top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

Die Sinagoge in Kapernaum in die agtergrond

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE BROOD UIT DIE HEMEL (1) – VERKEERDE MOTIEWE


Joh. 6:22-24 – “Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: ‘Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?’


Die volgende oggend het die mense wat die nag op die plek van die spysigingswonder deurgebring het, na Jesus begin soek. Hulle het gesien dat die dissipels die vorige aand die een skuit wat daar was geneem het en sonder Jesus weggevaar het. Jesus moet dus nog daar iewers by hulle wees, maar Jesus was weg. Intussen het ander skuitjies van Tiberias af daar aangekom en hulle het dié geneem om na Kapernaum aan die oorkant te vaar.


Aan die oorkant vind hulle Jesus wat moontlik op pad was na die sinagoge in Kapernaum, waar die grootste gedeelte van die gesprekke vervolgings plaasgevind het (v 59). Die mense spreek Jesus aan as “Rabbi”, en erken Hom dus as leermeester. Interessant, hulle vra nie: “Hoe het u hier gekom nie, maar “Wanneer?” Dat Hy op die water daarheen geloop het, is iets wat hulle gemis het, net Sy dissipels het dit aanskou. Jesus antwoord hulle nie oor die tydsbestek nie, want Hy weet waarom hulle daar is. Hulle soek Hom vir die brood wat Hy verskaf het en hulle versadig gelaat het, en nie oor die verskeie tekens wat Hy verrig het nie. Hulle wil Hom koning maak want hierdie koning kan gratis, in hul behoeftes voorsien. Die werklike betekenis agter die daad het hulle nie raakgesien of verstaan nie. Hulle het nie gedink aan geestelike herlewing nie. Vir hulle gaan brood net brood bly!


Die Here Jesus laat Hom egter nie manipuleer deur hulle idees nie. Niemand maak Hom koning nie, Hý is die een wat die koninkryk naby bring, ‘n koninkryk wat nie inpas by hulle verkeerde motiewe nie. Hy wil hulle egter help om hulle eintlike behoefte aan die Brood van die lewe, die ewige lewe wat daar in Hom is, te bevredig.


Jesus het nooit opgetree as ‘n rondreisende wonderwerker nie en het nie wonderwerke of wondertekens verrig bloot net ter wille van die wondertekens self nie. Sy wonders moes dien as “vensters” waardeur die skares moes kyk om God daaragter raak te sien. Die wonders is voorgehou om God se koninkryk aan te kondig en mense tot bekering te lei. Die wondertekens was bewyse van Jesus se ware identiteit as die Woord wat mens kom word het en vir ‘n wyle by ons kom woon het (Joh. 1:1 en 14). Jesus se grootste wonderwerk was om mense by God uit te bring!


Daar is mense wat steeds dink dat Jesus uitsluitlik net aan hulle selfsugtige behoeftes voorsien deur sogenaamde “wonderwerke.” Wonderwerke wat óns krisisse hanteer; óns geloof versterk; om óns ‘n geestelike les te leer; óns gebede wat verhoor word; óns beter kinders van die Here te maak. Dit is seker nie verkeerd om só te redeneer nie, maar ons moet onthou dat Jesus se wonderwerke geskied nie op menslike aanvraag nie en ook nie om sekere mense te bevoordeel nie.


Jesus se wonderwerke sê ten diepste wie Hy is. Hy maak God se nuwe wêreld, Sy koninkryk, sigbaar deur wonders te doen. Sy wonderwerke verwys na God se grootheid en wys na die komende triomf waarin almal wat in Jesus glo, gaan deel. Wanneer ons dink dat ons God se genade uitgeput het, is daar die versekering dat Hy steeds sorg en versorg – nie nét presies dít wat ons volgens Hom, nodig het nie, maar ook méér. Hy is so onbeskryflik goed!


“God voorsien aan ons behoeftes maar lees die fyndruk eers: ‘Ek gee vir julle, nie soos die wêreld gee nie” (Annie Dillard).


Gebed: Hemelse Vader, ek het gevind waarna ek soek, en my hart jubel oor U. Gee dat ek aanhou sal soek na U teenwoordigheid, sal herken en koester, met die regte motiewe. Gee dat ek U soek, nie net oor U goeie gawes en ryke seëninge nie, maar omdat daar ware vrede by U te vinde is. Saam met die Psalmdigter weet my hart dat dit “goed is om naby U te wees” (Ps. 73:28). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page