top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 7 – KOM ONS VIER WAARDIGHEID (2) – JESUS HERSTEL PETRUS SE MENSWAARDIGHEID

Joh. 21:15-17 – “Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: ‘Simon seun van Johannes, het jy My lief, meer as hulle hier?’ ‘Ja, Here,’ antwoord hy Hom, ‘U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Laat my lammers wei.” Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: ‘Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?’ ‘Ja, Here,’ antwoord hy Hom, ‘U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Pas my skape op.’ Jesus vra hom die derde keer: ‘Simon seun van Johannes, het jy My lief?’ Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: ‘Het jy My lief?’, en hy antwoord Hom: ‘Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Laat my skape wei.


Vergelyk ook 1 Pet. 1:22-23 – Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers (en susters) ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”


Na Jesus se opstanding was Petrus verwonderd oor die leë graf. Hy het nie geweet wat om daarvan te dink nie en besluit om terug te keer na Galilea en voort te gaan met sy aanvanklike beroep as visserman. Jesus verskyn na Sy opstanding vir die derde keer aan Sy dissipels langs die See van Galilea. Hulle kon geen visse vang deur die nag nie en vroegoggend beveel Jesus hulle vanwaar Hy op die wal staan, om die nette aan die regterkant uit te gooi. Hulle het Hom nie herken nie. Die vangs is só groot dat hulle nie die net kon intrek nie. Die Lam van God het ontbyt vir Sy volgelinge voorberei en nooi hulle uit om saam met Hom te kom eet. Stel jou voor! Feitlik almal het verdwyn toe Hy gekruisig is, Petrus het Hom verloën maar steeds voorsien die versorgende Here aan hulle behoeftes deur vir hulle ontbyt voor te berei!!!


Jesus en Petrus het na die verloëning nog nie met mekaar gesels nie. Nadat hulle klaar geëet het, vra Jesus hom: ‘Simon seun van Johannes, het jy My lief, meer as hulle hier?’ Jesus noem hom op sy geboortenaam, die naam wat hy voor sy roeping en rotsbelydenis gehad het. Jesus sluit dus aan by sy oorspronklike roeping (Joh. 1:42) en roep om as’t ware by hernuwing, miskien om Petrus weer ‘n kans te gee om ‘n besluit te neem asof dit die eerste keer is. Hy herhaal die vraag drie keer aan Petrus, dieselfde hoeveelheid kere wat Petrus ontken het dat Hy Jesus ken. Jesus se herhalende vraag is om te verseker dat Petrus mooi moet dink en nie ‘n oorhaastige besluit neem nie. Daardeur gee Jesus hom weer ‘n kans om sy vroeëre liefdesverklarings aan Jesus te herhaal, die herinnering van die verloëning uit te wis en sodoende sy menswaardigheid te herstel.


Jesus het nie Petrus in ‘n beskuldigdebank ingebring en ‘n verslag geëis oor al sy sonde nie. Petrus hoef nie te verduidelik hoekom hy verloën het nie, inteendeel, Jesus hanteer Petrus se skuld deur hom drie keer te vra of hy Hom liefhet, want liefde maak vry. Beide van hulle weet waaraan Petrus skuldig is. Dit is belangriker om bevry te word van sy skuld as om op die sonde te fokus. Jesus hestel sy menswaardigheid – Hy “bevorder” hom tot diens as “sleuteldraer” van die kerk. Jesus gee hom ‘n “herder-opdrag” – onbaatsugtige diens; diens aan God; diens in God se koninkryk; diens aan mekaar; diens in liefde.


Die volgende stap in Jesus se strategie om Petrus te bevry van sy skuld is om hom ‘n geleentheid te gee om ‘n “commitment” te maak en te dien. Deur te dien genees die wonde van skuldgevoelens in Petrus se hart. Deur ander lief te hê, herstel Petrus van sy skuldgevoelens. Hy skryf self daarvan en noem hierdie herstelproses wedergeboorte. Dit is ‘n totale hartsverandering wat in hom plaasvind (1 Pet. 1:22-23).


Jesus herstel die kerk, die gemeenskap van gelowiges, deur Petrus vry te maak van sy skuld. Jesus se woorde van liefde daar op die strand langs die See van Galilea, verander Petrus in ‘n nuwe mens, die oue is verby – dit is die werk van God. Van watter skuldgevoelens moet Jesus jou vrymaak, sodat jy jou menswaardigheid voor God kan herontdek en ook aan ander, menswaardigheid kan gee? Hoe gaan jy dien? Hoe gaan jy aan ander, hul menswaardigheid gee?


Beteken dit ek moet nou vir elke dronklap en elke straatkind wat oor my pad kom gee wat hy my vra? Nee, nie noodwendig nie. Dit gaan oor werklike nood en werklike oplossing van die nood. Dit beteken dat wanneer iemand oor jou pad kom, jy bietjie tyd aan hom spandeer om hom te laat voel dat hy ook belangrik is vir God, en sodoende sy menswaardigheid weer herstel. God vra van jou om iets van jouself te gee, vrywillig, opreg en met liefde! Dit gaan nie oor jou nie maar oor God en die uitbreiding van Sy koninkryk. Maklik né. Nee, dit is nie, maar met die hulp van die Here deur Sy Gees, is dit moontlik!


“Om jou geloof te lééf, vra elke dag groot moed. Daarom kan ‘n gelowige nie sonder daaglikse gebed lewe nie” (William Thackeray).


Gebed: Dankie hemelse Vader dat U deur Jesus se dood aan die kruis en sy opstanding uit die graf, dit moontlik gemaak het vir ons om te word wie U wil hê ons moet wees. Here Jesus, U opstanding uit die dood is God se waarborg dat U my liefhet en my wil bevry van alles wat my menswaardigheid van my wegneem. Alles wat verhinder dat ek tot my volle reg kan kom. Here, ek sê so maklik: “Hier is ek, stuur my.” Maar waarheen en om wat te doen? Stuur my Here om ‘n sprankie waardigheid terug te gee aan hulle wat hoop verloor het, na hulle wat twyfel oor U bestaan en onseker is oor hulle redding. Dankie dat U my sal bystaan met U Gees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page