top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE BROOD UIT DIE HEMEL (6) – KOM NA MY TOE


Joh. 6:36-40 – “Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie. Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van My Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”


Vergelyk ook 1 Joh. 2:16-17 – “Die wêreldse dinge kom nie van die Vader nie maar uit die wêreld. En die wêreld met al sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”


Jesus het die Jode in Galilea probeer oortuig dat Hy die Brood van die lewe is maar dit blyk dat hulle die Brood voor hulle het, maar nie daarvan wil eet nie. Jesus se oproep val op dowe ore. “Hulle sien Hom, en tog glo hulle nie in Hom nie.” Al die tekens wat Hy ten aanskoue van hulle tot dusver gedoen het, was blykbaar nie genoeg sodat hulle Hom as Messias aanvaar en in Hom glo nie. Daarvoor dra hulle self die skuld vir hulle ongeloof. Jesus is egter nie verras deur hulle ongeloof nie, Hy weet dat ”elkeen wat die Vader vir Hom gee, sal na Hom toe kom” en in Hom glo.


Daar is egter ‘n Goddelike voorafbepaling – dié wat die Vader aan Jesus gegee het, kom na Hom toe deur die geloof. Hulle reageer in die goeie sin op die aanbieding van die brood van die lewe. Maar dié wat nie deur die Vader verkies is nie, weier om te glo en gaan verlore deur hulle eie toedoen. In aansluiting by hierdie waarheid verkondig Jesus nou die blye boodskap: ”Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Al is die geloof swak en die “kom” ’n struikelgang, wie in Jesus glo en kom, het die sekerheid dat Jesus hom nooit sal verwerp nie.


Die ewige bewaring van elkeen wat na Jesus kom, is ’n waarheid van buitengewone betekenis vir ons as gelowiges in Christus. Ons behoud is nie van ons eie swakke geloof of van ons vasklem aan Christus afhanklik nie, maar dit is gegrondves in die wil van die Vader en in die bewaring deur die Seun. Jesus gee die versekering dat Hy nie een sal laat verlore gaan nie. Die bewaring waarvan Jesus ons verseker, is nie net beperk tot hierdie lewe nie, maar reik oor die grens van die aardse bestaan. Dit is ’n bewaring wat uitloop op die hemel. Jesus is die Een wat in die laaste dag Sy eiendom uit die dood sal laat opstaan. Daarmee verklaar Hy ondubbelsinnig dat Hy aan God gelyk is, dat Hy ’n ewige bestaan het en dat Hy die mag het om die gestorwenes weer tot die lewe terug te roep in die laaste dag. Sy verklaring gee aanstoot aan die ongelowige Jode, maar gee sekerheid van ewige bewaring vir “elkeen wat die Seun sien en in Hom glo.”


God roep ons vandag dus op om na Jesus te gaan, Hy “gee” ons in werklikheid vir Jesus, ons moet net die Gees se roeping in ons gehoorsaam. Daar is egter baie mense wat huiwer om tot volle oorgawe na Jesus Christus te kom. Baie mense vind dit ‘n verleentheid om te reageer op ‘n emosionele evangeliese pleidooi want “die-kom-na-Jesus-toe” groepie word gewoonlik bespot en die slegste is, daar is só baie wêreldsdinge wat hulle moet prysgee. Daar is ook dié wat al soveel geestelike neerlae gely het toe hulle probeer het om na Jesus te kom, dat hulle dit nie weer wil waag en wéér ‘n bespotting van die uitnodiging wil maak nie.


Dit maak egter nie saak hoeveel keer ons Jesus al teleurgestel het met ons pogings om na Hom te kom nie, Sy uitnodiging bly staan: “Kom na My toe, Ek sal jou nooit verwerp nie.” Wanneer ons na Hom toe terugkeer, gee Hy vir ons ‘n feestelike ontvangs, soos vir die verlore seun. Hy is altyd vir ons daar, Hy buig af en kom na ons toe. Die dissipels was beangs en alleen oorgelewer aan die reuse golwe en stormwind rondom hulle – toe kom Jesus. Die vrou wat skuldig bevind is aan egbreuk lê op die grond in ‘n patetiese bondeltjie en sy wag vir die eerste van baie oordeelsklippe om haar lewe te beëindig – toe kom Jesus. Die dissipels skuil ná Jesus se kruisiging in die bokamer agter gegrendelde deure uit doodsvrees vir die Jode – toe kom Jesus. Wanneer ons op Sy uitnodiging reageer – “Kom na My toe” – verander die diepste oomblikke van wanhoop en pyn na hierdie helder oomblikke wat ons net soveel meer intens van Hom en Sy teenwoordigheid by ons bewus raak en die ervaring beleef: toe het Jesus gekom.


“Hy alleen is die Een wat nooit tevergeefs gesoek word nie, selfs wanneer ons Hom skynbaar nie kan vind nie, is Hy by ons” (Bernardus van Clairvaux; Franse monnik; 1090).


Gebed: Here, ek wil na U toe kom. Ek wil heeldag deur, dwarsdeur alles waarmee ek besig is, honger en dors na U. Ek wil omgaan met U, in verhouding wees met U, ek het ‘n begeerte om met U te praat, 'n begeerte om U te hoor praat, 'n soeke na U Gees in my innerlike mens. Dit dryf my in die oggende na U, deur die dag en snags peins ek oor U. Dankie Vader dat U in genade my vir Jesus gee, ek moet net na Hom toe kom, so eenvoudig soos dit, net maar KOM! Dankie Jesus vir U liefde wat my nooit sal verwerp nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page