top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 7 – KOM ONS VIER WAARDIGHEID (1) – JESUS HERSTEL ONS MENSWAARDIGHEID

Joh. 1:14 – “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste seun, van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Vergelyk ook Matt. 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Hoekom het Jesus mens kom word en Homself hier op aarde eintlik in lyding kom dompel? Hoekom was Hy bereid om as Prins van die hemel, die Kind van die krip te kom word? Voor sy aardse geboorte moes Hy al ly – Sy aardse moeder, Maria moes op haar laaste, tydens haar swangerskap, reis vanaf Nasaret na Bethlehem – 112km op ‘n donkie se rug, veld voetpaadjies, geen straatligte, ontberings van son, koue, misdadigers langs die pad; Jesus was skaars gebore toe moes hulle vlug Egipte toe, weer op ‘n donkie se rug – dit kon nie maklik wees nie! Sy eerste rusplek was ‘n voerbak vir diere; Sy klerdrag dié van slawe; Sy beste vriende tollenaars, vissermanne en sondaars; Sy slaapplek was meestal die veld met ‘n klip as kussing; Sy dors te les deur Joodse grense af te breek en ‘n Samaritaanse vrou te vra vir water; Hoekom?

Hy het dit gedoen vir die menswaardigheid van die mens. Sy agenda was om sondaars, melaatses, siekes, prostitute, almal wat as die skuim van die aarde, soos deur mense-oë gesien, weer Godwaardig te maak!!! Sy grootste oorwinning was aan ‘n vloekhout om reg te maak vir die gemors wat ons aangevang het. Hy het besluit ons is Sy lyding waardig. Jesus het daardie verskriklike Vrydagmiddag tussen ons en God in beweeg en alleen en verlate – “My God, My God, waarom het U my verlaat? – die hemelse oordeel wat vir ons bedoel was, gedra. Jesus het mens kom word om ons Godwaardig te maak sodat alle gelowiges in Hom, ‘n permanente adres kan hê!! Wow!!! Is dit nie wonderlik nie? Jesus Christus is die enigste Geneesmiddel vir hierdie sterwende wêreld.

Daarom dat die Bybel herhaaldelik ‘n boodskap rig op die versorging van die wese en die weduwees, die omsien van die vreemdeling, die regspraak en regverdige hantering van mense wat nie self na hulle regte kan omsien nie. Die swakkes, die siekes, ook die slegtes en die sondiges. Mense wat swaarkry, mense wat wanhopig is, mense wat geen uitkoms sien nie. Maak vir hulle plek, bestee tyd aan hulle, breek alle grense af, verkonding die Blye Evangelie aan almal – juis ook aan hierdie mense wat nie sou kon dínk dat so ‘n bevrydende boodskap ook vir hulle geld nie. Ek het een aand vir ‘n boemelaar in Hillbrow, Johannesburg gevra of hy Jesus ken? Hy antwoord met ‘n vraag: “Is He white?” “My friend, it doesn’t matter whether He’s black or white, He loves you.” Sy agapé liefde herstel jou menswaardigheid, Hy het ook vir jou aan die kruis gesterf!

Jesus se Saligsprekinge op die berg langs die See van Galilea, eindig eintlik met een stuk onmoontlikheid (Matt. 5:10-12). Jesus stel ware dissipelskap op die voorgrond. Om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur, Hy bak nie mooi broodjies nie. Hy was eerlik dat dit nie maklik sal wees om Hom te volg en as dissipels in die koninkryk van God diensbaar, te wees nie. Menigte se lewenswandel is omvergewerp omdat hulle volgelinge van Jesus geword het. Hul Christenskap het hul sosiale lewe uiteengeskeur.

Mense kan ons teleurstel, “beledig, valslik beskuldig,” ons motiewe verkeerd verstaan en selfs verag en “vervolg”. Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en te dink. Neem ‘n oomblik om na te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal om ons te red!! Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om hulle wat Hy liefhet, se menswaardigheid te herstel nie. Dan raak vervolging geseënd want ons “doen wat reg is!” Dan kan ons saam met Paulus bly wees (Kol 1:24).

As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kan ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om ander na Christus te bring, moet ons gewillig wees om soos Hy verwerping te waag. Voor God staan ons met leë hande, totaal verlore, bankrot, daarom kan ons met hierdie bankrotskap, ons leë hande van geloof uitsteek na die gekruisigde Jesus Christus. Hy verander menswaardigheid na Godwaardigheid!

“Christus aanvaar ons soos ons is, maar wanneer Hy ons aanvaar, kan ons nie bly soos ons is nie”

(Walter Trobisch).

Gebed: O Heer, ek het verlange na méér. Ek is honger vir méér as driegangmaaltye op my tafel. Ek is dorser vir méér te drinke as wat beskikbaar is. Ek honger en dors na U self. Ek besit só baie, maar eintlik het ek só min, solank ek U nie het nie. Ek is só slim en praat baie, maar eintlik weet ek min, solank ek U nie ken nie. Ek smag na Iemand wat my deur en deur ken en my voed met die Brood van die lewe, Iemand wat Hom skaar by die veragtes en krag gee aan die swakkes. In U sien ek wat menswees waarlik is, verander mý ook Here, sodat ek deur U, ander se menswaardigheid kan erken. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page