top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (3) – DIE PROFEET. (Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17)


Joh 6:12-15 – “Nadat die mense versadig was, sê Hy vir Sy dissipels: ‘Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.’ Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: ‘Hy is werklik die Profeet, die een wat na die wêreld toe moes kom.’ Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.”


Vergelyk ook Heb. 1:1-2a – “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het hy met ons gepraat deur die Seun.”


Die bymekaarmaak van die kos wat oorgebly het, was ‘n Joodse gewoonte. Johannes beklemtoon dat dit porsies was “van die vyf garsbrode wat oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.” Dit het dus nie van elders gekom nie. Die brokstukke was beslis oorblyfsels van die seuntjie se karige bydrae wat hy na Jesus toe gebring het. Dit was nie veel nie maar wat hy gehad het kon Jesus gebruik. Die geskiedenis sou soveel armer wees indien daardie seuntjie geweier het om sy broodjies en vissies te deel. Jesus kan alles gebruik wat ons na Hom bring, al is dit nie veel nie. Miskien voel ons te verleë om die min wat ek het, na Hom te bring maar dit is geen verskoning om steeds te bring nie. Alles behoort buitendien aan Hom en my karige deeltjie kan dalk nét ‘n bydrae lewer om te help met koninkrykswerk. Min is baie in die hande van Jesus Christus!


Daar is meer kos na die tyd oor as wat daar voor die tyd was. Elke dissipel bring toe sy mandjie vol terug – ‘n mandjie vir elke dissipel? Toe die twaalf mandjies vol brood bymekaar was, het die grootheid van die wonder die mense laat besef dat Jesus werklik ’n gesant van God was. Die teken wat Jesus gedoen het, het die mense oortuig dat Hy die Profeet is wat sou kom (Deut. 18:15-19) maar nie net na die Jode nie, “na die wêreld.” Wat ons ook weet is dat die Here geneig is om nie nét presies dít te voorsien wat ons nodig het nie, maar ook méér. Hy is so onbeskryflik goed.


Jesus is egter groter as al die profete wat was en sal wees. God praat met ons op ‘n onoortreflike wyse deur Jesus Christus. Teenoor die heerlikheid van God se liefdestaal in Jesus verbleek alle ander maniere waarop God voorheen gepraat het. Johannes noem Jesus direk die “Woord van God” (Joh. 1:1). U sien, wanneer ons dink dat ons God se genade uitgeput het, dit nog nie naastenby uitgeput is nie! Ons kan nooit bedink hóé groot en goed Hy is nie.


Dit duur nie lank nie of die gedagtes van die mense verskuif van die Profeet na die koning. Hulle is oortuig dat Jesus ’n Man is deur wie God op ’n besondere wyse werk. Die hoop vlam op dat dit juis Hy is wat deur God gestuur is om die volk uit die Romeinse onderdrukking te bevry. Hulle het uitgesien na ’n koning wat die volk sou kon lei tot staatkundige onafhanklikheid en die koninkryk van Dawid sou herstel. Nou sien hulle in Jesus die regte man. Hulle wil Hom daar en dan Jerusalem toe neem en as koning proklameer. Maar Jesus sien hierdie beweging as ’n nuwe versoeking van die Satan (Matt. 4:8), en Hy ontwyk die mense deur “verder die berg op te gaan,” totdat Hy heeltemal alleen was.


Die massa was nie aan Hom verknog omdat hulle Hom as hulle Heer wou volg nie. Hulle wou iemand hê wat hulle kon bedien en na hulle sorge omsien. Hierdie Man, wat vir hulle so lekker verniet kos gee, Hý moet hulle koning wees! Só iemand kan mos al hulle probleme oplos. “Wat kan Hy nie als vir my doen nie!?”


Daar is vandag nog steeds baie mense wat Jesus verkeerd verstaan en só 'n tipe Jesus wil hê soos die destydse massa. Hulle wil hê só 'n Jesus moet Sondae van die kansel af gepreek word. 'n Jesus wat vir hulle kan bedien – wat dáár is vir hulle. Iemand wat hul hongerpyne kan stil of hulle Vryheidsvegter kan wees om hul polities te bevry. Terwyl die Jesus van die Bybel die Seun van God is, kan ons nie met ons moderne harte allerlei modelle van Hom maak wat nie ooreenstem met Wie en Wat Hy is nie. Hy het ons kom vry maak van die bande van die dood en die verderf. Gelukkig is Hy ook Voorsiener en sal Hy met liefde aan ons behoeftes voorsien op Sy manier en Sy tyd.


“Dit is só waar van sekere Christene. Hulle waardeer die etiek, is vertroud met die leerstellings, maar hulle het nog nie die innerlike geheim wat daaraan buitengewone waarde gee, ontdek nie” (Christian Alliance).


Gebed: Jesus, ons Here, baie van ons is soms só geneig om ‘n model aan U te koppel wat nie ooreenstem met U groot voorbeeld van ware menslikheid en moraliteit nie. Ons is geneig om te vra: “Wat sou Jesus doen?” Die probleem is dat baie van ons nie weet wat U sou doen nie, want hulle ken U nie. Dit is dan wanneer hulle U verander en reduseer tot die Jesus wat by hulle pas, die Jesus waarvoor hulle kans sien. Here, verander daardie harte sodat almal besef, U is die Seun van God. Laat ons leef met Christusharte. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page