top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE BROOD UIT DIE HEMEL (5) – WATER VAN DIE LEWE


Joh. 6:35 – “Maar Jesus sê vir hulle: ‘Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”


Vergelyk ook 1 Pet. 2:2 – “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.”


Een van die beste tekens van ‘n gesonde geboorte van ‘n pasgebore baba is wanneer hy/sy begin huil. Dit is nie net om sy/haar aankoms in die wêreld bekend te maak nie maar ook om aan te dui dat die baba dors na sy/haar mamma se voedsame melk. Daar is ‘n leë plekkie wat gevul moet word. Net so het God ons geskep – met ‘n leë plekkie in die siel waar net Hy alleen die sieledors diep binne ons kan les.


Hoe dors is ons? Jesus verwys nie na ‘n slukkie water of koppie koffie wanneer ons dors is nie, nee, Jesus nooi ons eintlik uit: “Kom na My toe soos ‘n sterwende sonder kos en water.” Ons sal volkome versadig word indien ons honger en dors na Christus en Sy geregtigheid. Jesus se taal is eenvoudige taal: “Volg My!” Jesus nooi ons uit na Sy bankettafel, maar slegs “dié wat weet hulle is siek en soek ‘n dokter” (Matt. 9:12).


“Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet ons smag na die geestelike melk, sodat ons kan opgroei en die saligheid verkry.” Die enigste wat hierdie dors kan stil, is die Heilige Gees. Die Heilige Gees wek ons dooie harte op en bring ons na Christus toe waar ons dors geles kan word. Hy nooi ons uit: “Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is” (Jes. 55:1-2).


Ons as gelowiges in Jesus Christus het ‘n sterk behoefte om in genade geestelik te groei en het ‘n ingebore sin vir geestelike voedsel. Die Heilige Gees verander ons harte van klip en laat ons honger en dors na Jesus. Ons wil breek met die ongeregtigheid van die sonde wat ons slawe gemaak het en aftrek in die afgrond. Ons haat die lewe van voorheen en as nuutgemaakte mens bely ons ons afhanklikheid voor God, treur ons oor ons sondige verlede en in sagmoedigheid soek ons na Jesus se geregtigheid.


Ons daaglikse optrede, waar ons ookal is, moet vrugte dra wat wys dat ons in God se vrugteboord geplant is en wat met hemelwater natgemaak is. Ander moet kom “proe” aan ons en die smaak van die hemel só ervaar, dat hulle ook sal honger en dors na die regte “kos en water” en nie wil stop totdat hulle ook versadig is nie.


Honger en dors bring mee die daaglikse toepassing van geregtigheid in ons lewens. Iemand wat na hierdie geregtigheid streef:

  • “Leef soos volgelinge van Jesus Christus en is nie voortdurend daarop uit om sy sondige begeertes te bevredig nie” (Rom. 13:14).

  • Laat “sy lewe deur die Gees van God beheers word en swig nie voor die begeertes van sy sondige natuur nie” (Gal. 5:16).

  • “Kruisig sy sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes” (Gal. 5:24).

  • “Weet om nie te meng met slegte geselskap nie want dit bederf goeie sedes” (1 Kor. 15:33).

  • “Begrawe die ou dinge ‘wat deel van hul lewe is soos onsedelikheid, wellus, slegte begeertes, onreinheid, gierigheid’ (Kol. 3:5).

  • Is iemand “wat doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie” (Jak. 1:22).


Daar moet ‘n ernstige honger en dors wees wat ons lewens só affekteer om sodoende die lewens van ander ook te affekteer. Ons dors sal dan geles word en ons sal dan versadig raak. Jésus sê dit – geseënd en versadig. Net hulle is die mense wat smag na hierdie water; hulle wat daarna dors en dit só versadigend, verkwikkend en onmisbaar vind dat hulle nie genoeg daarvan kan kry nie! Waar vind ons daardie Fontein wat hierdie verkwikkende water verskaf? Net by Jesus! By Sy Woord ... Sy kinders ... in Sy teenwoordigheid en ... in Sy diens.


Strome water bly vars as dit uitvloei ... uit jou binneste in strome, dan bewys dit ons het die ‘Fontein’ ontdek en self daarvan begin drink! Indien dit nie so is nie, bly ons ‘n dam wat net opgaar en saam met dit kom die slyk en modder. Die ‘Fontein’ lei ons na die fonteine van lewende water wat ewigheidswaarde het. Net Jesus kan dit doen. Hy is die Verlosser “en wie van die water drink wat Jesus gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Jesus gee, sal in hom ‘n fontein wees wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” (Joh. 4:14).


“Dié wat daagliks honger en dors na God, raak nooit op aarde versadig nie – dit is ‘n lewenslange gesoek na die volheid daarvan. Vandag se stukkie brood en slukkie water, gaan ons nie versadig nie” (Onbekend).


Gebed: Jesus, soos wat U die honger skare gevoed het met brood en vis totdat hulle versadig was, so sal ek versadig word wat ‘n geesvervulde honger en dors het na U. Ek is dorser vir méér te drinke as wat beskikbaar is, ek dors na U self. Maak dit my geestelike behoefte om gedurig daarna te streef want die wêreld met sy aardse dinge is nie die antwoord om my dors te les nie Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page