top of page

E-Kerk - Gedagte vir vandag


WEEK 6 – RESPEK VIR MY VYANDE (2)

1 Pet. 2:12 – “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

Vergelyk ook Matt. 5:43-45 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”

Die Ou-Testamentiese vergeldingsreël, “ ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand,” (Eks 21:24), was bedoel vir die hof om grense te stel aan onbeperkte persoonlike vergeldingsaksies. In die gees van Lev 19:18, wys Jesus nou die skrifgeleerdes en Fariseërs se toepassing van die vergeldingsreël af, en benadruk dat ‘n mens in persoonlike verhoudinge, nie wraakgierig moet wees nie.

Jesus verwys hier nie net na die Vader nie maar beklemtoon “julle Vader in die hemel” (Matt. 5:45). Ons Vader wat in die hemel is wie se Naam nie sommer rondgeskommel word in die mond soos ‘n stuk kougom en deel van mens se asemhalingwoorde – “oh my God” – is nie of na verwys kan word as “die ou toppie daarbo” nie. Hy is ook nie iemand se “tjommie” nie, maar dieselfde Vader en God wie in Sy almagtige majesteit die son laat opkom oor almal, nie net oor die goeie mense nie en die slegtes in die donker laat nie – en dit sluit mense wat volgens ons oordeel, ons vyande is in, omdat Hy hulle ook geskep het.

God het nie ‘SY’ son gestop om op te kom nadat Hy dit geskep het nie, inteendeel, Hy onderhou dit nog steeds net soos Hy die mens onderhou. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand 17:27b-28). Dit sluit die slegte mense ook in. “Hy laat selfs reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” God was bereid om selfs Sy Seun prys te gee, nie net vir die goeies nie, maar veral vir die slegtes. Selfs vir Sy vyande, sterf Jesus aan die kruis met ‘n gebed van vergifnis vir hulle wat Hom nie liefgehad het nie.

Jesus kom nou met ‘n troefkaart hoe kinders van God moet optree. As Sy nuutgemaakte kinders dink en tree ons met ‘n ander gesindheid op teenoor ander. Ons herken die vyand (satan) se leuens en tree met onderskeidingsvermoë daarteenoor op. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van fisiese of sielkundige mishandeling deur ons aardse vyande. Ons bid selfs vir hulle dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons. Wat is ons en besit ons wat ons nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7). As Christus ons vrede is, beteken dit dat ons harte vol vrede moet wees. Hierdie vrede vind neerslag in elke faset van ons lewe. Ons gemoed en denke, ons wil, ons alles – is daarvan deurdrenk, want “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou” (Fil. 4:7).

Daarom is ons liefde vir ons vyand, God-gesentreerd. Ons vestig ons hoop, liefde, vrese, geluk, ons alles, op Hom – Hy is ons voortbestaan. “Ons moet daagliks streef om ter wille van ander, ‘n mens te wees omdat ons ter wille van God, ‘n mens is!” (Ds. Johan Smit). Ons kan nie, nee, ons mag nie, self-gesentreerd wees nie. Dit is om ‘n afgod van onsself te maak. God se son skyn oor “slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”

“Wedersydse vyandigheid is belaglik. Elke mens huisves pyn en hartseer. Ons het mekaar nodig” (H.W. Longfellow).

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, hoe kan ons bid vir die koms van U koninkryk, terwyl ons nog in ons eie koninkryk vasgevang sit? U asem gee lewe aan alles op aarde, U laat die son op sy tyd opkom en dit skyn oor almal. U spreek en die reën val, op almal. Skenk ons wysheid Here om te verstaan wat U ons wil leer – maak ons oplettend vir U boodskap van die liefde, om lief te hê – vir almal. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page