top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE BROOD UIT DIE HEMEL (4) – BROOD VAN DIE LEWE


Joh. 6:35 – “Maar Jesus sê vir hulle: ‘Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”


Vergelyk ook 1 Tim. 4:1-3 – “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet.”


Hongersnood is vandag wêreldwyd ‘n werklikheid wat vernietigend is. Sonder kos kan ons nie leef nie. Vir 'n rukkie kan jy probeer maar baie gou begin hongerpyne alles oorheers. Kos gee krag en lewe en as jou liggaam nie kos kry nie, raak jy kragteloos en jy gaan dood! Van geboorte af soek die mens na iets wat hom versadig moet maak en in werklikheid hou daardie behoefte vir kos aan tot jy sterf. Mense volg dan ook verskillende diëte om die gat vol te maak en baie mense sien hulself as eksperte wanneer die “beste” dieet vir die mens voorgestel word. Ons lewe in ’n wêreld wat behep is met kos. Twee van die beste verkopers in enige boekwinkel, is kookboeke én dieet boeke! Kookboeke vertel hoe om kos te maak en dieet boeke hoe om dit nie te eet nie!


Watter dieet is die beste om die honger van die lewe te stil? Maak nie saak wat jy eet of drink of doen nie, tevredenheid ontwyk ons – behalwe as jy Jesus ernstig opneem wat sê: “Ek is die Brood van die Lewe”. Ongelukkig word eers al die ander “dieetkundiges” se raad gevolg. Die beste dieet wat hulle voorskryf is eerstens godsdiens. Die bestanddele wat benodig word om die beste godsdiens-honger te stil is gereelde besoeke aan die kerk; Sondagskool bywoon; Bybel lees; finansiële bydraes te maak (indien jou begroting dit toelaat); barmhartigheidsdiens en mooi luister na hom of haar wat preek. Die probleem met die godsdiens-dieet, is dat dit nie vir almal vullend is nie. Terwyl jy daarmee besig is, voel jy goed, maar sodra dit klaar is, is die honger terug en jy soek iets anders om jou te voed.


Die tweede dieet volgens die kundiges, is die kerk. Die regte gemeente kan met smaak ‘n wonderlike dis voorsit om enige honger te stil. Terwyl jy daar besig is om jou te vul, laat die atmosfeer by die kerk jou kompleet voel of jy in die spreekwoordelike hemel is. Die fynskrif van hierdie dieet word egter nie gelees nie. Die “voedsel” is so lekker dat jy jou kan ooreet. Die nadeel daarvan is dat ‘n versadigde eter kies wat hy wil eet – dit wat vir hom belangrik is eet hy en die res los hy uit. Die kerke is vol honger mense wat maak asof hulle versadig is.


Die derde dieet volgens die kundiges, is wanneer jy jou eetlus by ‘n spesifieke restourant verloor en dan ander restourante soek om jou geestelik te voed. Die “kelner” is gewoonlik iemand wat met ‘n mooi voorkoms, dade en woorde, veral aanhalings uit die Bybel gebruik om mense te mislei. In die proses kry hulle dikwels die grootste gemors op die spyskaart en dink dis vaste kos! Dinge wat aan hulle opgedis word oor o.a. die doop; vervulling met die Gees; emosionele ervaringe met God (hul eie opinie); “geestelike openbarings” wat direk van God ontvang is – God het met hom gepraat net soos met Jesaja, Jeremia, Paulus en Petrus – met groot fanfare dra hy dan sy “openbaring” aan sy “kliënte” oor en hulle glo dit! Hy is dan ook in staat gestel om antwoorde oor al hul geestelike vrae te verskaf, want “God het dit aan hom openbaar!” Die gevolg is dat die “fooitjies” in die kollekte bordjies die finansiële koffers van “sy restourant” ‘n aansienlike hupstoot gee. Dit is niks anders as gif wat hulle stelselmatig vermoor nie!


Dan is daar ander in die gemeente wat niks kan eet nie want hulle is nie honger nie. Die kos op die spyskaart is nie na hul smaak nie – dis te lank, te kort, te formeel, te informeel, te hard, te sag, te duur, alweer oor geld, selfs die musiek by die voorgereg is nie smaakvol nie! As hieroor gepraat word, is mense kwaad want hulle verkies om hulle eie diëte te volg. Meer tyd om die braaivleisvuur is beter as ‘n hele week se verhouding met God. Die Bybel en kerk word "geëet" asof dit niks is nie en asof niks gebeur nie! Mense moet gesmeek word om tog in hul besige programme 'n tydjie af te knyp om toegerus te word, betrokke te raak, hande uit te steek, eredienste by te woon, om die Here ‘n plekkie te gee in hul harte – ons kan nie, ons is te besig om ons knuppeldik te eet aan ons eie dieet!


Die beste en beslis die regte “dieet” om versadig te raak, is om weg te doen met spyskaarte wat ons self opstel. Die lewe se moedelose hongerpyne word weggeneem deur, geestelik gesproke, aan en van Jesus te eet. Hy het self gesê: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie.” Bly honger vir Jesus.


“Wanneer jy by Jesus se feesmaal aansit, vereer Hy jou met Sy permanente teenwoordigheid. Hy gee dan aan jou die grootste gawe denkbaar: die ewige lewe”

(Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Here, ek vertrou U as die brood van my lewe - kom voed my! As ek geval het, kan ek weer opstaan want U is my Borg (Heb. 7:22); as ek gesondig het, kan ek my sondes bely en weet U het my vergewe (1 Joh. 1:9); as ek seer gekry het, kan ek ander vergewe en hulle vryspreek (Efes. 4:32); as ek skuldgevoelens ronddra en myself verwyt kan ek weet dat God groter as my gewete is (1 Joh. 3:19-20); as my krag min raak weet ek dat God my nie sal los nie (Sef. 3:17). Help my om U as Lewende Brood, ook met ander hongeriges te deel, hulle te vertel dat U hulle hongerte kan stilmaak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page