top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Sinagoge in Kapernaum

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE BROOD UIT DIE HEMEL (3) – DIE BROOD VAN DIE LEWE


Joh. 6:30-35 – “Hulle sê toe vir Hom: ‘Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.’ Hulle sê toe vir Hom: ‘Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.’ Maar Jesus sê vir hulle: ‘Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”


Vergelyk ook Jes. 55:2 – “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.”


Omdat Jesus geloof in Homself vra, wil die Jode ’n sigbare bewys sien as teken dat Jesus werklik met die gesag van God optree. Hulle weier om die spysigingswonder as genoegsame wonderteken te aanvaar en wil iets veel meer opspraakwekkends sien. As voorbeeld van so ’n aanvaarbare wonderteken verwys hulle na die manna waarmee God hul voorvaders in die woestyn gevoed het. Daarmee wil hulle te kenne gee dat Jesus se vermeerdering van die brood, ’n kleinigheid is in vergelyking met die daad van God. Hy het immers brood direk uit die hemel gegee, terwyl Jesus aardse brood wat deur ‘n seuntjie geskenk is, voorsien het. Die manna was die ware toets!


Net soos in die geval van die Samaritaanse vrou (Joh. 4:11–15) is hier ook ’n misverstand uit ongeloof gebore. Die skare is dus terug by hulle aanvanklike versoek om konkrete brood! Die teken wat hulle sou oortuig moet Jesus net soos Moses, elke dag aan hulle brood gee. En nie net vir ‘n enkele skare mense nie, maar net soos Moses, aan die hele volk – en nie garsbrood nie (armes se kos), maar hemelbrood (manna).


Jesus voldoen egter nie aan hulle versoek om konkrete brood as ’n bewys van Sy identiteit, te verskaf nie. Hy korrigeer hulle eerder deur hulle te “verseker dat dit nie Moses was wat vir hulle die brood uit die hemel gegee het nie, maar Sy Vader wat vir hulle die ware brood uit die hemel gee.” Dit was God wat die manna gegee het, en dit is Hy wat nou die “ware brood uit die hemel” gee. In albei gebeure is die Seun op ’n heel besondere manier betrokke, want dit is sý Vader wat ”die Brood wat uit die hemel kom, aan die wêreld die lewe gee.” Beide die manna en die brood by die spysigingswonder, was verganklik en hoort tot die verlede, maar die “ware brood uit die hemel” is daagliks oral teenwoordig en voorsien van dag tot dag, nie net vir die Joodse volk nie, maar vir “die wêreld.”


Uiteindelik begin die skare verstaan dat Jesus regtig van geestelike brood praat – met ander woorde, iets wat God gee wat hulle van binne af kan verander. Daarom vra hulle Jesus: ”Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.” Hulle erken Hom nog nie as die Here nie en spreek Jesus aan as “Meneer”. Hulle wonder dus steeds of Jesus “die Brood is wat lewe gee.” Hulle wil van die brood hê, Jesus gee dit aan hulle, maar die vraag is of hulle die wil van die Vader gaan doen om die brood te eet (te glo). Elkeen wat in Jesus glo (d.w.s. van Hom “eet”) sal nooit weer honger of dors wees nie. Hy sal die brood hê wat lewe gee.


Ons moet versadig word van wat God vir ons wil gee. Om gesond te leef en aan die daaglikse eise van die lewe te beantwoord, is voedsel uiters noodsaaklik. Die nalating van die daaglikse dieet word alles later net ‘n sieldodende roetine. Net so vereis ons geestelike lewe ook voeding – dit is ‘n integrale deel van ons aardse bestaan sowel as van die ewige. ‘n Lewe wat sonder die versterkende “Brood van die lewe” kortkom, sal spoedig in ‘n kleurlose en kragtelose bestaan verval. Ons moet dus seker maak om voortdurend krag te put uit die oneindige reserwebronne van “Die Brood van die Lewe” en in ’n groeiende verhouding met Hom lewe.


“Ons kan wel van brood alleen lewe, mits dit die Brood van die lewe is” (A.J. Amick)


Gebed: U is my lewensbrood Here. Bewaar my daarvan om vir die behoeftes van my liggaam te voorsien, terwyl ek ‘n dringende behoefte aan die “Brood van die lewe” het. Dankie Vader dat U die Woord vir ons gee sodat ons U beter kan leer ken. Help my om U daarin te vind. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page