaamde postmoderne tyd. Dit is ‘n tyd waarin mense vir hulleself die reg toe-eien om letterlik alles te bevraagteken. Geloof het ’n dimensie waar die wetenskap sukkel om te krap, waar jy nie alles kan verstaan of bewys nie. Baie dinge word bevraagteken: “Wie sê die Bybel is waar? Wie kan bewys dat Jesus uit ‘n maagd gebore is? Hoe bewys jy byvoorbeeld dat God bestaan of hoe bewys jy dat God nie bestaan nie? Wie sê Jesus se kruisdood is ‘n versoening vir ons sonde? Hoe bewys jy dat Jesus uit die dood opgestaan het? Hoe bewys jy daar is ‘n hemel óf ‘n hel? Hoe verstaan jy Vader, Seun, en Heilige Gees – Drie maar eintlik is dit Een God?


As jy mooi dink oor wat jy alles glo, maak alles nie noodwendig altyd sin nie. Ons het ‘n geloofsperspektief nodig om seker te wees van die dinge wat ons hoop en oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Heb. 11:1). Geloof in Christus Jesus is ‘n keuse, ‘n keuse om die gawe wat die “Vader aan my gegee het nie”, te aanvaar. Geloof is my twee hande wat ek in afhanklikheid, uitstrek na God toe om Sy genade-aanbod vir my toe te eien!!! Geloof is ‘n woord met ‘n ware geskiedenis, ‘n geskiedenis met die onwrikbare sekerheid van God se genade en alomteenwoordige liefde, van Sy Seun aan ‘n kruis, van ‘n leë graf, die uitstorting van die Heilige Gees en ‘n ewige lewe!


“Geloof sien die onsienlike, glo die ongelooflike en ontvang die onmoontlike” (C.S. Lewis)


Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die wonder van die geloof. Dankie dat U geloof in my sondaar-hart gewek het sodat ek met sekerheid kan weet dat U leef, dat Jesus vir my sondes gesterf het en opgestaan het uit die dood sodat ek vir altyd kan lewe. Vergewe my wanneer ek ook soms twyfel veral wanneer dit donker word rondom my, om aan U beloftes vas te hou al word nie een daarvan waar nie, so baie keer antwoorde soek op my vrae en ek dit nie altyd kry nie. Help my om my geloof uit te lewe in alles wat ek doen en sê, al is dit so klein soos ‘n mosterdsaadjie. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page